Share

Begroot vir graad O

accreditation

Graad O is jou japsnoet se finale voorbereidingsjaar vir die laerskool en dinge word nou ’n bietjie anders aangepak as by die speelgroepie of kleuterskool. Dis nog nie so formeel soos graad 1 nie, maar reeds baie meer gestruktureerd as voorheen en gaandeweg word al meer kenmerke en dissiplines van die ‘groot skool’ ingevoer.

Wat gaan graad O vir jou inhou? En watter eise gaan dit aan jou en jou sak stel?

Geldsake

Jou kind sal elke maand vaste skoolgeld moet betaal. Soms is dit ook nodig om aan die begin van die jaar ’n eenmalige registrasiebedrag te betaal. Partykeer kan jy heelwat spaar as jy kans sien om die hele jaar se geld op een slag aan die begin van die jaar te betaal.

Die skoolgeld kan soms uitstappies insluit, maar dis wys om elke maand ’n bietjie ekstra opsy te sit vir onvoorsiene uitgawes soos skoolfoto’s, onbeplande besoeke deur organisasies soos die polisie, busgeld en so meer. Troos jou daaraan dat dit alles bydra tot jou kind se verryking.

Aan die begin van die jaar sal jy waarskynlik ook moet opdok vir skryfbehoeftes, ’n voorskoot en ander klasbenodighede soos ’n bekertjie, handdoek en sneesdoekies. As die skool uitstappiedrag het, sal jy ook dit moet aankoop vir die winter en somer. Opsionele buitemuurse aktiwiteite wat binne skoolure aangebied word soos Playball of Kindermusik kan ook ’n ekstra duik in jou sak maak.

Benodighede

Jou kind gaan nodig hê...

  1. ’n Tas of sak waarin hy elke dag sy kosblik en enige ander los goed kan pak. Dit moenie so groot wees dat hy sukkel om dit rond te dra nie, maar ook nie so klein dat hy nie sy winterjassie saam my sy kosblik daarin kan pas nie. (Merk dit sodat dit nie wegraak nie, maar moenie sy naam buite-op skryf nie. Dit maak dit maklik vir vreemdelinge om sy naam te misbruik.)
  2. Skryfbehoeftes. Die skool sal laat weet wat julle moet voorsien. Merk alle skryfbehoeftes duidelik.
  3. ’n Kosblik en drinkbotteltjie wat nie lek nie en wat jou kind maklik oop en toe kan maak. Dit moet ook duidelik gemerk wees.

Kleredrag

Sommige graad O’s moet hulself al in die skool se uniform optof, maar die meeste hoef net informele speelklere van hul keuse te dra. Klere moet gemaklik wees sodat die kinders kan klim en klouter en in die somer moet hulle verkieslik kaalvoet wees.

Daar is wel skole wat eenvormige uitstappiedrag het vir wanneer die kinders op ’n klasuitstappie gaan. Jy kan hierdie klere gewoonlik deur die skool aankoop. Maak seker jou kind se klere is duidelik gemerk, selfs sy skoene!

Uitstappies

Jou kind se Graad O-klassie behoort van tyd tot tyd op uitstappies te gaan. Dit kos gewoonlik iets en ouers kan ook gevra word om kinders te help aanry as die skool nie genoeg vervoer het nie.

Ouers word gewoonlik per brief in die onthouboekie in kennis gestel van die uitstappie en ook gevra om ’n vrywaringsvorm te onderteken. Hierdie uitstappies is ’n wonderlike geleentheid vir jou kind om sy ervaringswêreld uit te brei.

Skoolbywoning

Hoewel jou kind nog nie formeel in die skool is nie, vereis die meeste skole dat jou kind nie sonder meer afwesig is nie en jy sal moet laat weet as jou kind siek is. Vir ’n lang siekte moet jy selfs ’n doktersertifikaat voorsien. Siek kinders mag nie skool toe gestuur word nie.

Kos en kosblikke

Maak seker jou kind eet elk oggend ’n stewige ontbyt voor hy sy skooldag aanpak en pak vir hom ’n kosblik vol interessante, maar gesonde kos in soos eier, worsies, kaas, vrugte of droëvrugte en natuurlik ’n lekker toebroodjie. Vermy soetgoed soos lekkers en koekies of kos met kleur- en preserveermiddels in.

Buitemuurs

By sommige skole sal jou kinders die geleentheid kry om teen ekstra geld aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem in skooltyd of net daarna. Dit kan goed insluit soos ballet- of karateklasse, swem, Playball, Kindermusik, Monkeynastics of rekenaarlessies. As die graad O-klas deel van ’n laerskool uitmaak, kan kinders soms ook inskakel by die skool se amptelike sport soos tennis, swem, rugby of netbal – dikwels teen geen ekstra koste nie.

Oueraande

Die meeste skole hou ’n inligtingsaand kort nadat die skole in Januarie geopen het, waar die onderwyseresse kans kry om met die ouers te gesels oor die jaar wat voorlê en ook om buitemuurse aktiwiteite bekend te stel.

Dis die een geleentheid wat jy nie moet misloop as jy hierdie jaar wil weet wat met jou kind gebeur nie. Gebruik dit om te vra oor die dinge waaroor jy onseker is. Jy kan ook die skool kontak vir ’n afspraak met die onderwyseres as jy bekommerd is oor jou kind se vordering.

Skoolaktiwiteite

In graad O word daar dikwels aktiwiteite beplan wat ouerbetrokkenheid vereis, hetsy vir geldinsameling, om vaardighede te ontwikkel of sommer net vir die pret. Dit kan iets insluit soos ’n mini-basaar, ’n koekverkoping, ’n entrepreneursdag vir die Graad O’s, of selfs die jaarlikse konsert. Hulle verwelkom ook soms ouers se hulp in die klas.

Kunsmateriaal

Jou kind se klassie sal hierdie jaar interessante kunsprojekte aanpak waarin hulle ’n verskeidenheid materiale uit jul huis kan gebruik. Dit kan enigiets wees van foelie tot koeldrankbottels, polistireenbakkies, boksies, eierdosies of toiletrolle. Sommige skole sal spesifiek aanvra wat hulle nodig het, ander sal dit gebruik soos hulle dit kry.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE