Share

Hoe om 'n gelukkige huwelik te hê

accreditation

Kom ons wees maar eerlik: ouerskap is 'n voltydse werk, en dit verander jou huwelik dramaties. Maar jou huwelik is ook die fondament waarop jou hele familie gebou is, en as julle twee se verhouding sterk is, sal die hele familie sterk wees. Jou lewe sal meer vreedsaam wees, jy sal 'n beter ouer wees, en jy sal meer pret in die lewe hê!

Maak daai besluit

Om 'n sterk huwelik te onderhou moet jy bereid wees om tyd en energie daarin te ploeg. Moenie bekommerd wees nie, jou kinders sal nie afgeskeep word nie – inteendeel, hulle sal floreer!

Die verbasende geheim is dat dit nie enige ekstra tyd hoef op te neem nie, jy's besig genoeg. Al wat dit verg is 'n nuwe houding en 'n sterk fokus. Lees die volgende aanbevelings en pas dit toe oor die volgende 30 dae. Evalueer dan weer jou verhouding. Ek waarborg jou julle sal albei gelukkiger wees.

Soek die goeie, ignoreer die slegte

Jy't met hierdie persoon vir 'n klompie goeie redes getrou. Jou maat het baie wonderlike eienskappe. Die eerste stap om bietjie vonk in jou huwelik terug te sit is deur die goeie in hom of haar weer raak te sien, en maar bietjie blind te speel vir die res.

Maak 'n gewoonte daarvan om die irriterende klein dingetjies te ignoreer – jy weet, die vuil kouse op die vloer, 'n dag oue koppie koffie op die tafeltjie, die ewige geklets op die foon – en besluit om uit te kyk vir dié dingetjies wat jou laat glimlag: die manier waarop hy op die vloer rondrol saam met die kinders, die feit dat sy jou gunsteling koekies gemaak het.

Gee 2 komplimente elke dag

Noudat jy besluit het om die goeie in jou maat raak te sien, is dit tyd om dit te sê! Dis die goue sleutel tot jou geliefde se hart.

Dink net daaraan. Wanneer jou liefling sê, "Jy's die beste. Ek's so bly ek het met jou getrou," laat dit jou nie net meer geliefd voel nie, dit laat jou ook meer liefdevol teenoor hom of haar (en die wêreld) voel.

Speel mooi

Dit klink dalk snaaks, maar dink bietjie daaroor. Hoeveel keer sien jy, of ervaar jy, dat eggenote ongeskik en kras met mekaar praat, in wyses waarop hulle nooit eers met 'n vriend sal praat nie?

Ons steur onsself dikwels min aan ons geliefdes en is soms kortaf sonder om dit te bedoel. Onthou wat Bambi se vriendjie Thumper gesê het? "As jy nie iets moois oor iemand kan sê nie, moet dan liewers niks sê nie."

Kies waaroor jy wil stry

Hoe gereeld hoor ons hierdie stukkie raad? Dis goeie advies as mens kinders grootmaak – en ewe goeie raad om in die huwelik te volg. In enige menseverhoudings sal daar onenigheid en konflik wees. Die geheim is om te besluit watter kwessies die baklei werd is, en watter eintlik maar oorgesien kan word.

Die 60-sekonde drukkie

Mens kan maklik 'n nuutgetroude paartjie uitken aan die manier waarop hulle nie hul hande van mekaar kan afhou nie – dis hande vashou, styf teenaan mekaar sit, die arm aanraak, soen – net soos wat mens kan sien wie die ou getroudes is.

Dis veral ma's wat dikwels minder behoefte aan fisiese kontak met hul eggenote het omdat hul babas en jong kinders soveel geleentheid bied vir liefkosing dat hulle teen die einde van die dag "tasvervuld" is.

So hier's 'n eenvoudige wenk: doen moeite om jou eggenoot meer dikwels aan te raak. 'n Streel, 'n drukkie, 'n soentjie, 'n skouermassering... dit wek 'n lekker gevoel in beide van julle.

Gesels met en luister meer na jou maat

En ek bedoel nie, "Onthou om Jimmy se rugby-uniform op te tel," of "Ek het 'n ouervergadering vanaand," nie.

Nee, kom in die gewoonte om jul gedagtes te deel oor wat jy in die koerant gelees het, wat julle op TV kyk, wat jou drome en jou bekommernisse is. Let veral op daardie dinge wat vir jou eggenoot interessant is, en vra vrae. Luister dan ook na die antwoorde.

Dit kan baie moeilik wees vir 'n huwelik om te floreer as julle die heeltyd "Mamma" en "Pappa" is. Julle moet ook gereeld tyd as "man" en "vrou" saam spandeer. Dit beteken nie jy moet 'n 2-week vakansie in Hawaii bespreek nie, alhoewel dit ook lekker kan wees!

Gebruik net die klein rukkies gedurende die dag wanneer jy sonder onderbreking 'n gesprek kan voer, of selfs net stil-stil saam kan wees, sonder 'n baba op die heup, 'n kind wat aan jou broekspype trek of 'n tiener wat smeek om die karsleutels.

'n Daaglikse oggendstappie om die blok of 'n koppie tee saans nadat die kinders in die bed is kan wondere verrig om julle twee weer te konnekteer.

En ja, dis heeltemal in order om oor julle kinders te gesels wanneer julle alleen saam tyd spandeer, want hulle is darem een van die belangrikste bande wat julle in jul verhouding het.

Wanneer jy en jou eggenoot gereeld tydmaak vir mekaar en konnekteer op 'n manier wat julle verhouding koester, sal jy dalk net opnuut die liefde tussen julle, en sommer 'n verfrissende energie ook, ontdek, wat jou sal help om 'n beter, meer liefdevolle ouer te wees.

Jy skuld dit aan jouself, jou maat en jou kinders, om jou verhouding te vertroetel.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE