Share

"My kind is skeel"

accreditation

Salomé Esterhuizen (34) van Moreletapark, Pretoria:

Erik is my tweede kind en ek het ’n rukkie ná sy geboorte gedink sy ogies lyk nie heeltemal reg nie. Ek het dit egter afgemaak as niks, want as ma kyk ’n mens nie na jou kind om foute te soek nie! Maar teen die tyd dat hy 4 maande oud was, was dit duidelik dat daar fout was met sy ogies.

Met ’n roetine-ondersoek het ek sy ogies met die pediater bespreek. Aanvanklik het hy vermoed dat die skeelheid die gevolg is van ’n breinafwyking, en ons het die nodige breinsonars en breinskanderings laat doen. As ’n kind onder ’n jaar oud se ogies soos Derik s’n na buite kyk, kan dit blykbaar op ’n breinafwyking dui.

Ek het gehoop en by die Here gepleit dat dit nie die geval moes wees nie, en my gebede is verhoor.

Tuisbehandeling

Die pediater het my toe na ’n oogarts verwys. Ons is oogarts toe en ná vele toetse het hy gesê Derik het ’n lui oog (ambliopie) en sy raad was dat ons tuisbehandeling moet toepas deur die oë met ’n oogklap te bedek. Ek moes elke dag ’n oog sowat 8 uur lank toeplak sodat Derik se oogspiere geoefen kon word.

Derik was gelukkig klein en sou dit nie kon afruk nie, maar hy het steeds vreeslik gekerm. Ek het heimlik gewonder of daar nie dalk beter behandeling was nie, maar omdat ek nie mediese kennis gehad het nie, het ek nie die oogarts se metodes bevraagteken nie.

En so het ek 2 maande lank met die tuisbehandeling voortgegaan. Intussen het Derik net meer skeel geword en toe besluit ek om nie weer na ons oogarts te gaan nie.

Strabisme

Ek is na die Pretoriase Ooginstituut toe, en is verwys na dr. Gideon du Plessis, wat in strabisme (skeelheid) spesialiseer. Die dokter was baie besig en dit het 6 maande geduur voor ons ’n afspraak kon kry. Maar dit was eers toe ek in sy wagkamer sit en heelparty skeel babas en kinders sien, dat ek besef het Derik is nie ’n seldsame geval nie en baie ma’s se kinders het ook probleme met hul ogies.

Gideon het Derik ondersoek en vasgestel sy linkeroog is skeel. Die toeplakkery wat die ander oogarts voorgeskryf het, het die skeelheid net vererger!

Hy het gesê hulle gebruik wel die toeplakmetode, maar die ogies word nooit langer as ’n uur op ’n slag bedek nie, anders word die oogspiere te swak omdat dit nie oefening kry nie.

Hy het verduidelik daar is 2 soorte strabisme: een waar jou oë buitentoe kyk en die een waar dit na binne kyk. Derik het die tweede een gehad.

Gideon het aanbeveel dat Derik geopereer word om die strabisme reg te stel. Hy het ook genoem dit is baie belangrik dat kinders wat skeel kyk, voor skool al behandel word en verkieslik voor hul 7de verjaardag, want net dan kan die skeelheid só herstel word dat die kind nie die gebruik van sy een oog verloor nie.

Operasie

Derik se operasie is vir 25 Mei 2009 geskeduleer. Die dokter het weer eens min gapings gehad, wat net wys hoe baie kinders met skeelheid sukkel.

Intussen het ons gesin maar probeer om na die beste van ons vermoë met ons lewe aan te gaan. My man, Danie (34), het probeer om die ligte kant van die situasie te sien en nie te ernstig te raak nie. Hy het altyd gespot en het in een stadium gesê dat Derik ’n vleier is wat met die een oog na die dames loer.

Maar dit was die reaksie van die mense wat ons raakgeloop het, wat ons die seerste gemaak het. Party mense was taamlik onsensitief en wou weet of Derik blind is, en ander het hom weer heeltemal geïgnoreer. Die mense maak of hulle dit nie raaksien nie, maar jy kan agterkom hulle loer vir jou kind. Dit was nie ’n lekker tyd nie.

Toe breek 25 Mei 2009 aan, die dag van Derik se eerste operasie. Hy was toe al 15 maande oud en in daardie stadium wou hy nog glad nie loop nie. Maar reg ná die operasie staan my kind vir die eerste keer op en loop! Dit was wonderlik en ’n riem onder my hart.

Gideon het verduidelik met skeelheid neem die oë onderling ’n ongelyke posisie in. Omdat die oë as gevolg hiervan ’n hoek met mekaar vorm, kan hulle nie parallel kyk en gelyktydig op dieselfde voorwerp gerig word nie. Derik het dus die hele tyd dubbele visie gehad. Ná die operasie het hy net een beeld gesien en kon daarom die moed bymekaarskraap om te loop.

Ons is ook aangeraai om Derik ná die operasie na ’n visie-terapeut te neem. Ons het Kate by Gideon se kantoor gaan spreek. Sy het oefeninge met Derik gedoen om seker te maak dat die skeelheid nie terugkeer nie.

Boeta het nou hierdie operasie agter die rug en hoewel sy strabisme al baie beter is, is die kanse goed dat ’n opvolgprosedure nodig sal wees. My grootste bekommernis is dat hoewel hy die liefdevolste, dierbaarste baba is, hy eendag ’n selfbeeldprobleem gaan hê as ek nie nou alles in my vermoë doen om sy strabisme te herstel nie.

Dit is tog al wat ons ma’s wil regkry: om ’n kind die wêreld in te stuur wat voel hy kan enigiets vermag.

Feite omtrent strabisme:

  • Sowat 4% van kinders is skeel.
  • Ware strabisme verdwyn nooit sonder behandeling nie.
  • Om normaal te kan sien, moet ’n kind voor sy 7de jaar behandel word.
  • Kinders met strabisme leer om die beeld wat deur die skeel ogie gesien word, te onderdruk. Die ogie kry dus nie oefening nie en word lui. Later kan ’n mens glad nie daarmee sien nie.
  • As die strabisme-operasie op skoolgaande kinders uitgevoer word, kan ’n mens meestal net die rigting waarin die oë kyk herstel, maar dan het die kind reeds ’n lui oog ontwikkel en kan nie meer so goed daarmee sien nie.
  • Oogtoetse is belangrik sodat enige abnormale visuele toestand vroegtydig opgespoor kan word. Die doel van ’n vroeë toets is om aangebore faktore op te spoor, die ontwikkeling van ambliopie (lui oog) te oorkom en strabisme (skeelheid) uit te skakel.
  • Sowat 2 tot 5% van jong kinders het ’n lui oog wat nie noodwendig gepaardgaan met skeelheid nie. Sig kan met oogoefeninge en ’n bril aangehelp word.
  • Hoofpyn kan aandui dat ’n bril of minstens ’n oogtoets nodig is.
  • Sommige toestande waaraan ’n ma tydens swangerskap ly, kan haar ongebore baba se oogontwikkeling blywend belemmer. Dit sluit in Duitse masels, sifilis en ’n gebrek aan vitamien A.
  • Vroeggebore babas moet dikwels suurstof kry, maar te veel suurstof kan hul oë beskadig.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE