Deel

‘Verlore dekade’ op die JSE het ’n huis of ’n kar se geld gekos

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Magnus Heystek is ’n beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth. Foto: Verskaf
Magnus Heystek is ’n beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth. Foto: Verskaf

Skielik is al wat leef en beef nou voorstanders van buitelandse beleggings. Byna al die grootbbatebestuurders plaas nou op elke moontlike advertensiemedium advertensies vir buitelandse beleggings, seminare en webinare.

Vir jare het dieselfde instansies en woordvoerders maar neerhalend na buitelandse beleggings verwys: riskant, wisselvallig, en gevaarlik vir beleggers wat nie weet wat hulle doen nie.

Maar dis nie meer moontlik om die harde werklikheid van die opbrengste op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) te ignoreer nie. In randterme was die opbrengste op beleggingsprodukte op die beurs – aandele, effektetrusts en pensioenfondse – ’n skamele persentasiepunt of meer as die inflasiekoers die laaste 10 jaar en meer.

As koste van beleggings en die impak van belasting in aanmerking geneem is, was die netto opbrengs die afgelope dekade en langer negatief teenoor inflasie.

Baie beleggers, via pensioenfondse en uittree-annuïteite, ervaar nou hierdie kreeftegang in die dalende koopkrag van hul beleggings.

In dollarterme was die prentjie nog erger: oor 10 en 15 jaar het die JSE ’n zero styging aan beleggers gelewer. Dis een van die redes hoekom buitelandse beleggers die afgelope klompie jare die hasepad gekies het. Meer as R1 triljoen is die afgelope ses jaar deur buitelanders uit die aandele- en effektemark op die JSE onttrek.

Die verskille in opbrengste tussen plaaslike en oorsese fondse is lankal nie meer marginaal nie, maar wesenlik. Kyk gerus na die opbrengs van R1 miljoen 10 jaar gelede in ’n gewilde oorsese fonds soos die Brenthurst IP Global Opportunity Fund (16% per jaar) en dié van die Old Mutual Beleggersfonds (4% per jaar). Waardes vandag is R3,7 miljoen vir die IP Global-fonds en slegs R1,3 miljoen vir die OM-fonds. Die verskil is die prys van ’n huis of ’n kar!

Daarenteen het beleggings in ontwikkelde lande, en veral die VSA, opbrengste van tussen 7% per jaar en 15% (15% en 25% per jaar in randterme) per jaar gelewer in hierdie tyd. Oor die afgelope jaar was die verskil in opbrengste nog meer opmerklik: -7% vir die JSE en +25% vir die S&P 500 in dollarterme, as voorbeeld.

Beleggers kan al sedert 1 April 2015 wesenlike bedrae landuit neem. Die toegif is ’n diskresionêre toelaag van R1 miljoen per jaar per persoon en R10m per persoon per jaar in die vorm van ’n beleggingstoelaag.

Die mark is grootliks aangedryf deur ’n voortsnellende aandelebeurs-bulmark in sowel die Nasdaq as die S&P 500 en die afgelope paar jaar die sogenaamde “Magnificent Seven” – sewe reuse-maatskappye op die Amerikaanse beurs by name Nvidia, Meta, Tesla, Apple, Amazon, Alphabet en Microsoft.

By Coronation se algemene jaarvergadering verlede maand is daar verwys na die “verlore dekade” in dollarterme. Nog meer kommerwekkend is dat Karl Leinberger, beleggingshoof van Coronation, verwag dat dieselfde storie hom gaan herhaal in die volgende dekade, tensy daar nie dramatiese beleidsveranderinge aan die kant van die ANC kom nie.

Ook Duncan Artus, hoof van Allan Gray, het verwys na die feit dat die JSE die afgelope 15 jaar geen opbrengs in dollarterme gelewer het nie.

Indien hierdie neiging tesame met die daling in die rand teenoor die meeste geldeenhede en ook die daling in eiendomspryse beoordeel word, dui dit net op een ding: van ryk tot arm het die meeste Suid-Afrikaners baie arm geword in internasionale terme die laaste 15 jaar.

Dis te bespeur in die dalende neiging in verkope van nuwe motors, kleiner getalle mense wat oorsee kan reis en ook die skerp daling in die pryse en omset van huise in die prysklas bo R5 miljoen.

Opbrengste in randterme beteken nie veel as die wisselkoers net so vinnig, indien nie vinniger daal nie. Sedert Nelson Mandela se vrylating in 1990 het die rand gedaal van R2,35 tot R19 teenoor die Amerikaanse dollar.

Daar is baie redes vir hierdie afwaartse neiging, maar dit kan amper 100% voor die deur van die ANC se verwoestende ekonomiese beleid geplaas word.

En met die onteieningswet en die nasionale gesondheidswet wat eersdaags wet gaan word, lyk die vooruitsigte nog meer troebel.

Trouens, indien die regering se bestedingspatrone in ag geneem word in die konteks van allerhande beloftes, lyk ’n verdere verswakking van die rand en die aandelebeurs glad nie onwaarskynlik nie. En dan praat ons nie eens van voorgeskrewe bates nie, waaroor die ANC weer eens dreig.

SA se totale openbare skuld staan nou reeds op meer as R5 triljoen en sowat 20% van elke sent wat bestee word, is aan die rente van vorige skuld. Hierdie syfer styg al jare lank elke jaar, maar is besig om te versnel.

Daarbenewens moet die ineenstorting van die land se infrastruktuur – soos elektrisiteitsdienste, paaie, hawens en spoorlyne – ook in ag geneem word. Dis niks anders as ’n bykomende belasting op SA se groot maatskappye nie, wat die meeste maatskappybelasting betaal.

En die druk op die individuele belastingbetaler word net erger. Op die onlangse Biznews-kongres in Hermanus het dr. Frans Cronje syfers aangehaal wat daarop dui dat net 2% van die land se bevolking meer as 70% van alle belasting bydra.

Beleggers kan al sedert 1 April 2015 wesenlike bedrae landuit neem. Die toegif is ’n diskresionêre toelaag van R1 miljoen per jaar per persoon en R10 miljoen per persoon per jaar in die vorm van ’n beleggingstoelaag.

Die daling van die rand die laaste nege jaar het die voordeel van hierdie toegif grootliks verwater.

In 2015 kon jy nog $82 000 met R1 miljoen koop. Vandag het dié bedrag gedaal tot $52 000. Die situasie word vererger deurdat die inflasiekoers in dollars oor daardie tydperk meer as 30% was, wat ’n verdere daling in die koopkrag van die rand in die buiteland beteken. Dit is waarom SA reisigers wat terugkeer van die buiteland steen en been kla oor die pryse van alles – kos, reis en verblyf. Die rand koop wesenlik minder as 10 en selfs 15 jaar gelede.

Die een voordeel van hierdie verwoesting van die rand se globale koopkrag is dat minder mense kan bekostig om in die buiteland af te tree.

Selfs ’n land soos Mauritius wat baie gewild onder SA beleggers as ’n aftree-bestemming geword het, is amper buite bereik. Dis nie ongewoon om $500 000 (amper R10 miljoen) te betaal vir ’n drieslaapkamerwoonstel op die eiland nie.

En as jy op ’n gholflandgoed wil aftree, kan dit jou sowat R30 miljoen uit die sak jaag. En dan moet jy nog kan leef van jou ander kapitaal.

Baie mense gaan kyk in Mauritius, doen hulle somme en vlieg dan terug SA toe om in die Wes-Kaap af te tree!

Magnus Heystek is ’n beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth. Kontak hom by magnus@heystek.co.za. Besoek Brenthurst by bwm.co.za vir meer.

Brenthurst Wealth Management (Pty) Ltd is an authorised FSP in terms of the FAIS Act, 2002 (FSP No 7833) 


Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.40
-0.2%
Rand - Pond
23.16
-0.4%
Rand - Euro
19.90
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.19
-0.4%
Rand - Jen
0.12
-0.0%
Platinum
1,039.34
+3.8%
Palladium
982.88
+2.0%
Goud
2,356.84
+0.9%
Silwer
28.58
+1.4%
Brent-ruolie
83.36
+0.7%
Top-40
72,372
-0.1%
Alle aandele
78,633
-0.1%
Hulpbronne 10
62,434
-0.6%
Industriële 25
110,498
+1.1%
Finansiële 15
16,818
-1.3%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos