Stief-families: myne, joune, ons s'n
Hoe bewerkstellig jy en jou nuwe man harmonie tussen jul kinders uit vorige huwelike wat nou noodgedwonge onder een dak moet saamleef? 3 kundiges gee raad.
Source

Kort ná haar egskeiding ontmoet Magdaleen ’n nuwe lewensmaat. Hy vul soveel leemtes wat haar vorige man nie kon raaksien nie en sy sweef op wolke. Haar driejarige seuntjie aanvaar hom versigtig, maar haar vyfjarige dogtertjie raak teruggetrokke en kry onverwagte en ontydige woedeuitbarstings.

Magdaleen gaan ook aanpassings moet maak met ’n nuwe sesjarige tweeling in die huis wat haar elke nou en dan goed laat verstaan dat sy nie hulle ma is nie.

Hoe ontlont Magdaleen ’n potensieel plofbare situasie en sorg vir vrede in haar nuwe gesin? Baba & Kleuter het by 3 kundiges aangeklop: Minette du Plessis-Emmerich, ’n opvoedkundige van Centurion; Truida Botha, ’n opvoedkundige sielkundige van Fairland, Johannesburg; en Nolene Rust, ’n spelterapeut by die Kindertraumakliniek in Pretoria.

1. Goue riglyne  

“Dit is vir niemand maklik nie, en daarom is dit belangrik om uit die staanspoor met realistiese verwagtinge by ’n hersaamgestelde gesin in te stap,” sê Nolene. “Elkeen in die nuwe gesin is daar met ’n unieke persoonlikheid, unieke ervarings en unieke gevoelens om die verlies ná ’n egskeiding of dood van ’n ouer of lewensmaat te verwerk.

"Verder moet ouers ook nog die verskillende ontwikkelingsfases van kinders in gedagte hou en gedragspatrone wat in die vorige gesinsopset aangeleer is.”

Nolene waarsku dat ’n nuwe gesin die kinders se ervaring van die egskeiding of afsterwe baie finaal maak. “Wees bewus daarvan en sensitief daarvoor dat die stiefverhouding selfs moeiliker is as om ’n reeds uitdagende biologiese-ouerrol te vertolk.”

Stiefverhoudings ontstaan nie op dieselfde manier as biologiese verhoudings nie en is uit die kinders se oogpunt op verlies gebou.

Volgens ons drie kundiges geld die volgende algemene riglyne:

  • “Sorg dat jy as ouer die egskeiding of dood van jou lewensmaat verwerk het en emosioneel gereed is om ’n nuwe huwelik te betree,” sê Truida.
  • Besef dat jou kinders kan sukkel om die nuwe gesinstruktuur te aanvaar. Wees geduldig.
  • Praat openlik en eerlik met jou kinders oor die egskeiding, nuwe verhouding en nuwe gesinstruktuur.
  • Skep gereeld die geleentheid vir jou kinders om hul emosies en onsekerhede met jou te bespreek. Hou dikwels gesinsvergaderings om pobleme vas te stel en die hele gesin te betrek om oplossings hiervoor te vind.
  • Neem aan gesinsaktiwiteite deel wat almal betrek.
  • Bespreek ouerskapsverskille waar die kinders nie by is nie. Moet nooit voor kinders verskil nie – hulle kan dit tot hul voordeel uitbuit. Dit kan ook gevoelens van onsekerheid, angs en magteloosheid versterk.
  • Hou in gedagte dat kinders maklik “vervang” en nie “bygevoeg” voel nie.
  • Skep geleentheid vir daaglikse een-tot-een-interaksie met jou biologiese kind. Dis ’n belangrike manier om jul verhouding te bevestig en in stand te hou. 
  • Skep ’n gesinsatmosfeer waar almal in die huis ewe belangrik voel.
  • “Respekteer die behoefte aan persoonlike ruimte sowel as privaatheid; veral in gesinne waar kinders skielik kamers moet deel. Voorsien die kind byvoorbeeld van ’n mooi kassie waarin hy sy persoonlike besittings kan hou,” sê Minette.
  • “Wees taktvol wat jou en jou lewensmaat se fisieke verhouding betref. Kinders is baie bewus daarvan wanneer hul ouers ’n nuwe lewensmaat ontmoet,” sê Truida. 
  • Belê in jul nuwe verhouding of huwelik. Dit is belangrik dat jou kinders weet dat jy gelukkig is.

2. Wat ’n nuwe stiefma en -pa moet weet

Die kinders het die moeilikste en hardste werk in die nuwe gesin weens al die aanpassings en verliese waarmee hulle gekonfronteer word, sê Nolene. “Verseker hulle daarvan dat die stiefouer net nog ’n ekstra mens in hul lewe is om hulle lief te hê en glad nie die rol van die ander biologiese ouer kan of gaan vervang nie.”

Dis ook belangrik om jou kinders gerus te stel dat hulle nie tussen ouers hoef te kies nie.

“Dis ook nie stiefouers se verantwoordelikheid of rol om die kinders se seer van die verlede te probeer oplos of daarvoor pa te staan nie,” sê Nolene.

Sowel die pa as die ma wat mekaar se kinders in die huis verwelkom moet dit met ’n oop gemoed doen, sê Truida. “Moet egter nie jouself en jou ouerskapstyl verander om by die nuwe gesinstruktuur in te pas nie. Wees jouself.”

Volgens Minette is dit belangrik om ’n verhouding met die stiefkinders te vestig en te “onthou dat konflik tussen medespruite, soos in enige ander gesin, nie noodwendig ongesond is nie”.

Stiefouers moet daarop bedag wees dat hulle ’n plek in die stiefkind se wêreld moet verdien. Dis daarom belangrik om ook dinge saam met jou stiefkinders te doen waarvan hulle hou om die verhouding so ’n kans te gee om te ontvou.

“Dis ook kardinaal dat jy as stiefma die kroon op hulle biologiese ma se kop erken, want so verwerk die kinders die egskeiding vinniger. Hulle kry die boodskap dat jy “OK” is met hulle mamma, wat beteken dat jy ook “OK” is met hulle.”

Die nuwe pa se rol is om voorspelbaarheid en roetine vir die kinders te help vestig.

Wees ’n goeie voorbeeld en bring tyd met die stiefkinders deur sodat jy later outoriteit verdien op grond van jul verhouding en nie op grond van die gesagsposisie wat jy as volwassene beklee nie, sê Nolene.

3. Dissipline

Die sleutel tot dissipline is kommunikasie tussen die nuwe ouerpaar. Truida en Minette stel voor dat die biologiese ouer aanvanklik kwessies wat direk met sy of haar eie kinders verband hou, hanteer.

Namate die hersaamgestelde gesin gevestig raak en die verhouding tussen die stiefma of -pa en die kind groei, kan dié ouer meer betrokke raak by die dissiplinering van die kinders.

Dis belangrik om een stel reëls in die huis te hê en al die kinders dieselfde te hanteer. Dit maak dit maklik vir die kinders om te weet wat van hulle verwag word en skep ’n veilige ruimte waarbinne hulle gelief, gerespekteer en aanvaar voel. Behandel die kinders ook gelyk en regverdig, sodat een kind nie voel dat ’n ander voorgetrek word nie. Dit skep konflik, sê Minette.  

Ouers in ’n hersaamgestelde gesin se grootste uitdaging is om dieselfde ouerskapsbenadering te hê en saam te stem oor dissipline. “Wat vir een ouer se kinders geld, moet ook vir die ander ouer s’n geld,” sê Nolene.

Praat voortdurend met mekaar hieroor. Julle is nou die nuwe ouereenheid en mag nie teen mekaar afgespeel word nie – julle moet saamstaan. As jy enige besluit wat jy oor die kinders geneem het herroep, ondermyn dit jou gesag.

4. Moontlike gedragsprobleme

Nolene stel dit kort en kragtig: “Ouers moet regtig voorbereid wees op enigiets.” Kinders reageer vanuit hul eie verlies, persoonlikheid, lewensfase en verwysingsraamwerk – dis anders vir elkeen. Party kinders trek terug in hul dop en ander skop, skree, slaan en breek.

“Kinders se gedrag, aanpassing en emosies in die nuwe gesinskonteks hang af van hul ouderdom, persoonlikheid, intellek, streshanteringsvaardighede, die konteks van die egskeiding tussen die biologiese ouers en die emosionele stabiliteit van daardie ouers. Rebellie, opstand, woede, onsekerheid, hartseer, twyfel, magteloosheid, vrees en emosionele uitbarstings is van die tipiese gedrag en emosies wat kan voorkom,” sê Truida.  

Die gesin is in ’n oorgangsfase van die bekende na die onbekende. Minette noem 4 gedragsimptome wat moontlik kop kan uitsteek.

  1. Gevoelens van verraad, veral waar ’n huwelik verbrokkel het weens ’n derde party.
  2. Jaloesie omdat die biologiese ouer ’n permanente verhouding met ’n nuwe eggenoot en stiefkinders aanknoop.
  3. Aggressie omdat die kind se herenigingsfantasie oor sy 2 biologiese ouers nou finaal uitgewis is en omdat hy voel sy ouer dwing hom om nuwe aanpassings in sy lewe te maak.
  4. Verwarring en onsekerheid oor sy rol in die hersaamgestelde gesin.

Jou kind moet verstaan dat al is sy emosies aanvaarbaar, is sekere gedragspatrone – soos om mense seer te maak – dit nie, sê Nolene. Sorg dat jou kind ’n gesonde alternatief het om stoom af te blaas soos om ’n bokssak te slaan. “Jou voorbeeld speel ’n groot rol; wees dus versigtig wat jy voor jou kinders met jou eie emosies doen.”

5. Wat kinders van hul ouers verwag

  • Wys sensitiwiteit wanneer ’n nuwe lewensmaat in jou kinders se lewe inkom.
  • Ma en Pa moenie mekaar voor kinders slegsê nie.
  • Gee vrye toegang tot kontak (foonoproepe, SMS’e, e-pos) met die biologiese ouer waarby die kind nie woon nie, tensy mishandeling betrokke was.
  • Wees geduldig met hul verwerkingsproses en die emosies wat hulle ervaar.
  • Kinders wil nie vergeet voel nie.
  • Hulle verwag en smag na gehalte- en alleentyd met sowel hul ma as pa.
  • Regverdigheid is ’n sterk behoefte – kinders moet dieselfde hanteer word.
  • Berei hulle behoorlik voor op die “nuwe” gesinskonteks.
  • Sorg vir konsekwentheid, struktuur en roetine.
  • Kinders wil gehoor word en grense en voorspelbaarheid moet daargestel word om hulle veilig te laat voel. Al dink kinders nie hulle het grense nodig nie, dra die gebrek daaraan die boodskap oor dat hulle ouers nie lief genoeg vir hulle is nie.
  • Julle kan verder veiligheid skep deur die kinders van sekere praktiese reëlings te verseker, soos waar elke kind se fisieke privaat ruimte is, wie watter dele van die versorging gaan hanteer en wie die rondrywerk gaan doen.
  • Voorsien nuwe ervarings en verantwoordelikhede. ’n Kind wil sy nuwe gesin positief beleef en saam dinge ervaar sodat hy herinneringe kan opbou.
  • Wanneer ’n kind weet wat sy verantwoordelikhede is en wat van hom verwag word, help dit hom om eenheid en hiërargie te verstaan en waar hy inpas.

 6. Tipiese slaggate

  • Ma en Pa verskil oor dissipline of reëls voor die kinders.
  • Hulle speel “my kinders” teen “jou kinders” af.
  • Skuldgevoelens oor die egskeiding laat hulle oorkompenseer, soos deur reëls te verslap.
  • Hulle stel hul eie kinders se belange eerste om vir die trauma van die egskeiding te vergoed.
  • Die stiefouer ervaar die stiefkind se teenstrydige gevoelens jeens hom of haar persoonlik en neem nie in ag dat die kind nog deur sy verlies werk nie.
  • Die band tussen die biologiese ouer en kind word nie gerespekteer nie.
  • Sensitiewe sake soos dalende skoolpunte word voor die ander met die biologiese kind bespreek.
  • Daar word voortdurend gesinsaktiwiteite van al die kinders verwag sonder om alleentyd met biologiese kinders in te ruim.

Read Parent24’s Comments Policy

24.com publishes all comments posted on articles provided that they adhere to our Comments Policy. Should you wish to report a comment for editorial review, please do so by clicking the 'Report Comment' button to the right of each comment.

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.
NEXT ON PARENT24X
 
 
 
 
Directories

Everything from parties to pre-schools in your area.