Share

Die laaste 21 dae van jou kraamverlof

accreditation

Die laaste 21 dae van jou kraamverlof het aangebreek. Binnekort gaan jy 8 uur minder per dag saam met jou baba kan deurbring. Laat hierdie gedagte jou maag draai?

Die geheim is om jou terugkeer werk toe versigtig te beplan; dit sal jou die gemoedsrus gee om jou nuwe uitdaging met selfvertroue aan te pak. Gebruik dié laaste weke tuis om jou en jou baba op jul nuwe roetine voor te berei – met ons dag-vir-dag-plan sal jy dit maklik kan doen!

Dag -21

Besluit oor borsvoeding

Jy het dit pas onder die knie gekry en weet borsvoeding ís die beste vir jou baba. Maar gaan dit die beste opsie bly as jy teruggaan werk toe? Besluit nou hieroor.

Of jy gaan aanhou of nie, behoort jy jou baba van vandag af aan ’n bottel bekend te stel.

Nee vir aanhou: Besluit oor ’n gepaste formulemelk of bespreek dit met jou klinieksuster of pediater.

Ja vir aanhou: As jy nog nie een het nie, skaf ’n borspomp aan en begin so gou moontlik oefen om dié eienaardige apparaat te gebruik. Besin ook goed oor jou borsvoedingsroetine wanneer jy eers terug is by die werk. Dit gaan taamlike beplanning verg. Wanneer gaan jy uitmelk? (Jou etenstyd is ’n goeie tyd.) Waar gaan jy dit bêre? (Is daar ’n ys- of vrieskas?.) Soos met enige roetine sal dinge egter gou seepglad verloop.

Onthou: Om by die werk uit te melk is nie glansryk of altyd gemaklik nie, maar dit is beslis in jou baba en indirek in jou en jou werkgewer se beste belang. Dit is immers bewys dat babas wat borsmelk drink minder siek word as dié wat formulemelk drink.

Werd om te weet: Die beste borspompe op die mark het bykomstighede soos spesiale koelsakke waarin borsmelk bewaar kan word.

Dag -20: Bevestig versorging van jou baba

Jy het sekerlik al besluit wie na jou baba gaan omsien terwyl jy by die werk is. Of dit ’n versorger is wat na jou huis toe kom en of jy jou baba by ’n crèche of dagsorgplek gaan aflaai – bel vandag hierdie mense en bevestig die datum en vergoeding waaroor julle ooreengekom het. Gesels weer oor onder meer...

  • hul roetine
  • stimulasieprogramme
  • geestelike oortuiging
  • wat jy daagliks, weekliks en maandeliks aan hulle moet voorsien

Maak ook seker hulle het jou én jou man of vriend se kontakbesonderhede.

Dag -19: Bou ’n ondersteuningstruktuur

Maak ’n lys van familie en vriende op wie jy weet jy kan staatmaak as dinge nie volgens plan verloop nie. ’n Krisis by die werk kan dalk beteken jy kan nie jou baba voor die crèche se toemaaktyd optel of die versorger betyds gaan aflaai nie.

Dag -18: Bel die baas

Maak ’n afspraak of gaan sien jou baas om te gesels oor jou rol by die werk en om vas te stel of dinge nog is soos dit was toe jy ’n paar maande gelede daar weg is.
Jou agenda kan só lyk:

  • Bevestig die dag waarop jy gaan terugkeer. Indien moontlik, probeer in die middel van die week teruggaan. ’n Vyfdagweek kan baie langer voel as voorheen.
  • Hoewel dit sekerlik nie ’n gemaklike onderwerp is nie, behoort jy jou baas in te lig dat jy beplan om by die werk uit te melk. Bespreek waar jy dit gaan doen en dring daarop aan dat jy iets meer privaat as die gemeenskaplike toilet tot jou beskikking het. Onthou dat jy ook ’n kragpunt sal nodig hê as jy nie ’n handpomp gebruik nie en bevestig dat daar ’n yskas tot jou beskikking is.

Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes lyk jou regte so:

  • Borsvoeding: Jy mag geen werk doen wat vir jou of jou kind gevaarlik kan wees nie.
  • ’n Siek kind: Heeltydse werknemers wat reeds langer as vier maande in diens is, kan tot drie dae betaalde familieverlof per jaar neem.

Die Kode vir Goeie Praktyk ten opsigte van die beskerming van werknemers ná die geboorte van ’n kind bepaal voorts dat reëlings by die werkplek getref moet word sodat borsvoedende werknemers...

  • Nageboorte-klinieke kan bywoon
  • Die eerste ses maande van die baba se leeftyd twee keer per dag dertig minute kan afneem vir borsvoeding of uitmelk

Dag -17: Besoek die crèche of dagsorg

Gaan besoek die crèche of dagsorgplek vandag sonder ’n afspraak. As almal gemaklik is daarmee, kuier sommer ’n rukkie met jou baba daar. Só kan julle al twee ’n gevoel van die plek kry.

Dag -16: Merk alles

Om seker te maak jou baba se bottels, eetgerei, klere, skoene en ander besittings bly syne, moet jy sy naam duidelik daarop skryf. Doen dit vandag.

Dag -15: Aangename kennis

Gaan stel jou baba voor aan jou kollegas. Dít sal hopelik voorkom dat jy aanmekaar op jou eerste dag terug onderbreek word deur mense wat kom groet en uitvra.

Dag -14: Betrag jou en jou baba se klerekas

Pas al jou ou werkklere vandag aan en maak ’n lys van wat jy nodig het. Sit dan ’n dag opsy om inkopies te doen. Maar onthou, koop slim. Jou figuur het waarskynlik nog nie ten volle herstel ná die geboorte nie. Koop dus klere wat jou ook later sal pas.

Jou baba se 3-tot-ses6maande-klere sal binnekort begin knap sit. Doen vandag ook ’n deeglike voorraadopname van watter ses-tot-twaalf-maande-uitrustings hy gaan nodig hê.

Dag -13: Ons sê baie, baie dankie

Jou baba het al uit van sy ooievaarstee-geskenke gegroei, maar die bedankingsbriewe is nog nie uitgestuur nie. Begin vandag daardie dankiesê-briewe skryf. As jy nie kans sien vir lang poskantoorrye nie, stuur ’n elektroniese dankiesê-kaartjie. Gaan kyk gerus by www.bluemountain.com, waar jy tevrede sal moet wees met hul kaartjies, of besoek www.snapfish.com/tourphotocards, waar jy ’n kaartjie kan maak met ’n gunsteling-foto van jou baba.

Dag -12: Vestig ’n nuwe roetine

Bepaal of jou baba se wakker tye gaan ooreenstem met die tye wanneer jy wel by die huis gaan wees soos vroegoggend voor werk en laatmiddag ná werk. Indien nie, probeer nuwe slaappatrone vir jou baba vestig sodat julle mekaar soveel moontlik kan sien.

Dag -11: Word (weer) fiks

Fiksheid is ongelukkig een van die eerste dinge wat besige (en tam) ma’s opoffer. Ironies genoeg kan oefening jou egter meer energiek laat voel. Selfs net tien minte op ’n dag kan ’n verskil maak aan jou liggaam én siel. Die asemhalingstegnieke wat jy in oefeningsoorte soos Pilates en joga leer is veral bekend daarvoor dat dit jou energie gee en jou help om beter te konsentreer.

Bespreek solank plek in ’n Pilates- of jogaklas vir wanneer jy terug is by die werk. Dis ’n goeie plan om met een klas per week te begin.

Dag -10: Doen dit dubbel

Begin vandag om elke keer wanneer jy kook, die porsies te verdubbel. Teen die tyd dat jy teruggaan werk toe, sal jou vrieskas stampvol tuisgekookte aandetes wees, iets wat jy beslis gaan waardeer in daardie eerste weke nadat jy terug is by die werk.

Dag -9: Vaar die winkels in

Gaan koop vandag die klere wat jy en jou baba nodig het (sien dag 14).

Dag -8: Sorteer die babafoto’s uit

Die kameraligte het die afgelope maande behoorlik geflits. As jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy al dié foto’s vandag van jou digitale kamera aflaai, in lêers op jou rekenaar rangskik of dit op ’n CD of geheuestafie bêre. Maak ’n lys van die foto’s wat jy wil laat druk en laat dit ontwikkel.

Behalwe dat dinge meer georganiseerd sal wees, sal dit ook ’n lekker terugblik wees op sekerlik die mees opwindende paar weke van jou lewe. En moenie vergeet om jouself op die skouer te klop nie. Kyk net hoe mooi het jou baba gegroei!

Dag - 7: Registreer vir aanlyninkopies

Registreer vandag vir internet-inkopies by Pick ’n Pay of Woolworths sodat jy ná werk eerder die kosbare tyd saam met jou baba kan deurbring as in supermarktoue. Hoewel jy R55 moet opdok vir aflewering, kos die produkte jou nie ’n sent meer nie. Albei winkels lewer af in die meeste voorstede van al die groot stede.

’n Ander voordeel van aanlyninkopies is dat die stelsel jou koopgeskiedenis bewaar wat jou volgende aanlyninkopietog baie vinniger sal maak. En as jy nie by die huis kan wees vir aflewering nie, sal hulle jou inkopies werk toe bring.
Só werk dit:

  1. Meld aan op www.picknpay.co.za en kies “home shopping“. Op www.woolworths.co.za moet jy “online shopping“ op die tuisblad kies.
  2. Registreer met ’n gebruikersnaam en wagwoord van jou keuse.
  3. Begin koop! Jy kan bloot die produk waarna jy op soek is in die soekfunksie intik, soos “babapoeier“. Die verskillende handelsname wat beskikbaar is – en wat dit kos – sal dan op die skerm verskyn. Plaas dan die produk – en dui aan hoeveel jy daarvan wil hê – in jou inkopiewaentjie.
  4. Betaal. Jy kan betaal met enige kredietkaart en sekere debietkaarte.

Dag -6: Doen ’n oefenlopie

Oefen vandag om die huis betyds te verlaat. Bepaal hoeveel tyd dit verg om jouself én jou baba aan te trek en jou baba se sak te pak. As jy baba moet gaan aflaai, moet jy ook die spitsverkeer toets sodat jy weet hoeveel ekstra tyd jy moet inbou. Onthou, dit is die moeite werd om bykomende tyd in te werk sodat jy én baba rustig is wanneer julle vertrek.

Dag -5: Bou voorraad op

Maak vandag ’n lys van al die nie-bederfbare benodigdhede en gaan koop soveel formulemelk, doeke en voorraad vir jul medisynekassie as wat jy kan bekostig. Dit sal jou later baie tyd én onnodige spanning bespaar.

Werd om te weet: As jy doeke vooruit wil koop, hou in gedagte dat die crèche of dagsorg ’n baie vaste doekruilpatroon het wat kan beteken jou baba se doek word soms geruil voor dit werklik nodig is. Dit is dalk wys om goedkoper doeke saam te stuur crèche toe.

Dag -4: Kry jou kop reg

Dit is belangrik dat jy jouself ook sielkundig voorberei op jou terugkeer werk toe. Knyp vandag tyd af om te visualiseer hoe alles goed sal verloop en hoe gelukkig jou baba gaan wees. Aanvaar dat jy soms skuldig gaan voel omdat jy minder tyd saam met jou baba deurbring.

Wenke: Sommige kundiges beveel aan dat jy die tyd wat jy aan jou baba dink, beperk tot jou reistyd ná en van die werk. Hulle sê ook dit is belangrik om jouself daaraan te herinner dat kindersorg duur is en jy dié uitgawe ten minste die geld werd moet maak. As jou loopbaan ook vir jou belangrik is, moet jy jouself gereeld hieraan herinner.

Dag -3: Gesels oor ’n koppie tee

Maak vandag ’n tee-afspraak met ’n goeie vriendin. Kies een van jou gunsteling- restaurante en bederf jouself!

Dag -2: Pak jou sak

Dít moet alles in die sak wees wat saam met jou baba by die crèche of dagsorg afgelaai word:

  • Genoeg (gemerkte) bottels, tiete en ’n bottelskoonmaker.
  • Bakkies om genoeg formulemelk vir elke voeding in uit te skep as jy nie uitmelk nie.
  • Medikasie en duidelike, skriftelike aanwysings oor wanneer en hoeveel jou baba moet kry.
  • Genoeg doeke.
  • Ten minste twee stelle gemerkte klere.
  • Jou baba se gunsteling-speelgoed.
  • ’n Fopspeen as jou baba een verkies.
  • ’n Nota met al jou en jou naasbestaandes se kontakbesonderhede.

Dag -1: Haal diep asem

Bestel vanoggend koffie in die bed van jou maat, lê ’n rukkie later en besin híéroor:

  • Aanvaar dat jy binne die volgende weke soms moeg gaan wees.
  • Jy gaan allermins `n sosiale vlinder kan wees. Skaal dus sosiale afsprake af tot jy by jou nuwe lewe aangepas het.
  • Gun jouself minstens nog ’n paar maande om ’n balans te vind in jou nuwe rol as ’n trotse, werkende ma.
  • Besluit vandag om elke dag te geniet.

Bron: http://www.mayoclinic.com

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE