Deel

Help! My baba sukkel met krampe, winde

akkreditasie
Wanneer is dit net 'n windjie en wanneer is dit koliek? En hoe kan jy jou baba se ongemak wegstreel?

Terwyl ’n baba voed – of dit nou aan die bors of met ’n bottel is – sluk hy dikwels ’n bietjie wind. Hierdie lug kan jou baba uiters ongemaklik laat voel, tot windjies boontoe en ondertoe lei, krampe veroorsaak en jou baba tot trane dryf. Sommige babas is gelukkig en lyk asof hulle die windjies nie eens voel nie, terwyl ander baie swaarkry. 

As jou baba ’n wind gesluk het sal hy waarskynlik ophou drink, aangesien die vasgekeerde lug in sy magie hom versadig laat voel voor hy werklik genoeg gedrink het om sy dors te les. Hy kan ook huil, sy gesiggie vertrek asof hy pyn het, of begin kriewel – veral as jy hom ná die voeding wil neerlê. Gelukkig is daar heelwat wat jy kan doen om jou kleinding die stryd teen winde te help wen.

Tydens voeding

Die regte posisie tydens voeding kan help keer dat jou baba onnodig winde sluk. Of jy nou bottel- of borsvoed, probeer om jou baba se kop altyd ’n bietjie hoër as sy maag te hou terwyl hy drink. Dit sorg dat die melk na die onderkant van die maag loop sodat die lug makliker aan die bokant kan ontsnap as hy ’n windjie breek.

Ná die voeding

Ná elke voeding kan jy jou baba help om van lastige winde ontslae te raak deur dit uit te vryf. Daar is ’n verskeidenheid posisies wat jy kan uittoets; kies die een wat die beste vir julle werk.

1. Oor jou skouer: Hou jou baba met sy lyfie regop teen jou bolyf sodat sy koppie op jou skouer rus en sy boudjies deur jou arm ondersteun word. Tik of vryf sy rug dan sagkens met jou ander hand. Dit is dikwels die maklikste posisie om ’n wind uit te kry, aangesien jou baba se lyf reguit en regop is.

2. Regop sit: Laat sit jou baba op jou skoot sodat sy gesig sywaarts kyk. Sy lyf moet effens vorentoe leun en sy kop moet teen jou voorarm gestut wees, terwyl jou hand hom onder sy skouer weg van jou vashou. Vryf ferm, maar sagkens opwaarts of tik sy rug liggies met jou ander hand. Jy kan ook baba se ken in jou hand laat rus as hy nog baie klein is en sy lyfie met die onderkant van jou palm ondersteun.

3. Gesig na onder: Laat jou baba met sy gesig na onder op jou voorarm lê, met sy bolyf hoër as sy beentjies. Vryf sy rug met ferm opwaartse bewegings met jou ander hand.

Moenie haastig word as jy winde uitvryf nie – dit kan dalk ’n paar minute duur voor die winde begin uitkom. Magietyd op die vloer kan jou kleinding ook help om van sy winde ontslae te raak, so ook die speletjies waar jy liggies met sy beentjies fietsry (baba lê op sy rug en jy pomp sy bene saggies in fietstrapbewegings).

Is daar iets erger fout?

Die meeste van die tyd is krampe en winde niks om jou oor te bekommer nie en moet jy bloot uitwerk hoe jy baba die beste kan help om daarvan ontslae te raak. Soms kan winde en maagkrampe egter ’n teken wees van spysverteringsprobleme. As jou baba enige van die volgende simptome het, is dit beter om hom dokter toe te neem:

1. Diaree: Hoewel babas taamlik algemeen diarree kry, kan dit op ’n onderliggende probleem dui. Kyk uit vir enige skielike veranderinge aan jou baba se stoelgang, soos as die tekstuur daarvan skielik verander of as hy skielik baie meer of baie minder vuil doeke as voorheen het.

2. Hardlywigheid: Babas is soms hardlywig en dis beter om maar jou dokter daaroor te vra. Onthou egter dat bloot die feit dat jou baba rooi in die gesiggie raak as hy druk, of dat sy vuil doeke ver uitmekaar is, nie beteken
jou baba is hardlywig nie. Sommige borsbabas het slegs elke 10 dae ’n vuil doek! ’n Teken dat jou baba hardlywig
is, is as sy stoelgang klein, harde balletjies vorm.

3. Emosionele verandering: As jou gewoonlik rustige, tevrede baba skielik baie moeilik raak en nie wil eet of
slaap nie, is daar waarskynlik fout. Gaan liewer dokter toe as jy dink jou baba het koliek (lees hieronder) sodat
hy enige ander oorsake vir baba se gehuil of gedrag kan uitskakel. 

4. Ander simptome: Koors by jou klein baba asook bloed in die stoelgang is nie normaal nie en moet so gou
moontlik ondersoek word. 

Is dit koliek?

As jou andersins gesonde baba elke dag ontroosbaar huil, is daar ’n kans dat dit koliek kan wees. Tipies begin
koliek binne die eerste vier weke ná baba se geboorte en klaar dan weer teen so 16 weke op. Dit word gekenmerk deur ’n gehuil wat minstens drie of meer uur per dag aanhou, minstens drie keer per week voorkom en minstens drie weke duur. Natuurlik is dit genoeg om enige ma teen die muur uit te dryf! 

'n Koliekbaba...

- huil hard, intens en ontroosbaar. Dit begin gewoonlik laat in die middag of vroeg in die aand en kan ure lank aanhou.

trek dikwels sy knieë op tot teen sy bors en maak sy ruggie krom.

- se magie veol hard en lyk effens opgeswel. 

- hou sy asem op of word rooi in die gesig. 

Dokters en kenners meen koliek is nie naastenby so algemeen as wat ma’s glo nie. Moet dus nie net aanneem ’n baba met dié simptome het koliek nie – laat die dokter liewer daaroor besluit.

Die presiese oorsaak van koliek is nog onbekend, maar wetenskaplikes reken dat daar ’n verskeidenheid oorsake is wat van baba tot baba kan verskil. ’n Artikel in Acta Paediactrica, ’n joernaal oor pediatriese medikasie, identifiseer die volgende moontlike oorsake van koliek:

1. Laktose-intoleransie of allergië

2. Spysverteringsprobleme

3. Hormone 

4. Sielkundige faktore

Dokters besef ál meer dat spysverteringsprobleme nie noodwendig die hoofoorsaak van koliek is nie, en dat temperament, omgewing en ’n onvolwasse immuunstelsel alles ’n rol kan speel.

Werk so met koliek

1. Styf toegedraai: As jy jou baba knus toedraai in ’n dun kombersie, boots dit die warm, bekende omgewing van die baarmoeder na sodat jou baba veilig voel.

2. Sy-streling: As jy jou baba op sy sy neerlê, help dit die Mororefleks (skrikrefleks) keer en help dit so jou baba rustig hou.

3. Klank: Wit geraas soos dié van ’n haardroër, tuimeldroër, in die kar of langs die see, is vir jou baba strelend en kan hom help bedaar.

4. Swaai: Dra jou baba in ’n drasak of abbasak. Die ritmiese bewegings van jou lyf hou hom rustiger.

5. Suig: Hou jou baba besig met ’n fopspeen. Om aan die bors of ’n bottel te suig help om baba te laat bedaar

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees