Hormone op horings
Daar’s die onplesierige newe-effekte: Jou gemoed ry wipplank, daar brand ’n kool vuur in jou bors en jou tienerpuisies is terug. Maar daar’s ook die heerlike verrassings: Borste wat voorheen twee Disprins op ’n strykplank was, bars nou uit jou bra.
Hormone
Source

Vroue wat altyd taamlik ongenaakbaar was, word skielik gul, koesterende mense. Al dié veranderinge is die gevolg van meer as dertig hormone wat deur ’n mens se liggaam bruis terwyl jy swanger is en waarvan die eintlike werk is om ma en baba se gesondheid te verseker. Ons bekyk ’n paar van die belangrikstes. Reeds voor bevrugting plaasvind span jou hormone saam om ’n gunstige omgewing vir jou baba te skep – en sodra daardie eier- en spermsel ontmoet, trek hierdie chemiese boodskappers met oorgawe los om te verseker dat die regte dinge op die regte tyd gebeur om jou nege maande gesond te laat verloop. hCG: die swangerskap-alarm Een van die eerste hormone wat hul opwagting maak, het die intimiderende lang naam menslike chorioniese gonadotropien (hCG), maar staan ook algemeen bekend as die swangerskapshormoon. Dié  hormoon is net tydens swangerskap teenwoordig en word daarom vir swangerskapstoetsing gebruik. Dit kom in jou bloed en urine voor. Of jy dus ’n tuisswangerskapstoetsie inspan of ’n bloedtoets by ’n dokter laat doen – as hCG teenwoordig is, is jy swanger! Net ’n paar dae nadat die bevrugte eiersel aan die wand van die baarmoeder vasgeheg het, begin die splinternuwe plasenta hCG vervaardig. Die hoeveelheid hCG neem geweldig vinnig toe en bereik teen dag sewentig ’n hoogtepunt. Daarna daal die vlak en handhaaf die hormoon ’n lae profiel vir die res van jou swangerskap. HCG se belangrikste taak is om te sorg dat die steroïedhormone estrogeen en progesteroon steeds vervaardig word. Daarsonder sal jou progesteroonvlak weer daal en sal jy weer menstrueer. Namate die plasenta meer volwasse word en self die produksie van estrogeen en progesteroon kan oorneem, neem hCG-produksie af. As jy ’n sondebok soek vir daardie aaklige oggendnaarheid en die geweldige moegheid wat jou in die eerste trimester platslaan, blameer maar hCG. Dis ook die hormoon wat jou elke vyf minute toilet toe stuur en dit onderdruk jou immuunstelsel om die risiko te verminder dat jou liggaam die baba verwerp – wat jou in dié tyd meer vatbaar vir siektes maak. Estrogeen: beter bloedvloei en seer borste Estrogeen is seker die bekendste vroulike hormoon en word regdeur jou swangerskap vervaardig. Hoe verder jou swangerskap vorder, hoe meer estrogeen bruis deur jou lyf. Dié groep hormone word gewoonlik in die eierstokke vervaardig, maar tydens swangerskap word dit ook deur die plasenta gemaak en speel dit ’n sleutelrol in ’n gesonde swangerskap. Dit help bloedvloei na die baarmoeder aan, ondersteun baarmoedergroei en onderhou die baarmoeder-voering – alles om seker te maak jou baba het die ideale groeiplekkie. Estrogeen help met beter bloedsomloop en sorg ook dat jou bloedvolume teen week tien begin toeneem. Daarby aktiveer en reguleer dit die vervaardiging van ander sleutelhormone, onder meer progesteroon. Baba baat ook by estrogeen: Dit help om sy organe te ontwikkel en is later onder meer verantwoordelik vir die ontwikkeling van vroulike geslagseienskappe. Dit reguleer ook die beendigtheid in baba se ontwikkelende arms en bene. Dis estrogeen wat, saam met ander hormone, veroorsaak dat jou borste vroeg in jou swangerskap seer of gevoelig is en dat hulle begin uitsit – alles ter voorbereiding vir borsvoeding later. En terwyl estrogeen met soveel belangrike take besig is, het dit ongelukkig ook ’n paar minder plesierige newe-effekte, soos die permanente toe neus wat jy soms het terwyl jy swanger is, en selfs kopseer en postnasale drup. Die ekstra toevloei van bloed kan ook jou vel rooi en kollerig laat lyk en jou handpalms laat jeuk. Blameer gerus ook maar estrogeen (saam met ’n paar ander hormone) vir die pigmentasie wat nou oral uitslaan: donkerder tepels, soms ’n bruin streep op jou maag, en donker vlekke om jou oë.  Progesteroon: hou baba binne Progesteroon word ook baie belangrik terwyl jy swanger is, want dit voorkom dat jou baarmoeder die fetus spontaan aborteer deur ’n “voering” op te bou wat die plasenta kan ondersteun. Dis weer baie belangrik vir baba se voeding- en suurstoftoevoer. Aanvanklik word progesteroon deur die eierstokke vervaardig, maar vanaf die tweede trimester word dit ook deur die plasenta gemaak. Voor jou swangerskap trek jou baarmoeder dikwels van nature saam en beweeg dit, maar in jou swangerskap help progesteroon om dié manewales te voorkom. Dit help jou baarmoeder om te swel en plek vir jou groeiende baba te maak. Namate jou swangerskap vorder, styg jou progesteroonvlak – tot net voor die geboorte, wanneer dit daal om die baarmoeder kans te gee om saam te trek. Progesteroon stimuleer die groei van borsweefsel en is saam met estrogeen verantwoordelik vir die gevoeligheid in jou borste vroeg in die swangerskap. En ja, progresteroon is nie net goeie nuus nie: Al die progesteroon in jou lyf span saam met die hormoon relaksien om die gladde spiere te beïnvloed. Dis waarom die klep tussen jou maag en keel soms nie lekker werk nie en jy sooibrand kry, veral in die derde trimester. Progesteroon en relaksien kan ook kraakbeen versag, wat gewrigte en ligamente los maak en allerhande heup- en bekkenpyne kan veroorsaak. Daarby verslap dit die spysverteringstelsel en blaas, wat kan lei tot hardlywigheid en winderigheid. Dit kan jou tandvleis laat bloei en jou vir die eerste keer ná jou tienerjare weer aknee gee. En dit kan jou meer as gewoonlik laat sweet! Prolaktien: oefen vir borsvoeding Prolaktien is verantwoordelik vir die vermeerdering van melkproduserende selle in jou bors. Terwyl jy swanger is, keer progesteroon en estrogeen dat melk gemaak word, maar sodra baba gebore word, val dié hormoonvlakke dramaties en kan die prolaktien met melkproduksie begin. Prolaktien vermeerder geleidelik soos jou swangerskap vorder en daar word vermoed dat die toenemende estrogeen in jou lyf die vervaardiging van dié hormoon aanhelp. Prolaktien help keer ook later keer dat jy swanger word terwyl jy borsvoed – maar dis beslis nie ’n betroubare voorbehoedmiddel nie, soos baie ma’s al tot hul skok moes agterkom! Natuurlik is daar ook ’n minder lekker kant: Prolaktien kry onregstreeks die skuld vir al daai ekstra hare op jou gesig, maag en ander dele van jou lyf. Dié hare verdwyn gelukkig geleidelik ná die geboorte.
Relaksien: ontspan en geniet dit Vroeg in jou swangerskap word relaksien vrygestel. Dit hou baarmoeder-bewegings in toom en versag ook die serviks ter voorbereiding vir die geboorte. Soos hierbo gesê, werk dit saam met progesteroon om jou spiere, ligamente en gewrigte te laat ontspan, veral in jou bekken. So berei dit die weg voor waarlangs jou baba sal reis wanneer hy gebore word. Maar die verslapping van al dié spiere kan soms nogal seer wees en rugpyn en ander skete veroorsaak.
Oksitosien: o vir omgee Oksitosien word soms die towerhormoon genoem, want dis blykbaar verantwoordelik vir die koesterende gedrag van nuwe ma’s en pa’s. Op ’n meer praktiese vlak is dit ook verantwoordelik vir die gereelde kontraksies van die baarmoeder terwyl jy swanger is – soos Braxton-Hicks-sametrekkings – en dis die hormoon wat uiteindelik die kontraksies vir jou bevalling laat begin. Kontraksies tydens borsvoeding word ook toegeskryf aan oksitosien en sal help dat jou baarmoeder terugkrimp na sy oorspronklike grootte. 
Nog ’n paar . . .
Menslike plasentale laktogeen (hPL) word ook deur die plasenta vervaardig en help die gesonde ontwikkeling van die fetus verseker. Dit help jou borste om vir borsvoeding gereed te maak en kolostrum – daardie belangrike eerste melk – uit te skei. Daar is ’n verband tussen te min hPL en klein babatjies omdat dié hormoon jou metabolisme so help organiseer dat jy meer suiker na baba kanaliseer. Die skildklierhormoon tiroksien help jou om meer suurstof op te neem en werk saam met groeihormone om baba se groei te stimuleer. Dis ook baie belangrik vir die gesonde ontwikkeling van baba se sentrale senustelsel. Tiroïedstimulerende hormoon sorg vir die vrystelling van tiroïedhormone, wat jou metabolisme reguleer. Insulien beheer die metabolisme van kos deur jou en jou baba. Soos jou swangerskap vorder, raak die insulien minder doeltreffend omdat dit nie meer by die glukose-lading kan byhou nie. By sowat 2 tot 4 persent van vroue veroorsaak dit tydelike swangerskapsdiabetes. Kortisol help met die ontwikkeling van baba se longetjies en vermeerder geleidelik in die derde trimester van swangerskap. Aan die ander kant het studies getoon dat te veel kortisol, wat die liggaam se streshormoon is, kan inmeng met die werking van progesteroon. Dit speel ook ’n belangrike rol in leer en geheue. 
Bronne
Verloskunde deur C.F. Slabber, W.D. Brummer, A.A. Visser en J. du T. Zaaijman (Akademia). Obstretics deur Stanley G. Clayton, T.L.T. Lewis en G. Pinker (Edward Arnold).

Read Parent24’s Comments Policy

24.com publishes all comments posted on articles provided that they adhere to our Comments Policy. Should you wish to report a comment for editorial review, please do so by clicking the 'Report Comment' button to the right of each comment.

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.
NEXT ON PARENT24X
 
 
 
 
Directories

Everything from parties to pre-schools in your area.