As een persoon sal weet wat die werklikheid is wat vir die eertydse lemnaeler en veroordeelde moordenaar, Oscar Pistorius, op parool voorlê, is dit die skrywer Stefaans Coetzee.
Coetzee (45), die skrywer van Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding en Onbeskryflike genade, is in Augustus 1997 as 19-jarige in die hooggeregshof in Kaapstad 40 jaar tronkstraf opgelê weens die bomontploffings by ’n Shoprite-winkel op Oukersaand in 1996 in Worcester. Die verregse aanval het vier lewens geëis.
Hy het nog 13 jaar van parool oor, nadat hy 18 jaar en ses maande agter tralies moes deurbring, waarvan die grootste deel van sy gevangenskap in die Pretoria Sentraal-gevangenis (nou Kgosi Mampuru II) was.