Share

Terug werk toe ná kraamverlof

accreditation

Die laaste ruk by die huis

Vind ‘n kinderoppasser of ’n dagsorg-sentrum wat jou gemoedsrus gee en waar jy weet dat jou kind in bekwame hande sal wees. Indien jy nie gemoedsrus het nie,  sal jy nooit met ‘n geruste hart kan gaan werk nie. Om afstand te doen van hul kind se versorging is vir baie ma’s angswekkend; doen dus genoeg navorsing en oorweeg al jou opsies versigtig voor jy ‘n keuse maak.

Merk al jou baba se klere, skoene, bottels en ander besittings sodat dit nie verlore raak by die dagsorgsentrum nie.

Plaas jou kind minstens ‘n week voordat jy terugkeer werk toe, in die sorg van die oppasser of dagsorgsentrum. Dit sal hom help om aan te pas en jou tyd gun om voor te berei vir die verandering in program.

Oefen jou nuwe roetine. Begin deur jou wekker soggens te stel. Kry jou en jou baba soggens gereed om die huis betyds te verlaat. Sommige ma’s laai hul kinders soggens by dagsorg af en doen ’n toetsrit werk toe. So leer jy wat die beste tyd is om die huis te verlaat.

Beplan vir alles waaraan jy maar kan dink. Kry soveel moontlik saans gedoen: Pak die dagsorgsak, maak werktoebroodjies en kry die res van die gesin se klere reg vir die volgende dag. So verseker jy dat dinge soggens glad verloop. Jy sal ook minder gespanne voel.

Pamperlang jouself. Kry ’n nuwe haarstyl, manikuur of net ’n massering. Doen wat jy moet om goed te voel oor jouself en jy sal nie so selfbewus voel wanneer jy weer by die werk is nie.

Kry jou huis in orde. Sodra jy en jou man weer heeltyds werk, sal dit moeiliker wees om jou huis te organiseer, skoon te maak en toestelle te laat herstel. Dit is nou die tyd om jou taaklysies in orde te kry, want dit sal jou tyd spaar op die lange duur.

Maak seker jou koskaste, yskas en vrieskas is vol kos. Wees op die uitkyk vir maaltye wat nie baie tyd verg nie en dalk net ontdooi en verhit kan word. Klaargaar kos in die vrieskas is soos manna uit die hemel ná ‘n moeilike dag by die werk. Dit gun jou broodnodige tyd om jou batterye te herlaai en om met jou kind te bind.

Druk ’n paar foto’s van jou baba en plaas dit in ’n oulike raam om op jou lessenaar uit te stal.   
Doen afstand van skuldgevoelens. Om terug te keer werk toe ná kraamverlof kan emosionele hel wees vir nuwe ma’s. Jy is nie ‘n slegte ma omdat jy werk nie, en jy kan gerus na die uitdagings van jou werk uitsien. Herinner jou daaraan dat jy doen wat die beste vir jou en jou gesin is.

Bel jou werkgewer en maak ’n afspraak om te gesels om vas te stel of jou rol by die werk nog dieselfde is. As jy beplan om aan te hou borsvoed sal jy by die werk wil uitmelk en jy moet dit met jou werkgewer bespreek. Jy moet vasstel of daar ’n skoon, private kamer by jou werk gaan wees waar jy jou borste kan uitmelk. Die gemeenskaplike toilet sal nie deug nie en jy sal dalk ook ’n kragpunt nodig hê as jy ‘n elektriese borspomp het. Jy moet ook seker maak daar is ’n yskas tot jou beskikking om die borsmelk in koel te hou.

Sowat twee weke voordat jy terugkeer werk toe, kan jy begin om jou borsvoedroetine tuis te verander sodat jy ten minste twee of drie keer gedurende die dag kan uitmelk en jou kind kan borsvoed voor en ná jy van die werk af kom. Die dagmoeder of pa kan dan die borsmelk in ’n bottel vir jou baba gee sodat jou baba ook kan aanpas by die nuwe roetine.

Probeer ‘n voorraad bevrore borsmelk by die huis opbou. Jy sal meer gerus voel as jy weet daar is borsmelk vir jou baba be-skikbaar, al kan jy dalk nie self daar wees  om dit te gee nie.

Bou vir jouself ’n ondersteuningsnetwerk van familie en vriende op wie se knoppie jy kan druk indien dinge nie volgens plan verloop nie terwyl jy by die werk is.

Bou ’n voorraad van babagoedere by die huis op en koop soveel moontlik doeke en vogdoekies, want dit sal jou tyd en onnodige spanning spaar. Jy sal ook doeke, boudjieroom, vogdoekies en ander goedjies dagsorgsentrum toe moet stuur. Die sentrum sal jou ‘n lysie gee van wat nodig is.  

As jy kan, probeer om laat in die week terug te keer werk toe. Dit sal help dat die eerste week minder traumaties is en sommer gou verbyvlieg.

Kry jou kop reg, want dit is belangrik om jouself fisiek en sielkundig voor te berei om terug te keer werk toe. Gesels gerus met ander werkende ma’s om te hoor hoe hulle die eerste ruk hanteer het, en hoe dit gevoel het. Dan sal emosies jou nie so onkant betrap nie.

Terug by die werk

Jy is terug by die werk en het dalk vergeet presies hoe stresvol dinge soms kan raak, maar die volgende wenke kan jou help om jou daaglikse take baas te raak en nog  ‘n bietjie energie oor te hê vir die  “tweede skof” wat saans by die huis begin:

  1. Wees georganiseerd. Hou dagboek of maak daaglikse taaklysies. Jy kan takies vir die werk sowel as vir die huis aanteken. Identifiseer wat jy dringend moet doen, wat kan wag – en wat jy nie hoef te doen nie. Dink vooruit en probeer om ‘n bottelnek van takies te vermy.
  2. Bly in kontak met jou baba se sorggewer. Een telefoonoproep daagliks om uit te vind hoe dit met jou baba gaan, is in orde. Plaas die geraamde foto van jou baba op jou lessenaar. Skep daagliks alleentyd ná werk sodat jy bietjie met jou baba kan bind.
  3. Al voel jy soms soos ‘n wrak, moenie dit met jou baas deel nie; hy of sy sal net dink jy’t jou slag verloor. Moet ook nie te veel op kollegas se skouer huil nie. Gelukkig is daar wel base wat weet dat nuwe ma’s dikwels meer produktief is as tevore, want hulle leer gou lateraal dink, suksesvol delegeer, doeltreffend prioritiseer en om ’n klomp goed gelyk te kan doen. 
  4. Maak seker jy het planne van aksie indien jou baba siek word of jou oppasser skielik nie beskikbaar is nie – of dit nou beteken jy neem verlof, en of  ‘n vriendin of familielid na jou baba kan omsien, en of jy dalk stukke van jou werk van die huis af kan doen, of na-ure kan inhaal.
    Neem jou borspomp, melkhouers en ’n koelsak werk toe. Hou altyd borsdoekies byderhand en ekstra bloesies of  ‘n modieuse onderbaadjie, ingeval jou borste dalk begin lek.
  5. As dit moeilik is om tyd af te knyp om uit te melk, doen dit dan tydens tee- en etenstyd. As jy nie kans sien om by die werk uit te melk nie, doen dit soggens net voor jy die huis verlaat en sodra jy saans by die huis aankom. Jy kan ook naweke tussen voedings uitmelk vir ekstra borsmelk vir wanneer jy by die werk is. So verseker jy ook dat jou melkproduksie op dreef bly.
  6. Moenie probeer om ’n super-ma te wees nie. Jy kan nie alles alleen doen nie; aanvaar dus gerus hulp van jou man, vriende en familie. Praat daaroor as jy skuldig, hartseer en oorweldig voel.
  7. Indien jy sukkel om uit te melk of om jou baba tuis te voed, konktak ’n borsvoedkonsultant of vra jou naaste kliniek of hospitaal om jou te help. 
  8. Pas jouself op. Ontspan saans in ’n lekker warm bad nadat jy jou baba aan die slaap gesus het. Lees bietjie of luister na musiek. Moenie probeer om als te doen nie. Gaan slaap saans vroeër en hou by die roetine. Slaap naweke wanneer jou baba slaap. Knip dan in die middag saam ‘n uiltjie, veral as jy hartseer voel dat julle mekaar nou minder sien. Dis baie goed vir jul binding om saam te slaap. 

Onthou om deur dit alles positief te bly. Praat met jou baba en vertel haar hoe opgewonde jy is om haar ná ’n lang dag by die werk te sien. Jou baba verstaan dalk nie die woorde nie, maar hy sal die emosie aanvoel.      

Het jy geweet?   

Babas wat borsmelk kry, word minder siek. Die tydjie wat jy by die werk afknyp om uit te melk, beteken dus minder siek dae.

Bron: www.mayoclinic.com

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE