Share

Baba gebore, lus geblus

accreditation

Jy was veronderstel om bly te wees toe die ginekoloog ses maande ná baba se geboorte die groen lig vir seks gee. Maar pleks daarvan wens jy jy kan selibaat bly tot daardie einste baba sy mondigwording vier – want jy sien glad nie kans vir die liefdespel nie. Troos jou daaraan dat jy nie die enigste vrou is wie se sekslus saam met haar boepie verdwyn nie. Daar is ’n hele klomp redes daarvoor, maar gelukkig ook heelparty oplossings.

Die eerste 6 weke

Hoewel jou dokter dit vir jou gaan sê, is dit byna nie eens nodig om te hoor dat jy binne die eerste ses weke ná baba se geboorte nie seks behoort te hê nie. Jy is waarskynlik so besig met die nuwe bondeltjie vreugde dat seks die heel laaste ding is waaraan jy dink.

Dit maak ook geen verskil of jy ’n keisersnee gehad of normaal gekraam het nie. Tydens ’n normale geboorte word jou onderstel só gerek en gestrek dat jou lyf ’n volle ses weke nodig het om na normaal terug te keer. En met ’n keisersnee het jy ’n wond om aan te dink. Al lyk dit van buite af heeltemal gesond, moet jy steeds versigtig wees vir die wond aan die binnekant – daarom die realistiese verbod op die liefdespel in die eerste ses weke.

Maar seks kan selfs ná die eerste ses weke na jou baba se geboorte onplesierig wees, om die volgende redes:

Vaginale droogheid

Nuwe ma’s se postpartum-hormone, veral die wat met borsvoeding help, veroorsaak hewige vaginale droogheid. En selfs al voel jy hóé gereed, gaan jy waarskynlik sukkel met normale seks. Jy het nou skielik baie prolaktien in jou lyf en min estrogeen.

Navorsing het ook gewys dat vroue wat borsvoed ’n laer libido en minder behoefte het aan seks as ma’s wat bottelvoed omdat hul hormonale samestelling soveel verskil.

Boonop is vroue wat borsvoed beslis moeër omdat hulle meer gereeld in die nag moet voed en omdat borsvoeding fisiek dreinerend is.

Skeur of episiotomie

Volgens die boek Life After Birth deur Kate Figes kry twee uit drie vroue wat normaal kraam ’n skeur of ’n episiotomie. Altesaam 15 persent van dié vroue het steeds ’n pynlike perineum drie jaar nadat hulle die lewe geskenk het. Altesaam 10 tot 15 persent van vroue wat ’n keisersnee gehad het, sukkel om van die operasie te herstel.

Die gevolg is dat die meeste vroue in die eerste weke en maande ná ’n geboorte seks met penetrasie uiters pynlik vind.

Na ’n episiotomie of skeur aan die vagina swel die omringende weefsel en dit kan hewige pyn veroorsaak as die toewerksteke te styf is.

As jy vir langer as ses maande steeds pyn gedurende seks ervaar en dit neem nie af nie, moet jy jou dokter gaan spreek.

As die wond steeds baie rooi is of as daar ’n afskeiding met ’n vreemde reuk is, kan daar ’n infeksie wees wat mediese aandag moet kry.

’n Skeur of episiotomie wat nie goed toegewerk is nie, kan jou met ’n dik rif of letsel laat.

Geboorte-hulpmiddels

Die gebruik van ’n geboortetang of suier kan aansienlike interne kneusing veroorsaak en dit kan vir weke daarna nog gevoelig en seer wees.

Aambeie

Byna ’n derde van alle vroue ly aan aambeie ná die geboorte van ’n baba.

Aambeie – ook bekend as hemorroïde – is uitgesette are in die anale kanaal en kan uiters pynlik wees. Dit word veroorsaak deur swak bloedsomloop in dié area of vanweë die aanhoudende gedruk terwyl jy gekraam het. Maar aambeie kan ook voorkom nadat jy ’n keisersnee gehad het.

Daar is middels soos salf en setpille vir aambeie; gesels met jou dokter daaroor. As jy gereeld in warm water te bad, kan dit ook verligting bring.

Vaginale sproei

Omdat baie vroue wat klaar gekraam het antibiotika kry om die moontlikheid van ernstige infeksie uit te sluit, kom vaginale sproei taamlik algemeen voor omdat antibiotika die goeie bakterieë in die vagina vernietig.

En al drink jy nie antibiotika nie, kan geboorte die pH-balans van die vagina taamlik verander en dít kan ook sproei veroorsaak.

Die gejeuk en ongemak van sproei kan ’n groot passie-demper wees!

Nageboortedepressie

Selfs ’n ligte nageboortedepressie kan die belangstelling in seks aansienlik laat daal.

Antidepressante kan die gemoed dalk so ’n bietjie lig, maar hulle is ook daarvoor bekend dat hulle klaarspeel met die kleinste sweempie lus vir seks.

En ja, chroniese moegheid is ook ’n passiedoder.

En as pappa koud is?

Baie mans voel net so skrikkerig vir seks nadat hulle gesien het hoe hul wederhelftes die lewe skenk. Hulle is bang hulle maak haar seer en veral dat hulle haar weer swanger kan maak! ’n Pasgebore suigeling in die huis kan nogal die brein onwillekeurig laat fokus op die gevolge van (selfs die plesierigste en warmste) seks...

Dis jou houding wat tel

Volgens dr. Lorraine Becker, ’n ginekoloog van Rosebank in Johannesburg, is een van die grootste oorsake van min seks ná ’n baba se geboorte emosioneel.

“Die ma is moeg, prikkelbaar omdat sy min slaap en boonop tap die baba al haar fisieke kragte. Sy kry boonop genoeg fisieke nabyheid van haar baba,” sê Lorraine.

Haar raad is om vroeg reeds ’n plan te maak om tyd alleen saam met jou wederhelf deur te bring. Los die baba êrens, al is dit net vir ’n uur, en gaan doen iets alleen.

“Bad saam, masseer mekaar en sorg dat julle mekaar deurentyd vertroetel en liefkoos. Al het jy nie lus vir seks nie, is daardie fisieke kontak tussen ’n man en vrou uiters belangrik.

“Práát met mekaar. Vra hom hoe hy voel!”

Stres is een van die grootste redes waarom mense se lus vir seks verdwyn. Lorraine sê ’n mens moet jou stres probeer beperk en ’n manier vind waarop jy kan herlaai.

“En hou die TV uit die kamer. Dis een van die grootste seksdiewe van die moderne era. Mense behoort glad nie in ’n bed te lê en TV kyk nie. ’n Bed is daar vir seks en vir slaap.

“Maak tyd vir goeie voorspel. Vroue neem gemiddeld tussen dertien en dertig minute voor hulle ’n orgasme kan bereik”.

Wat jy nog kan doen

  • Gebruik ’n goeie vogmiddel soos KY-jellie as die perineale area baie sensitief voel.
  • Kies ’n posisie wat nie te veel druk op jou vagina uitoefen nie.
  • As moegheid jou grootste probleem is, probeer om liefde te maak wanneer die baba slaap of jy nie te moeg voel nie.
  • Eet gesond en drink baie vloeistof. Rus as jy kan.
  • Doen bekkenvloer-oefeninge om die spiere in jou vagina weer styf te maak.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE