Vars volgraan-pizza
WENK: Pak al die bolaag-bestanddele uit en laat elkeen sy eie pizza bou.
JY HET NODIG
VOLGRAANDEEG
- 10 g (1 pakkie ) kitsgis
- 2,5 ml (½ t) suiker
- 375 ml (1½ k) louwarm water, of genoeg om ’n sagte deeg te vorm
- 500 g volgraanmeel
- ’n bietjie olie
- sade soos 15 ml (1 e) sonneblomsaad en 15 ml (1 e) lynsaad
- sout
TAMATIEBASIS
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 knoffelhuisies, gekneus en fyngekap
- 2 houertjies pasata
- growwe sout en varsgemaalde swartpeper
- ’n hand vol vars basiliekruid
MAAK SO
- Roep die kinders. Begin meng: Plaas die gis, suiker en water saam in ’n groot mengbak. Voeg die meel by die water en meng tot ’n deeg begin vorm.
- Plaas die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak en knie tot dit blink en elasties is. Smeer die deeg met ’n bietjie olie, plaas in ’n groot bak, bedek met ’n kombuisdoek en laat vir sowat 1 uur op ’n warm plek rys.
- Begin intussen met die tamatiebasis: Verhit die olie in ’n kastrol en braai die knoffel tot ligbruin. Voeg die pasata by, geur met sout en peper en maak deurwarm. Verwyder van die hitte en roer die basiliekruidblare by.
- Voorverhit ’n plat bakplaat in die oond tot 200 °C. Verdeel die deeg in vier ewe groot stukke en rol dit op ’n meelbestrooide werkvlak uit.
- Plaas een basis op die warm bakplaat en bak vinnig in die oond tot halfgaar. Ver-
wyder uit die oond en verhit intussen weer die bakplaat. Bou nou die pizza terwyl jy die ander basis solank halfpad bak: Smeer die tamatiebasis op die halfgebakte basis en pak jou gunsteling-bestanddele (sien langsaan) bo-op. Bak vir 10 – 15 min of tot die kaas goudbruin is en die pizza bros.
Idees vir pizza-bolae:
- Vleis soos parmaham, coppa-ham, gerookte hoender en brosgebraaide spek
- Kaas soos mozzarella, ricotta, feta, parmesaan en bokmelkkaas
- Vis soos gerookte salm, geblikte tuna en ansjovis-filette
- Vars groente soos kersietamaties, avokadopeer, aspersies en rooi uie
- Geroosterde groente en vrugte soos botterskorsie, soetrissies, eiervrug, murgpampoentjies,
sampioene en pynappel - Kruie soos roket, waterkruid, salie en balsemkruid
DINK SLIM
- Verdubbel die pizzadeeg-resep en bak die ekstra pizzas tot halfgaar. Hou dit in die vrieskas vir ’n vinnige middag- of aandete.
- Spaar tyd deur klaarbereide tamatiesous te koop. Ina Paarman se produkreeks het ’n heerlike tamatie-pastasous wat goed werk op pizza. Indien die gekoopte sous te loperig is, kan jy dit vir ’n paar minute afkook.
- As jy baie min tyd het, kan jy klaarbereide brooddeeg by jou naaste supermark-bakkery koop.