Share

Emosionele ontwikkeling

accreditation

Hoe hanteer jy teleurstelling? Hartseer? Woede? Konflik?

Dís alles emosionele vaardighede wat jou voorskoolse kind onder die knie moet kry – en hy leer dit alles by jou, sê Rina de Klerk, ’n Gautengse kenner van emosionele intelligensie. Hoe jy jou en ander mense se gevoelens hanteer, is dus baie belangrik.

“As jy dit kan regkry om die emosionele intelligensie in jou gesin te verhoog, kan jy sorg dat julle almal beter toegerus is om enige uitdaging die hoof te bied,” sê Rina.

Sy sê emosioneel intelligente kinders is gewoonlik beter in staat om hul potensiaal te verwesenlik, kom beter met hul maats oor die weg en het minder gedragsprobleme. Hulle baklei ook minder met hul ouers en wys respek vir ander se emosies, waardes en persepsies. Hulle kan hulself laat geld en beter weerstand bied teen slegte invloede.

So ’n kind sal ook ...

  • oor selfkennis beskik, positief oor homself dink en voel en bereid wees om te waag.
  • in staat wees om sy gevoelens te ken, aanvaar, beheer en in woorde om te sit. Hy sal negatiewe denkpatrone kan herken en dit deur meer konstruktiewe denkpatrone kan vervang.
  • terugslae as deel van die lewe aanvaar, uit sy ervarings leer, en makliker daarvan herstel.
  • goed nadink oor besluite wat hy moet neem en geskille met ander mense konstruktief kan oplos.
  • minder negatiewe en meer positiewe gevoelens ervaar.

Emosionele ontwikkeling, jaar vir jaar

0 tot 2 jaar

Jou baba se heel eerste uitdrukking van emosie is om te huil en later om te glimlag, sê Rina.
“Teen 3 maande het hy reeds ’n wye raamwerk van gesigsuitdrukkings en sal hy dit begin benut om jou aandag te kry.”

Rina beklemtoon dat jou reaksie op jou baba se emosies die boustene vorm van sy vermoë om later empatie te hê en verhoudinge te bou. “Wat hy hier leer, is dat een mens ’n invloed op ander se emosies kan hê.”

Jou eie emosies is nou baie belangrik, sê Rina. “Jou baba het nog geen insig of emosionele beheer nie. Hy begin emosionele seine aanleer deur jou en jou maat se reaksies. Dis belangrik dat jy baie oogkontak maak en reageer op jou baba se emosies. Gee erkenning aan sy ontwikkelingspogings, bestee tyd saam met hom en maak saam pret. Gesels deurentyd met hom en neem hom saam op uitstappies, ook in die natuur.”

Rina beveel aan dat jy vanaf 6 maande daarop fokus om jou kind se gevoelens te bekragtig. “Raak jy moeg?” “Voel jy hartseer?” Dis ook die tyd wanneer skeidingsangs begin.

“Jou kind leer nou basiese gevoelens soos hartseer of geluk ken. Gee hom sekuriteit en roetine. Jy is die rolmodel, selfs in dié vroeë stadium. Prys hom vir elke poging en wees trots op wat jou kind bereik.”

2 tot 3 jaar

Jou aspatat kan nou al sy gevoelens in woorde begin uitdruk en begin om oor emosies na te dink. Tog kan hy nog op frustrasie reageer deur te huil, skop of te byt, of deur woedend te raak as jy hom teregwys.

Gee jou kind beperkte keuses, raai Rina aan, en bekragtig sy emosies. “Jou eie emosionele beheer is noodsaaklik, aangesien jy moeilik kan dink hoe om ’n saak reg te hanteer terwyl jou eie gevoelens met jou weghardloop. Onthou om jouself altyd af te vra: ‘Wat is my einddoel?’ en ‘Wat wil ek hê moet my kind hieruit leer?’ Dan is dit soveel makliker om te weet hoe om op te tree.”

4 tot 5 jaar

Jou kind ervaar nou al dieselfde emosies as jy en gee onbeteueld uitdrukking daaraan deur gedrag, soos om lekker te lag of in woede uit te bars. Die riglyne vir aanvaarbare gedrag is nou baie belangrik. Hy sal dit geniet om gehoorsaam te wees en hy blom as jy hom prys.

Jou kind se “innerlike gesprek” ontwikkel ook nou en dit beïnvloed sy verstandelike beheer. Hy leer ingesteldhede oor reg en verkeerd. Tipies van hierdie ouderdom is verskillende vrese, soos ’n vrees vir die donker. Bekragtig sy emosies en stel hom gerus. Glo in jou kind se vermoëns en moedig hom aan.

6 tot 7 jaar

Groepsbetrokkenheid is nou vir jou kind belangrik en hy kan al reëlgebonde speletjies speel. Jou kind wil “in” wees, sê Rina. “Help hom om by die groep in te pas. Skep geleenthede vir interaksie met ander kinders.”

Hy kan ook nou soms meer emosioneel wees en sy gevoelens lug eerder as beheer. Hy kan vir omtrent al sy gevoelens al ’n naam gee.

Jou kind floreer op lof en aanvaarding. Lees vir hom stories waaruit hy ’n lewensles kan leer en werk harder om hom te help om sy gevoelens te verstaan en beheer.

Noem dit by die naam

Dis uiters belangrik dat jou kind moet kan sê hoe hy voel, sê Rina, maar ongelukkig het kinders dikwels ’n baie klein gevoelswoordeskat wat wissel tussen hartseer, kwaad en gelukkig.

Emosies gee ’n mens inligting gee oor jou behoeftes en denke. Jy kan dus nie ’n klomp verskillende emosies dieselfde naam gee nie, want hoe gaan jy weet wat werklik jou behoefte is en wat die denkpatroon is wat jy moet wysig?

Volgens Rina is daar verskeie maniere waarop ouers kinders kan help om hul gevoelens beter uit te druk

  1. Wees ’n rolmodel deur jou eie emosies in woorde om te sit. Onthou dat daar ’n verskil is tussen die emosies verwoord en gedrag. Alle emosies is aanvaarbaar, maar nie alle gedrag nie. Jy mag sê jy is teleurgesteld omdat hy nie sy huiswerk gedoen het nie, maar jy mag nie skree omdat jy kwaad is daaroor nie.
  2. Blaai saam met jou kind deur ’n tydskrif en vra hoe hy dink die mense op die prentjie voel en hoekom hy so sê.
  3. Vra hom om voor ’n spieël te staan en verskillende gesigte te trek en help hom dan om die emosie te benoem. Jy kan lekker saam gesig trek!

As dit by seuntjies kom ...

Dis steeds nie ongewoon vir mense om te meen dat seuntjies nie mag huil nie, maar Rina beklemtoon dat dit belangrik is dat ook seuntjies toestemming moet kry om te huil en hul emosies te wys.

“Hulle ervaar dieselfde gevoelens as meisies en as hulle dit onderdruk, kan dit hul immuunstelsel ondermyn, hulle kan obsessiewe gedrag ontwikkel of ontplof en totaal oorreageer vanweë onderdrukte emosies,” verduidelik sy.

“Onthou, jou emosies gee die energie wat jou motiveer – dis ’n onlosmaaklike deel van jou menswees.”

Die moeiliker emosies

Dis heerlik om positiewe gevoelens soos geluk en vreugde in jou kinders te sien, maar vir die meeste van ons is negatiewe emosies soos woede, frustrasie of hartseer moeiliker om te hanteer.

Rina beklemtoon dat negatiewe emosies net so belangrik is soos positiewe emosies. Sy sê die goue reël is weer dat alle gevoelens aanvaarbaar is, maar nie alle gedrag nie.

Hier is haar riglyne

  1. Word bewus van jou kind se emosie. Luister met aandag en empatie.
  2. Erken die emosie as ’n geleentheid vir intimiteit en ’n geleentheid vir jou om jou kind nuwe vaardighede te leer wat hy later gaan nodig hê wanneer jy nie daar is nie.
  3. Help jou kind om die woorde te vind wat sy emosie benoem, soos “Voel jy hartseer?”
  4. Help hom om oor sy persepsies te praat en dit te toets: “Hoekom dink jy sy hou nie van jou nie?”
  5. Moedig hom aan om nie op sy aanvanklike gevoelens te reageer nie, maar eers oor die groter geheel na te dink en dan te besluit oor die beste optrede.
  6. Laat jou kind eers self oplossings bedink en voeg dan jou idees by deur saam ’n dinkskrum te hou. Stel grense vir die oplossing van die probleem gegrond op gesinswaardes. Vra eers: “Wat sal jou laat beter voel as jy hartseer/kwaad/gefrustreerd is?” Doen dan gepaste uitlaatkleppe vir sy gevoelens aan die hand. “Hoekom teken jy nie ’n prentjie van hoe jy voel nie?” of: “Kom ons gaan ry fiets om stoom af te blaas.”

‘Hy is woedend oor sy speelding’

Situasie: “My seuntjie (2) se maatjie het sy gunsteling-karretjie gebreek. Hy is woedend daaroor en wil hom net te lyf gaan.”

Rina se oplossing: “Ons moet onthou woede is ’n sekondêre emosie. Onder die woede was hy dalk baie teleurgesteld en hartseer omdat sy gunsteling-karretjie gebreek is. Hy het empatie nodig: ‘Jou hart is baie seer omdat jou karretjie gebreek is. Dink jy ons moet volgende keer jou gunsteling-goed eerder bêre wanneer die maatjie kom kuier?’

As hy steeds kwaad is, laat hom ’n kussing slaan of op sy skopfiets ry om die liggaamlike uitwerking van sy gevoelens te verwerk.

‘Sy is hartseer oor haar pappa’

Situasie: “Elke keer wanneer my man vir werk moet weggaan, huil my dogtertjie (4) hartverskeurend.”

Rina se oplossing: “Jy kan haar help deur haar voor te berei en haar gevoelens te bekragtig: ‘Dit lyk vir mamma of jou hart altyd baie seer is as pappa weggaan, want jy mis hom. Wat dink jy kan ons doen om dit makliker te maak? Dink jy ons kan vir hom ’n briefie en ’n foto van jou saamgee, of moet ons ’n video maak waarop hy vir jou boodskappies gee, of moet ek jou help om elke aand vir hom ’n boodskap te SMS?’ "

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE