book-icon Uitgawe Junie tot September 2023
Deel

KLEUTER | Leer luister

akkreditasie
Deel jou intekenaarartikels.
Jy het 0 artikels om hierdie maand te deel. Stuur hierdie storie aan 'n vriend!
Hierdie webtuiste word beskerm deur reCAPTCHA en Google se Privaatheidsbeleid en Gebruikersvoorwaardes geld.
Laai tans...
Besig om te laai. Wag asseblief...
Getty Images
Getty Images

Dink maar aan jou eie skooldae en jy sal onthou dat die meerderheid opdragte op skool mondelings deur die juffrou oorgedra is. Om goed te kan luister, is dus ’n belangrike sleutel tot jou kind se skoolsukses – selfs ná skool ook. Meer as 35 studies oor sukses in die sakewêreld het getoon dat om goed te luister, die belangrikste vaardigheid is wanneer jy sukses wil behaal.

HOOR EN LUISTER

Om te kan luister, is nie dieselfde as om te kan hoor nie. Hoor gaan oor die vermoë om klank te ontvang. Maar net omdat ’n kind klanke kan hoor, beteken dit nie hy kan hierdie klanke betekenisvol vertolk of verstaan nie. Luister gaan oor die verwerking van klanke (wat deur die ore ontvang word) deur die brein. Jou kind moet ’n begrip van klank kan vorm, die eienskappe van klanke kan onderskei en dit kan interpreteer. As hy verskillende klanke van mekaar kan onderskei, sal hy makliker kan hoor wat die onderwyseres sê en dit sal ook keer dat hy woorde met mekaar verwar, wat later weer met spelling kan help. Jou kind moet ook dit wat hy hoor kan onthou en later in herinnering kan roep. As jy hom drie opdragte op een slag gee, moet hy dit lank genoeg kan onthou dat hy dit in volgorde kan uitvoer. Dit sal hom ook help onthou wat die onderwyseres in die klas sê en sal hom liedjies en rympies help aanleer. Verder moet hy ’n duidelike begrip van klanke of groepe klanke kan vorm. Dit sal hom help om te leer lees deurdat hy sekere klanke met “prentjies” (woorde) begin verbind. Hy moet die toonhoogte en ritme van klanke kan onderskei en dit met mekaar kan vergelyk. Hy moet deur middel van sy gehoor kan vasstel waar ’n geluid vandaan kom, en hy moet in staat wees om as hy ’n woord nie duidelik gehoor het nie, die res van die woord in sy gedagtes in te vul, sodat hy iemand wat onduidelik praat steeds kan verstaan. Hier is ’n paar pretspeletjies waarmee jy jou spruit kan help om beter te luister.
WAARSKUWINGSTEKENS

As jou kind moeilik luister, kan jy gerus ’n oudioloog of spraakterapeut raadpleeg. Rooi ligte sluit in:

  • Hy lyk onbewus van die oorsprong van die klank.
  • Hy onderskei moeilik tussen eenders-klinkende klanke.
  • Hy sukkel om op een klank te konsentreer en buiteklanke uit te sluit.
  • Harde of skielike geluide ontstel hom.
  • Hy verstaan maklik vrae verkeerd of vra dat jy dit herhaal.
  • Hy sukkel om gedagtes in woorde om te sit.
  • Hy het ’n swak woordeskat en sinstruktuur.
  • Hy sukkel om rympies te onthou of self te maak.
WENK
Wys jou kind dat jy ook goed luister deur hom jou volle aandag te gee as hy met jou praat.

Speletjies wat help

LAWWE LUISTERDINGE

  • Maak grappies waar jy die verkeerde woord in ’n sin gebruik, soos: “Gaan jy vandag jou karretjie aantrek?” Julle kan lekker lag en hy leer mooi luister.
  • Speel julle is ruimtewesens en praat met daardie biep-biep-effek waar jy klanke afgemete en volgens lettergrepe uitspreek, byvoorbeeld ék-ís-’n-ruim-te-we-se.
  • Stel ’n kamma-inkopielys saam. Jy sê kaas, hy sê kaas en brood, jy sê kaas en brood en melk. Kyk hoe lank julle die lysie kan maak.
  • Sê gereeld tradisionele kinderrympies saam met jou kind op – dis ’n voorloper van goeie spelvermoë.
  • Speel rympieraaisels: “Ek dink aan ’n woord wat rym met kurk. ’n Mens eet daarmee … (Antwoord: vurk).
  • Vra jou kind vir twee woorde wat rym en maak ’n lawwe sin daarmee. Hy sê “moeg" en “spoeg”. Jy sê: “Saans is ek moeg, dan wil ek net spoeg.” Hy kan ook sy eie lawwe rympies maak.

K STAAN VIR KLANK

  • Begin ’n klankplakboek en plak prente van goed wat met dieselfde klank begin bymekaar. Byvoorbeeld: p staan vir pot, pienk, partytjie, pen.
  • Sê: rooi, robot, ratel, rond en vra hom waarmee die woordjies begin. Vra hom of hy nog woordjies ken wat met daardie klank begin.
  • Stap deur die huis en soek items wat met ’n spesifieke klank begin.
  • As hy beginklanke bemeester het, kan jy nou dieselfde doen met eindklanke. Byvoorbeeld: vet, kat en rot eindig alles met t.

MUSIEKPLESIER

  • Sing afwisselend hoë en lae note en vra jou kind moet wys waar dit is: bo vir hoog en onder vir laag. Maak beurte.
  • Tik ’n bekende liedjie met ’n stokkie uit en vra of jou kind dit kan herken. Jy kan ook die ritme uitklap. As hy sukkel, kan jy die liedjie saam neurie. Laat hom dieselfde doen, dan raai jy.
  • Klap ritmes wat hy moet naboots, soos lang klap, pouse, kort klap, kort klap pouse, lang klap. Maak beurte en kyk of julle mekaar kan uitvang.
  • Gee jou kind twee papierborde en neem self twee. Sit musiek op en sit kruisbeen op die mat. Hy moet alles wat jy doen, op die ritme van die musiek naboots. Tik die papierborde ritmies teen mekaar bo jou kop, aan jou linkerkant, jou regterkant, voor jou bors en teen jou knieë.
  • Speel verskillende soorte musiek. Vra jou kind waarvan hy hou of minder hou en hoekom.
  • Sing kort wysies met die klank “la” en laat hom dit nasing. Maak dit moeiliker en langer namate hy vorder.
  • Speel instrumente soos klokkies, stokkies en tamboeryne afwisselend. Elkeen verteenwoordig ’n sekere beweging wat jou kind moet uitvoer. Die klokkies sê dalk draf, die stokkies handeklap en die tamboeryne marsjeer.

WAT MAAK SO?

  • Vul eenderse bakkies met rys, boontjies, muntstukke, sout, knopies of ander dinge; twee van elk. Laat jou kind dit skud en luister watter items maak dieselfde geluid. Hy kan ook raai wat in elke bakkie is.
  • Stap in die natuur en probeer voëlgeluide identifiseer. Kyk of julle woorde daarby kan pas wat die klank weergee, soos “piet-my-vrou”. Julle kan ook die ritme uitklap.
  • Maak ’n speletjie daarvan om deur die huis te loop en te kyk hoeveel geluide julle kan hoor: die wasmasjien wat spoel, die hond wat blaf, die yskas wat dreun, blare wat buite in die wind ritsel, voëltjies wat tjirp, motors wat brom.
  • Maak saam goed bymekaar wat geluide kan maak. Blinddoek hom, maak ’n geluid en laat hom raai wat dit is. Jy kan byvoorbeeld papier opfrommel, hoes, papier skeur of koeldrank skink.
  • Pak poppe in ’n kring en laat jou kind met sy rug na hulle sit. Vat ’n pop en klop aan ’n stoel. As hy vra “wie is daar?” maak jou stem soos die pop s’n en gee leidrade. Barbie kan byvoorbeeld sê: “Ek het lang blonde hare en jy trek my mooi aan.”
  • Stap om die blok en vra jou kind om alles wat hy hoor, uit te ken. Skryf dit neer. Doen dit ’n week later weer. Vra hom van watter kant die klank af kom, en of dit harder of sagter word.

LEKKER LUISTERHULP

  • Speel mooi musiek en laat jou kind teken wat hy gehoor het. Jy kan gerus saamteken!
  • Speel aksieliedjies en voer die aksies uit, soos om aan jou kop te raak, te fluit of jou voete te stamp.
  • Lees vir jou kind soveel stories moontlik.
  • Maak of koop ’n speellys van stories aan sodat jou kind gedwing word om te luister sonder dat hy kan sien. Dit werk uitstekend in die motor.
  • Gebruik TV-tyd slim. As sy gunsteling-program aan die beurt kom, vra hom om sy oë toe te maak en te raai wie wanneer praat. Hy kan dan kyk of hy reg is.
  • Vir heerlike stories, gaan na afrikaans.com en kyk onder die hofie “lees dit”. Daar is gratis kinderboeke deur Anzil Kulsen waarna julle kan luister.

SPELETJIES MET MAATJIES

  • Speel stoeledans. Almal dans op die maat van die musiek en as die musiek ophou, moet hulle dadelik ’n stoel vind. Maar daar is ’n stoel te min, en een bly dus staande.
  • Speel Simon Sê.
  • Speel telefoontjie: Sit in ’n ry en fluister ’n woord van kind tot kind. Die laaste een moet dit hardop sê.
  • Speel “Koning, mag ek op reis gaan?” Die kinders staan in ’n ry en jy 20 meter voor hulle. Hulle vra om die beurt: “Koning, koning, mag ek op reis gaan?” As jy “ja” sê, vra hulle “Hoe ver?” Dan sê jy "vyf babatreetjies” (een voet direk ná die ander) of “drie reuse treë” (uitgerekte treë), “twee hasietreë” (spring soos ’n hasie) en so aan. As ’n kind verkeerd tree, moet hy voor begin. Die een wat eerste by jou is, is die volgende koning. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees