Share

Begroot vir jou baba

accreditation

Kinders verander jou lewe; ook die manier waarop jy jou geld uitgee en jou begroting beplan, want dinge wat dalk voorheen vir jou baie belangrik was, is nou glad nie meer nie, en daar is nuwe uitgawes wat jy moontlik nie verwag het nie.

Goeie beplanning is nodig om te sorg dat jou finansies nie ‘n tameletjie word nie. Ons het raad van finansiële spesialiste ingewin, met ma’s gesels en verskeie verskaffers gebel om te help sommetjies maak.

Let wel: Al die bedrae wat ons noem, is gemiddeldes, bereken volgens die pryse wat ons gekry het by minstens twee van die groot babawinkels in Suid-Afrika. Jy kan dus al die genoemde items teen ’n goedkoper of hoër prys bekom. Ons lys is beslis nie bedoel om aan jou voor te skryf wat om te koop nie. Wat julle nodig gaan hê, hang onder meer af van jul begroting, of jy gaan borsvoed en watter
idees julle oor kind grootmaak het.

Begroot VOORAF vir dié eenmalige uitgawes:

Babakamer

’n Bababed. Die prys hiervan wissel geweldig. Begroot enigiets van R2 000 tot R25 000 (ja, jy kan so ver gaan!). Die meeste ma’s met wie ons gesels het, het ongeveer R2 000 bestee aan ’n bababed van
goeie gehalte. As die geld knyp, kan jy die bed eers koop wanneer baba drie maande oud is, want voor dan slaap sy baie gemaklik in ’n drabedjie.

’n Goeie matras kos gemiddeld R250, maar jy kan tot R600 bestee. Jy het ook minstens twee stelle lakens en hope kombersies nodig (maar moenie begin koop voor jou ooievaarsteeparty nie – mense
gee graag komberse as ’n geskenk).

Vergeet gerus van mooi duvetoortreksels en kussingslopies. Babas gebruik nie hierdie soort beddegoed nie. Begroot sowat R400 vir lakens en komberse, ’n bufferkussing (cot bumper) en ’n spesiale wiggie (R50) wat jou baba help om nie om te rol nie, ingesluit.

Die meeste ma’s skaf ook ’n doeketafel (compactum) aan, hoewel jy enige tafel met ’n lekker groot werkoppervlak en die regte hoogte hiervoor kan inspan. Sit net ’n plastiekbedekte matjie bo boop.
’n Regte doeketafel kos gemiddeld R2 000, maar jy kry ook kleineres op wiele teen R600.

Reken ook die volgende in:

  • ’n Babamonitor teen sowat R600
  • ’n Plastiekbedekte mat vir doeke ruil teen sowat R100
  • ’n Naglampie of -liggie teen ongeveer R80
  • ’n Muskietnet teen ongeveer R80
  • ’n Wieg- en/of borsvoedingstoel as jy gemaklik wil borsvoed: sowat R1 500
  • ’n Gewone emmer met ’n deksel (R100) of ’n spesiale doeke-asblik wat sowat R700 kos. Begroot gemiddeld R200.

Die buiteperde

  • Nuwe gordyne, kaste, ’n rak of enige vorm van pakplek wat daar nie voorheen was nie, kan jou ook ’n klomp geld uit die sak jaag.
  • As jy nie ’n ekstra bed het nie en graag een in die babakamer wil hê, sal jy ook dit moet gaan koop.
  • ’n Verwarmer vir ’n winterbaba se kamer: Die totaal is in die omgewing van R6 300, buiteperde uitgesluit. Jy kan amper R3 000 spaar as jy dink jy kan sonder die wieg- of borsvoedingstoel en ’n spesiale doeketafel klaarkom.

Badtyd

  • Bababad en emmer (indien jy in die kamer gaan bad): R400
  • ’n Badstoeltjie of -ring (as julle in die groot bad gaan bad): R100
  • Twee stelle handdoeke (wag ook met hierdie aankope tot ná jou ooievaarsparty – handdoeke is nog ’n gunstelinggeskenk!): R60
  • Toiletware: R110
  • Die totaal is R270-R570.

Op die pad

’n Goeie karstoeltjie is ononderhandelbaar. Begroot R1 000 hiervoor, maar hou in gedagte dat karstoeltjies dikwels ingesluit is by ’n stootwaentjie. Maak jou somme om vas te stel of ’n alles-in-eenstel goedkoper is of nie.

  • Stootwaentjies se pryse wissel geweldig. Jy kan ’n tamaai 4x4-waentjie koop vir ongeveer R5 000, of iets doodgewoon maar heeltemal voldoende vir R1 800. Die gemiddeld is dus sowat R3000.
  • ’n Drabedjie: R300
  • ’n Kampbedjie kos van R400 tot R2 000, maar dan is ander items ingesluit. Begroot R800.
  • ’n Baba-drasak (ook genoem ’n pouch of abbasak): R300

Die totaal is sowat R5 400, maar jy kan meer as R500 spaar deur die drasak eers te los en ’n goedkoper, maar steeds veilige stootwaentjie en karstoeltjie te koop.

Net vir baba

  • Klere: van rekpakkies en frokkies (waarvan jy minstens vier stelle elk nodig het) tot mussies, sokkies en uitgaanpakkies: R 1 500
  • Doeke, vogdoekies en boudjiesalf: Aanvanklik sal jy sowat 10 doeke per dag gebruik. Begroot sowat R450 per maand vir goeie doeke, en voeg nog R150 by vir die afveedoekies en boudjiesalf. Terloops, dit sal jou niks in die sak bring om goedkoop doeke te koop nie, want dié irriteer babas se boudjies en lei net tot groter onkoste met boudjiesalf. Goedkoop doeke moet meestal ook meer gereeld omgeruil word.
  • 'n Slaapsak vir baba: R250
  • ’n Basiese medisynetassie wat onder meer ’n naelknipper, medisynedrupper en koorspen insluit, asook chirurgiese alkohol, watte, Panadostroop, soutwater- neusdruppels en krampwater: ongeveer R300
  • Spoegdoeke van handdoekstof of moeselien: Jy het minstens ses nodig. ’n Pak van drie kos ongeveer R40. Begroot dus R80.
  • Bottels: Jy kry oulike beginnerspakke met sowat drie bottels, ’n bottelskoonmaker en formulemelkhouers vir R250. Koop ’n blik formulemelk by. Begroot R350.
  • ’n Bottel- (en kos-) verwarmer: R 1 000
  • Stoomsteriliseerders: R200 vir een wat in die mikrogolf werk en R700 vir ’n elektriese een.
  • Borspomp: ’n Elektriese een kos gemiddeld R900 en ’n handpomp R 600.
  • Borsmelk-houers vir berging van melk: sowat R120 vir drie houers.
  • Fopspene se pryse wissel van R25 tot R50 vir een. Koop ’n paar.
  • Borslappe: Ses is oorgenoeg. Begroot R45.

Die buiteperde

  • Lekker maar nie broodnodig nie, is ’n CD- speler vir die babakamer, en natuurlik ’n paar CD’s. Begroot sowat R300 hiervoor.

Die totaal is in die omgewing van R5 000, maar jy kan R500 of meer spaar deur uit te kyk vir spesiale aanbiedinge en beginnerspakke bottels, spoegdoeke, borslappe ensovoorts. ’n Hand-borspomp en mikrogolf-steriliseerder is goedkoper as hul elektriese weergawes. Jy kan selfs sonder ’n steriliseerder oor die weg kom deur jou bottels in ’n pot kokende water of die skottelgoedwasser te steriliseer.

Net vir jou

Voedingsbra’s, borsdoekies en tepelroom (as jy gaan borsvoed): Twee bra’s kos ongeveer R250 en ’n pak van 36 goeie borsdoekies kos R45. Jy kan ook wasbare borsdoekies gebruik teen R40 ’n paar. ’n Groot buis goeie tepelroom kos sowat R100

Babasak. Jy kan die een gebruik wat jou mediese fonds of die hospitaal vir jou gegee het óf jy kan jou eie koop. As jy modebewus is, sal jy R500+ moet uithaal.

Die totaal is sowat R900.

Daaglikse uitgawes

In die eerste drie jaar kan jy verwag om minstens R1 500 per maand uit te gee aan die versorging van jou kind. Dit sluit onder meer doeke, sakkies om doeke in weg te gooi, formulemelk (later ook vaste kos
waar jy terloops kan spaar deur jou eie te maak), badgoedjies en groter klere in.

Ons het die som so gemaak:

2 groot pakke doeke (R420) + 4 blikke formulemelk (R400)
4 pakke vogdoekies (R80)
2 groot houers boudjiesalf (R80).
Voeg so R150 vir kos by (30 potjies Purity @ R5 ’n potjie en babapap teen R15 per pak)
R30 vir sakkies om doeke in weg te gooi
en sowat R250 vir klere.

Die totaal is min of meer R1 500, maar jy kan minstens R150 spaar deur:

  • Die lekkerruik-plastieksakkies net vir vuil doeke te gebruik.
  • Af en toe sommer net ’n nat waslap te gebruik om boudjies mee skoon te vee, en uit te kyk vir goedkoper produkte – daar is deesdae baie op die mark.
  • Jou eie babakos te maak. Dit is boonop gesonder.

Terug werk toe

Hoewel jy (en ’n baie gewillige ouma) vir die eerste paar weke self na jul baba gaan omsien, gaan daar ’n dag kom dat jy moet teruggaan werk toe. Begroot só vir die versorging van jou baba by die huis of by ’n dagsorgplek.

By die huis

Volgens Cherona Vlok van Edu Babe in Durbanville behoort ouers sowat R2 000 tot R2 300 per maand te begroot vir ’n kinderoppasser wat by hulle in die huis bly. ’n Oppasser wat nie inwoon nie, behoort tussen R2 300 en R3 000 te verdien.

As jy byvoorbeeld net drie dae per week iemand gaan nodig hê, moet jy minstens R120 per dag vir die oppasser begroot. Jy sal ook ’n eenmalige plasingsfooi moet betaal. Dit wissel van R2 300 tot R3 300.

Die buiteperde, maar gelukkig net eenmalig:

Sowat R1 600 vir ’n noodhulpkursus.

’n Agentskap wat namens jou by die werkloosheidsversekeringfonds eis. Begroot tussen R500 en R750 hiervoor. Gaan loer by www.momsuifassist.co.za.

Die totaal is sowat R2 000 per maand en ongeveer R2 500 eenmalig, die buiteperde uitgesluit.

By dagsorg of speelgroep

Skoolgeld is nie speletjies nie. Begroot maandeliks sowat R1 500 (halfdag) en R1 600 (voldag) vir ’n kind van drie tot 24 maande. Dít sluit gewoonlik ontbyt, middagete en ’n laatmiddagbroodjie in. Onthou
dat daar ook eenmalige uitgawes is voor jy jou kleinding stuur, soos ’n kombersie en matrassie, ’n lêer en boeke.

Begroot ongeveer R250 hiervoor.

Daar is soms ook kwartaallikse uitgawes soos sneesdoekies, toiletpapier, vogdoekies, papier en gom.

'n Aand uit

Baba-oppassers met geen formele kwalifikasie nie maar twee jaar ondervinding vra sowat R35 per uur. Dié met kwalifi kasies en meer as twee jaar ondervinding vra ongeveer R40 ’n uur terwyl au pairs
ongeveer R55 per uur vra.

Gesondheid!

  • Jou baba moet lid van jou mediese fonds word. Dit kan gemiddeld ’n bykomende R400 per maand kos.
  • Een besoek aan die pediater kos gemiddeld R500 (’n huisdokter sowat R250). As jou baba gesond is, moet julle ten minste op ses weke, ses maande en een jaar dokter toe gaan. Begroot dus minstens R1 500 vir ’n jaar (R125 per maand).
  • Inentings en kliniekbesoeke is gratis as jy na staatsklinieke gaan. Inentings by privaat klinieke is duur, sowat R500 op ’n slag vir die vaksien en ’n konsultasiefooi. In die eerste drie maande sal jy jou baba elke maand vir ’n inenting moet neem. Begroot minstens R4 000 vir alles in die eerste 18 maande (ongeveer R200 per maand oor 18 maande). Let wel: Jou mediese fonds kan hierdie uitgawe dek.
  • Begroot beslis ook vir medisyne. Hoeveel per maand sal natuurlik van kind tot kind verskil. Kinders wat na ’n speelgroep of dagmoeder gaan, word dikwels meer gereeld siek. Jy sal gelukkig gou leer watter medisyne standaard in jou kas moet wees.

Die maandelikse totaal kan tot R800 wees. Sommige ma’s reken ’n mens kan selfs tot R1 500 uitgee as jou kind gereeld siek is en die mediese fonds nie ’n spaarplan vir medisyne insluit nie. Jy kan maklik
R1 500 op lang termyn spaar as jy na ’n staatskliniek toe gaan vir die verpligte inentings.

Vier spaarplanne

Begin nou al spaar vir jou kind se skoolgeld, sê Gcinisizwe Ndebele van die beleggingsmaatskappy Stanlib. Universiteitsgeld kan in 2020 meer as R90 000 per jaar beloop, maar dit hoef nie onbekostigbaar te wees as julle nou al begin spaar vir haar onderrig nie.

Gcinisizwe se top-spaarplanne is:

1. Fundisa: Jy belê ’n minimum van R40 per maand in ’n Fundisa-rekening en kry jaarliks ’n hupstootjie van die regering! Ja, hulle onderneem om 25% van die totaal wat jy elke jaar spaar, by te dra.

Die voordeel van Fundisa is die klein minimum bedrag en natuurlik die regeringsondersteuning. Die nadeel? As jy jou Fundisa-rekening toemaak voor jou kind na ’n tersiêre instelling gaan, verloor jy alles wat die regering bygedra het.

2. Effektetrusts (by ’n beleggingsmaatskappy): Jou spaargeld (so min as R50 ’n maand) word saam met ander mense s’n deur ’n beleggingsmaatskappy iewers anders belê om meer geld vir julle almal te verdien. Die voordeel is die moontlikheid van veel hoër en vinniger groei as met ’n gewone spaarrekening.

Jy kan jou geld ook enige tyd uit ’n effektetrust haal (wat ’n voor- én nadeel kan wees).

3. ’n Spaarrekening net vir opvoeding (by ’n bank): Span so ’n rekening in net soos enige ander spaarrekening. Dra soveel by soos wat en wanneer jy kan. Die voordeel van dié plan is sy buigsaamheid, maar die nadeel is dat jou geld stadig gaan groei. Dit is ook nie ’n goeie plan vir ongedissiplineerde spaarders nie.

4. ’n Polis net vir opvoeding (by ’n versekeringsmaatskappy):
Die klein hoeveelhede geld wat jy elke maand spaar word in die aandelemark belê om jou geld vinniger te laat groei. Die geld wat jy spaar moet tussen vyf en 15 jaar daar bly, en dan kan jy dit vir jou kind se skoolgeld begin aanwend.

Dié plan is ’n goeie een vir mense met min dissipline as dit kom by geld wegbêre. Daar is ook verskeie belastingvoordele verbonde aan dié manier van spaar.

Baba word groter

  • Teen sowat nege maande oud sal jy ’n groter karstoeltjie (tussen R700 en R3 000) moet koop, asook ander bottels en koppies (sowat R200) en ’n eetstoeltjie (enigiets van R500 tot R2 000). Maak jou gereed om minstens R1 700 vir alles op te dok.
  • ’n Jaar of wat later het julle ’n potjie nodig vir toiletlesse. Jy kan enigiets tussen R30 en R300 hieraan bestee (die goeie nuus is dat die doek-uitgawes nou minder word).
  • En wanneer die bababed te klein word, moet jy ’n enkelbed met ’n reling koop. Begroot in die omgewing van R2 000 hiervoor.
  • Die totaal oor ’n tydperk van twee jaar is ongeveer R3 700.

Veels geluk liewe maatjie

Verjaardagpartytjies kan jou ’n klomp geld uit die sak jaag, tensy jy koelkop bly en nie oorboord gaan met ’n tema en die gastelys nie. ’n Verjaardagkoek, eetgoed, verversings en vermaak vir 10 kinders kan jou sowat R1 200 uit die sak jaag.

Jy kan ook ’n partytjiebeplanner kry wat ’n partytjie by jou huis vir jou kom hou of na ’n spesiale partytjieplek gaan waar alles vir jou gedoen word. Dít kan enigiets vanaf R90 per kind kos.

Begroot sowat R1 500 per jaar, die verjaardaggeskenk uitgesluit.

Speel kindjie speel

’n Speelmat sal jou baba van sowat drie maande af tot ten minste 11 maande groot pret verskaf, en kan later weer op ander maniere ingespan word. Dit kos enigiets van R200 tot R900. Begroot dus ongeveer R500.

Een speelding van goeie gehalte kos tussen R30 en R200. Jy kan vooraf speelgoed koop, maar dis eintlik beter om te koop na mate jou kind groter word, want as ’n ma sal jy baie beter kan onderskei waarvan kinders regtig hou en waarvan nie.

Intussen moet jy maar hoop jou familie en kinderlose vriende dra speelgoed aan. Probeer ook om nie op jou gevoel te laat speel met die slim bemarking van speelgoed nie – speelgoed kan nie regtig
jou kind slimmer maak nie. As jy genoeg dissipline het om net een keer speelgoed vir byna ’n leeftyd te koop, kan jy die hoogs aangeskrewe Practicaprogram aanskaf.

Hiervolgens koop jy opvoedkundige speelgoed vir die eerste sewe jaar wat alles daarop gemik is om jou kind skoolgereed te maak. Ons het Practica se webtuiste besoek (www. practicakids.co.za) en met ’n paar lojale gebruikers gesels en kon dít vasstel:

’n Hele houtkis vol ouderdomspesifieke speelgoed, meestal van hout gemaak, tesame met ’n handleiding vir ouers oor wanneer en hoe om die speelgoed te gebruik, kos R7 000. Daar is verskeie
betaalopsies. Begroot sowat R1 700 per jaar vir vermaak.

WAT MA’S SÊ

GOEIE ONDERRIG IS DIE GROOTSTE PRIORITEIT

Noelani King Conradie, ’n onafhanklike ekonoom en ma van drie, besef maar alte goed dat ouers net die beste vir hul kinders wil gee. Volgens haar is dinge soos kos en klere vanselfsprekend. By watter winkel jy dié dinge koop, hang af van jou inkomstegroep.

Dit maak egter nie saak of jou kinders klere van Keedo en Naartjie of Ackermans en Pep dra nie, meen sy. “Die etiket in hul broek gaan nie sorg dat hulle ’n sukses van hul lewe maak nie. Gehalte-onderrig
en goeie tuisopvoeding is wat eendag in die werkplek die kaf van die koring gaan skei.

Goeie opleiding is seker die beste geskenk wat jy aan jou kinders kan gee, van kleuterskool af tot by
tersiêre opleiding.” Noelani sê alles dui daarop dat die koste van hoëgehalteonderrig net verder gaan styg namate ouers dalk genoodsaak word om hul kinders na privaat skole of uitstekende C-klasstaatskole (die soort wat deur beheerliggame bestuur word) te stuur.

“Die kostes van baie van hierdie skole, vir primêre sowel as sekondêre onderrig, is reeds meer per jaar as wat dit kos om ’n kind op universiteit te onderhou. Kleuter- en laerskool is waarskynlik die belangrikste, want dit is in die vroeë jare dat jou kind gevorm word.”

Wat kos goeie onderrig?

Privaat laer- en hoërskool: R40 000 tot R80 000 per jaar vir dagskoliere.

’n Privaat hoërskool waar jou kinders ook loseer: sowat R140 000 per jaar.

Gewone model C-skole: sowat R2 000 per maand vir laer- en hoërskool.

Wenk: As jy nou ’n paar rand vir skoolgeld opsy begin sit, kan jy die las later baie ligter maak. Enigiets van R200 tot R400 ’n maand kan ’n verskil maak.

DINK VOORUIT

Christelle Pansegrouw, nog ’n Kaapstadse ma, reken ’n mens moet altyd onthou dat kinders nie vir altyd klein gaan bly nie. “Ek het ’n wipstoeltjie vir R400 gekoop en gedink ek het my huiswerk goed gedoen. Eers heelwat later het ek gesien die stoeltjie is net gemaak vir babas tot en met 8 kg. Vir slegs R200
meer kon ek een koop waarin my kind tot omtrent driejarige ouderdom kon sit!”

Dieselfde geld vir iets soos ’n bottelverwarmer: As jy een koop wat ook later jou baba se kos kan warm maak, kry jy baie meer waarde vir jou geld.

GROEN IS GOEDKOPER

’n Durbanville-ma van twee, Carin Burger, gebruik lapdoeke pleks van weggooidoeke en spaar elke maand baie geld. Sy spaar ook op lang termyn omdat sy die lapdoeke wat sy met haar oudste se geboorte gekoop het, ook vir haar tweede kind gebruik.

“Ek het binne ses maande my aanvangskoste ‘afbetaal’,” sê Carin. Dié koste was sowat R2 100
in 2007 en is só bereken:

  • 18 lapdoeke teen R100 ’n doek. Mother Nature se doeke is verstelbaar en hulle herstel ook doeke wat begin verweer gratis.
  • Drie waterdigte broekies teen R70 elk (Carin het later goedkoper soorte bygekoop).
  • ’n Pak van 100 lapvoerings wat gewas kan word.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE