Netwerk 101
Soms is dit nie wat jy weet nie, en ook nie wie jy ken nie, maar wie jóú ken wat loopbaansukses beteken – veral as jy ná die geboorte van jou kinders besluit om van die huis af te werk.
Networking
Source

Jy kan trouens jou eie doeltreffendheid vermenigvuldig met die aantal mense wat jou vertrou en bereid is om nuwe besigheid in jou rigting te stuur. Ons het twee lewensafrigters gevra om te verduidelik hoe ’n mens netwerke ontwikkel en dit dan vir jou laat werk.

Vangnette vir besige ma’s

Om te netwerk, skryf Larry James, is om jou kreatiewe talente te gebruik om ander te help om hul doelwitte te bereik, terwyl jy ’n netwerk mense skep om jou te help om weer jou doelwitte te bereik.

’n Mondvol, wat eintlik in ’n neutedop beteken dat jy ander mense help wat hopelik later weer sal help om ’n klip uit jou lewens- of loopbaanpad te rol.

Ann Filgate, ’n lewensafrigter van CoreWorx in Johannesburg, stem saam. Sy glo veral vroue met ’n loopbaan behoort te netwerk om dinge vir hulself makliker te maak. “Jou werkgewer behoort te weet dat jy ’n gesin het, maar net so ook dat jy netwerke het wat jou kan help om jou plek by jou werk vol te staan. Dit sal hom gerusstel dat jy nog steeds jou kant sal bring, wat druk op jou sal verminder.”

Ann sê ’n mens móét tyd maak om te sosialiseer met kollegas en vriende, want dis al manier waarop jy ondersteuningsnetwerke kan vestig. As jy nie ná ure tyd hieraan wil bestee nie, doen dit tydens jou etensuur. Of gaan drink ’n koppie koffie saam met iemand. Wees ook spesifiek wanneer jy netwerk. “Besluit waarvoor jy ’n netwerk benodig en beplan jou optrede daarvolgens. As dit is om met jou kinders te help, raak betrokke by skoolaktiwiteite en bou netwerke met ouers en selfs onderwysers.”

Maak vriende met iemand wie se kinders so oud soos joune is, sê Ann. “Julle kan mekaar dan aflos met die kinders se rondryery na buitemuurse geleenthede. Vra haar ook of sy in ’n noodgeval sal instaan as kontakpersoon as jy dalk nie beskikbaar is nie. Sorg dat die skool ook haar kontakbesonderhede op jou kind se lêer sit.”

Ann glo dat netwerke ook broodnodige emosionele ondersteuning gee en langtermyn-vriendskappe vir jou en jou gesin kan beteken. “Onthou dus ook maar om dankie te sê!”

5 maklike maniere om te netwerk

  1. Kontak mense op belangrike datums soos verjaardae. “Dit laat hulle belangrik voel dat jy onthou en sorg dat hulle jou weer later onthou,” sê Marianne.
  2. Moenie brûe verbrand as ’n werksverhouding of kontrak eindig nie. “Ek het al dikwels ervaar dat sulke ou verbintenisse weer na nuwe werk lei,” sê Marianne.
  3. Gebruik enige geleentheid, selfs iets waarteen jy maar half teen jou sin moet gaan, om nuwe kontakte te maak. By ’n kinderpartytjie is jy dalk doodverveeld. Maar moenie dink jy kan daar nét uitvind wie die beste pediater in die stad is nie. Jy kan dalk ook die regte kundige ontmoet vir jou volgende projek mits jy sirkuleer, gesels, die regte vrae vra en mooi luister.
  4. Hou jou netwerke in stand met klein dingetjies, soos ’n (gepaste) SMS. Stuur ’n e-pos of bel sommer net om te hoor hoe dit gaan. As iemand vir jou ’n guns gedoen het, doen moeite met jou bedanking – stuur eerder ’n persoonlike dankiesê-kaartjie as ’n SMS.
  5. As jy tussen ’n klomp vreemdelinge beland, praat eerste! Onthou, die ander mense voel dalk net so ongemaklik soos jy en wag net vir iemand om die ys te breek. Hulle sal jou waarskynlik ook daarvoor onthou.

10 maniere om by ’n funksie te netwerk

  1. Jy moet ’n plan hê. Besluit vooraf hoeveel mense jy wil ontmoet en sirkuleer!
  2. Die eerste dertig sekondes waarin jy jou aan mense bekendstel is soos ’n tatoeëermerk op hulle brein. Hulle sal dit altyd onthou. Wees bondig, maar moenie dit afjaag nie. Dit moet vertel wie jy is, jou verkoop en die luisteraar se aandag trek.
  3. Onthou jou besigheidskaartjies!
  4. Geniet dit! Glimlag, gesels met baie mense en maak goeie oogkontak.
  5. Luister aandagtig! Praat 20 persent van die tyd en luister 80 persent van die tyd.
  6. Speel gasheer en stel mense wat jy weet iets vir mekaar kan beteken, aan mekaar voor.
  7. Vra! Onthou, mense kan nie gedagtes lees nie. Vra as jy wil weet of hulle weet van iemand of iets wat jou kan help.
  8. Sê dankie as iemand jou help met ’n idee, ’n bekendstelling of ’n kontak.
  9. Eerste indrukke is belangrik. Moenie laat opdaag of te vroeg loop nie. Moet nooit te veel drink of eet nie.
  10. Volg op! Bel as jy belowe het jy sal.

* Verwerk uit Ten Commitments of Networking deur Larry James.

Read Parent24’s Comments Policy

24.com publishes all comments posted on articles provided that they adhere to our Comments Policy. Should you wish to report a comment for editorial review, please do so by clicking the 'Report Comment' button to the right of each comment.

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.
NEXT ON PARENT24X
 
 
 
 
Directories

Everything from parties to pre-schools in your area.