Deel

10 flaters wat borsvoeding kan kelder

akkreditasie
Hier is 10 foute wat die beste voornemens in die wiele kan ry. Vermy hierdie slaggate, en jy is goed op pad na suksesvolle borsvoeding.

Verlede Desember was ek die enigste laktasiekonsultant in Pretoria wat met Jan Tuisbly se karretjie gery het: van die een nuwe ma tot by die volgende. By elke huis het ek dieselfde (tranerige) storie gehoor.

Terwyl sy swanger was, was mamma vuur en vlam oor borsvoeding. Ná die geboorte kon sy nie wag om haar bondeltjie aan die bors te sit nie. Maar iewers het dinge skeefgeloop. Sy was op moedverloor se vlakte, hierdie konsultasie haar Laaste Hoop.

Dié klagtes is allesbehalwe seldsaam. Ek het seer tepels gesien. Babas met ’n swak suiggreep (latch). Kommer oor te min melk: soms met goeie rede, dikwels nie. Elke iedere een van hierdie probleme was voorkombaar.

Hier volg 10 foute wat die beste voornemens in die wiele kan ry. Vermy hierdie slaggate, en jy is goed op pad na suksesvolle borsvoeding.

1. Petidien teen die pyn

Volgens onlangse navorsing is die geboorte self een van die deurslaggewende faktore in suksesvolle borsvoeding. Die ideaal – vanuit ’n borsvoedingsperspektief – is ’n natuurlike geboorte sonder pynmedikasie en met die minimum mediese ingryping.

Wanneer ’n gesonde, voltermyn-pasgeborene in vel-tot-vel-aanraking met sy mamma geplaas word, weet albei presies wat om te doen. ’n “Ingewikkelde mengsel liefdeshormone”, soos die Franse verloskundige Michel Odent dit stel, vloei deur hul are en sit die instinktiewe voedingsdans aan die gang.

Ons lewe egter nie in ’n ideale wêreld nie, en jy kan pynverligting nodig hê. Verbeter jul kans op sukses deur borsvoedingsvriendelike medikasie te kies. Laggas het geen uitwerking op borsvoeding nie, aangesien jy dit uitasem voor dit jou ongebore baba bereik.

Epidurale medikasie kan wel borsvoeding bemoeilik, maar die grootste sondebok is petidien, ’n vorm van morfien wat besonder lank vertoef. ’n Enkele dosis kan baba tot 10 dae lank lomerig maak en sy suigrefleks verswak. Dit verhoog sy risiko vir te veel gewigverlies, ontwatering en selfs geelsug.

Wenk:

As baba te vaak is om te drink, melk 'n bietjie kolostrum met die hand uit en voer hom met 'n teelepel. Dit sal sy bloedsuiker laat stabiliseer en hom meer krag gee om te voed.

2. Baba word van ma geskei

Reël voor die geboorte dat jou baba nie weggeneem word nie – nie eens vir ’n paar minute nie (tensy dit natuurlik medies noodsaaklik is). Jou dokter of vroedvrou kan jou baba net vinnig afdroog en dan vel-totvel op jou bolyf neerlê, met droë linne oor julle albei.

Jou baba sal warmer bly as in ’n broeikas en jou nabyheid stimuleer sy natuurlike voedingsreflekse. Hy kan selfs sonder hulp teen jou bolyf opkruip, jou tepel vind en begin drink. Jou borsvoedingshormone, oksitosien en prolaktien, bereik in hierdie “goue uur” ’n hoogtepunt, en velkontak met jou baba sal binding bevorder en jou melk vinniger laat inkom.

In die geval van ’n keisersnee kan jy vra dat jou baba in die herstelkamer al vel-totvel op jou geplaas word en dat hy daar bly tot hy goed gedrink het. Sekere vooruitstrewende hospitale laat in die teater al vel-tot-vel-aanraking toe, maar die meeste is huiwerig aangesien die temperatuur so laag is.

Wenk:

Vra om jou baba 24 uur per dag in jou hospitaalkamer te hou. Borsvoeding verloop gladder, die kans dat jou baba 'n infeksie opdoen is kleiner en jy kry meer rus.

3. Tepelskerms

Tepelskerms is ontwerp vir plat of ingetrekte tepels. In ernstige gevalle kan hierdie silikoonprodukte borsvoeding red, maar meestal skep dit meer probleme as wat dit oplos.

Aangesien tepelskerms met baba se suiggreep en jou melkproduksie inmeng, behoort dit net in uiterste gevalle gebruik word, verkieslik onder toesig van ’n laktasiekonsultant. Ongelukkig is tepelskerms ’n kitsoplossing in besige postnatale sale.

Dis langer en fermer as jou tepels en ontlok dus ’n sterk suigrefleks. Kort voor lank dink jou baba egter dis hoe ’n bors moet voel en wil hy glad nie meer daarsonder drink nie.

Daar is minder melkoordrag wanneer jy tepelskerms dra. Omdat kolostrum ’n dik vloeistof is, word dit moeiliker deur die skerm se klein gaatjies gesuig, amper soos wanneer jy sop deur ’n strooitjie drink! Wanneer baba dan te veel gewig verloor of ontwater, beveel mediese personeel gewoonlik byvoedings aan. Dit kan verdere komplikasies veroorsaak: ’n klassieke sneeubal-effek.

Baie ma’s dink tepelskerms help met seer tepels. In werklikheid vererger dit sake omdat dit ’n doeltreffende suiggreep verhinder. Solank baba tepelvoed pleks van borsvoed, gaan dit seer wees, met of sonder silikoonskerms.

4. Vroeë bottelvoeding

Bottelvoeding voor ses weke kan tot borsweiering lei. Baba ontwikkel ’n voorkeur vir die vinnige, volgehoue melkvloei uit ’n bottel. Borsvoeding is harde werk, en indien die tegniek nog nie gevestig is nie, maak bottels ’n baba “lui”.

Soos tepelskerms is botteltiete langer en fermer as borste. Baba verwag dan hierdie supertepel elke keer wanneer hy honger is.

Wenk:

As ekstra borsmelk of selfs formulemelk noodsaaklik is, kan jy jou baba met 'n koppie of spuit voer.

5. Voedingskedule

Vermy ’n voedingskedule; borsvoed op aanvraag. Moenie borsvoeding met bottelvoeding vergelyk nie. Borsmelk verteer binne 90 minute, terwyl formule tot vier uur hou. Jou borsbaba sál gereeld drink, gemiddeld 10 tot 12 keer binne 24 uur.

Boonop word melkproduksie bepaal deur aanvraag en aanbod: Hoe meer baba drink (of jy uitmelk), hoe meer melk sal jy maak. Niks kan jou produksie so vinnig inperk as voedingskedules nie.

Wenk:

Voed sodra jou baba honger is. Moenie wag tot hy huil nie, hy sal nie so doeltreffend voed as hy ontsteld is nie. Wees bedag op vroeë voedingstekens: kriewelrigheid, vingertjies wat gesuig word, of ’n koppie wat ronddraai op soek na die tepel.

6. Byvoedings

Sê nee dankie vir formulebyvoedings in die hospitaal, tensy dit medies noodsaaklik is. Talle navorsingstudies het bewys sulke aanvullings ondermyn borsvoeding op kort en lang termyn.

Selfs ’n enkele bottel verander die baba se dermflora, wat lewenslange gesondheidsimplikasies kan hê. Abnormale dermflora word verbind met vele gesondheidsprobleme soos koliek, migraine, vetsug, artritis en depressie.

Wenk:

Hou in gedagte dat die tweede nag ná ’n normale geboorte (die derde ná ’n keiser) uitdagend gaan wees. Jou baba sal min slaap en byna permanent wil suig. Dis normaal en noodsaaklik om jou volle melkvoorraad in te bring, nie ’n rede vir byvoedings nie.

7. Ligaamswantroue

Navorsing wys dat vroue wat aan hul vermoë om te borsvoed twyfel, meer geneig is om oor te skakel na bottelvoeding, selfs al gaan dit goed. Besluit tydens swangerskap jy gáán borsvoed, eerder as om te sê jy wil “probeer”. Moenie:

  • Uitmelk “om te sien hoeveel baba kry” nie. Geen pomp is so doeltreffend soos ’n baba nie.
  • ’n Bottel gee “om te sien of baba nog honger is” nie. Weens die werking van ’n bottel sál hy nog drink, al is hy trommeldik. Byvoedings is die begin van die einde: Hoe meer formule jy gee, hoe minder drink baba en hoe minder melk maak jy.
  • Glo jou melk is te flou nie – borsmelk is altyd perfek.

8. Stories van borsvoedingskritici

Moenie toelaat dat negatiewe mense jou moed breek nie. Diegene wat ander keuses gemaak het, kan jou probeer ontmoedig, selfs al is dit onbewustelik en subtiel. Familielede se kritiek maak die seerste.

Wenk:

Kry jou maat se steun en sluit aan by 'n groep soos La Leche League.

9. Hulp ontbreek

Kry betyds professionele bystand. Raadpleeg ’n laktasiekonsultant wanneer jou:

  • Tepels plat, ingetrek, seer of stukkend is;
  • Borste so gestu is dat baba sukkel om te drink;
  • Bors ’n teer, rooiwarm knop ontwikkel. Jy het ook ’n borsvoedingskenner nodig wanneer baba:
  • Met ontslag meer as 10 persent van sy geboortegewig verloor het;
  • Teen twee weke nog nie sy geboortegewig ingehaal het nie;
  • In die eerste drie maande minder as 140 g per week aansit;
  • Minder as vyf nat en/of twee tot drie vuil doeke binne 24 uur het (ná dag drie maar voor ses weke);
  • Minder as agt keer binne 24 uur voed, dikwels vir meer as ’n uur op ’n slag;
  • Klikgeluide maak of sy wangetjies in- en uitsuig tydens voedings;
  • Gedurig die bors verloor.

10. Fopspeen!

Moenie die fopspeen te vroeg aanbied nie. Die eerste twee tot vier weke van borsvoeding is jou “kalibrasie-fase”. Dis ’n kritiese tydperk: As baba in hierdie tyd nie jou borste gereeld en deeglik ledig nie, word daar nie genoeg prolaktien-reseptors in jou borsweefsel neergelê nie.

’n Mens kan maar sê jy skakel nie genoeg melkselle aan nie. Dit kan jou produksie permanent beïnvloed.

Wenk:

Laat baba in die eerste ses weke ál sy suigwerk aan die bors doen – al is dit vir troos. Vir so ’n klein babatjie is emosionele en fisieke behoeftes ewe belangrik.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees