Share

V&A: Vreeslike twees...

accreditation

Kindersielkundige Naomi van Wyk antwoord:

Dit is ‘n uitdaging wanneer jou dierbare babatjie skielik ‘n wil van sy eie ontwikkel. Skielik voel dit asof jy niks reg kan doen nie! Daar is min dinge so onredelik soos ‘n kleintjie wat amper 2 jaar oud is.
 
Die eerste raad wat ek vir jou kan gee is om dit nie persoonlik op te neem nie. Dit is ‘n normale ontwikkelingsfase waar jou kleinding begin leer dat hy apart van jou in die wêreld staan en die vermoë het om dinge te doen sonder jou.

Dit is dikwels vir kleintjies (en sy mamma) ‘n groot uitdaging, hy wil alles self aanpak, maar het nog nie die woorde of die vaardighede om homself te kan uitdruk of help nie. Dit lei tot groot frustrasie, en hierdie frustrasie word op jou uitgehaal, omdat jy die naaste aan hom is en hy heeltemal verseker voel van jou liefde en sorg – nie omdat jy iets verkeerd doen of hy kwaad is vir jou nie.
 
Die tweede raad wat ek vir jou het is om nie te skrik vir sy tantrums nie. Dit is nie naastenby so erg soos wat dit lyk of klink nie. Kinders kom absuluut niks oor van ‘n bietjie skreeu nie, en hulle is nog na genoeg aan die grond om ook niks oor te kom van ‘n paar keer se neerval en voete skop nie. Slaan en skop en gooi, voel dalk vir jou erg, maar is ook vir so ‘n kleinding glad nie te vreeslik nie.

As jy self benoud raak oor sy ‘tantrums’ en dit wys, kry hy die boodskap dat tantrums erg is en daarom ‘n goeie manier is om sy sin te kry.
 
Daar is verskeie maniere om tantrums te hanteer. Ek vind dat om dit so veel as moontlik te ignoreer is baie effektief. As hy begin met ‘n tantrum, bly rustig en kalm, sê vir hom rustig: "Mamma sien jy’s kwaad, as jy klaar geskreeu het sal ek jou help." Draai jou rug op hom of verlaat die vertrek as dit veilig is om hom alleen te los.

Deur hom vreeslik te probeer troos, of dit beter te probeer maak, of deur te raas – gee jy aandag aan die tantrum. Met kinders is die goue reël – dit wat jy voed, kry jy meer van. Dit beteken dat die gedrag waaraan jy aandag gee, gaan vermeerder. En raas, pak slae, terug skreeu en kwaad word is ook aandag gee.

As hy iets doen wat heeltemal onaanvaarbaar is vir jou, byvoorbeeld om jou te skop en slaan, of om goed te breek, kan jy vir hom duidelik sê "nee" en hom fisies verwyder na ‘n plek waar hy nie skade kan aanrig nie.
 
Hy is nog te klein vir lang verduidelikings oor wat aanvaarbare gedrag is en wat nie. Enige vorm van preek sal heeltemal bo sy koppie verbygaan. Vir nou, wees ferm en rustig en gee aandag wanneer hy dit regkry om hom goed te geddra.

Dit ‘terrible twos’ het ‘n vreeslike reputasie, maar is eintlik so ‘n wonderlike tyd. Dit is die tyd wat jy jou kind as ‘n individu kan begin leer ken, nie meer net as ‘n baba nie. Jy begin tekens sien van die mensie wat hy gaan word en dit kan baie vreugdevol wees. Ek het baie moed dat jy gaan regkom. Kinders grootmaak is ‘n steil leerkurwe en beslis nie vir sissies nie.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE