Deel

Baba se geelsug: alles wat jy wil weet

akkreditasie
Geelsug is baie algemeen onder pasgebore babas. Hier verduidelik ons wat dit is, en hoe dit weggaan.

Jy’t so uitgesien na jou beeldskone baba, en nou lê hy daar in sy wiegie en lyk meer soos ’n gifappeltjie as ’n bloesende pienk bondeltjie. Troos jou daaraan dat meer as die helfte van alle babas ’n paar dae ná geboorte so ’n gelerige kleur kry. Dit word pasgeborene-geelsug genoem en is gewoonlik nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie. Dis egter ook nie ’n toestand wat jy mag ignoreer nie...

Wat is geelsug?

Geelsug is ’n geel verkleuring van die vel wat voorkom wanneer daar te veel bilirubien (’n gal-kleurstof) in die bloed is. Onmiddellik ná baba se geboorte begin volwasse rooibloedselle die fetale rooibloedselle vervang. Met die afbreek van die fetale rooibloedselle word bilirubien geproduseer. Gewoonlik ruim die lewer die bilirubien op en dit word dan in ontlasting uitgeskei, maar pasgebore babas se lewer sukkel soms om al die bilirubien te hanteer. Die oortollige bilirubien wat dan in die bloed is, gee baba se vel ’n geel kleur.

Hoe lyk geelsug?

Die baba se vel word gelerig en die wit van sy oë kan ook geel word. Die kleur wissel van ’n baie ligte tot heldergeel. Baba kan soms effens lusteloos wees of swak drink, veral as die geelsug erg is. Dis soms moeilik om geelsug in ’n baba met ’n donker vel raak te sien.

Wie kry geelsug?

Geelsug slaan gewoonlik uit die bloute op die derde of vierde dag ná geboorte toe. Dis baie algemeen en meer as die helfte van babas – veral vroeggebore babas wie se lewer nog meer onvolwasse is – doen dit op.Sommige babas is meer vatbaar vir geelsug indien hulle tydens die geboorte erg gekneus is of bloeding onder die vel opgedoen het. Babas wat geborsvoed word, is ook geneig om effens meer bilirubien te hê as bottelbabas, maar dit word as normaal beskou.

Watter soorte geelsug is daar?

  • Fisiologiese geelsug: Dis die mees algemene soort en verdwyn mettertyd wanneer baba se lewer meer volwasse word. Babas met fisiologiese geelsug se urine en stoelgang behou gewoonlik hul normale kleur.
  • Patologiese geelsug: Dit is ernstiger kom voor wanneer daar so baie bilirubien in baba se bloed is dat dit skade kan aanrig. Patologiese geelsug is baie meer seldsaam as fisiologiese geelsug en kan ontstaan wanneer ma en baba se bloed onversoenbaar is of wanneer baba ’n lewerprobleem het. Babas met ’n lewersiekte of -infeksie se urine kan baie donker wees en hul stoelgang vaal en selfs wit.

Hoe lank duur dit?

Fisiologiese geelsug begin gewoonlik ná sowat vyf dae afneem en verdwyn dan ’n paar dae later. Borsbabas kan dalk vir ’n paar weke effens geel bly, maar dit is skadeloos.

Hoe gevaarlik is geelsug?

Fisiologiese geelsug is selde ernstig en verdwyn gewoonlik vanself namate baba se lewer meer volwasse raak. Patologiese geelsug is minder goeie nuus omdat te veel bilirubien in die bloed breinskade kan veroorsaak. In baie ernstige gevalle kan baba konvulsies kry en in uiterste gevalle kan onbehandelde geelsug tot doofheid, serebrale gestremdheid en/of verstandelike vertraging lei.

Hoe word geelsug behandel?

Fisiologiese geelsug moet meestal net dopgehou word en geen behandeling is nodig nie. Wanneer die bilirubien te veel word, kan baba onder ’n helder blou lig behandel word. Dit word fototerapie genoem en breek die bilirubien in die vel af sodat dit in die gal uitgeskei word sonder dat die lewer dit eers hoef te verwerk.Behandeling vir patologiese geelsug sluit in fototerapie en soms ’n bloedoortapping waardeur al baba se bilirubien-ryke bloed verwyder en deur normale bloed vervang word. Soms is chirurgie nodig.

Wanneer moet ek bekommerd wees?

In verreweg die meeste gevalle hoef ’n mens jou nie oor geelsug te bekommer nie. As baba net effens geel is, moet jy hom net mooi dophou. As hy egter baie geel is, baie lusteloos voorkom of nie goed lyk nie – of as sy urine donker is en sy stoelgang vaal – moet julle dadelik by ’n dokter uitkom. As jy nie seker is nie, gaan liewer dokter toe.
• Baie dankie aan dr. Ettiene Malan, ’n pediater van Sandton in Gauteng, vir sy hulp met dié artikel.

 
Geelsug en borsvoeding

  • Geelsug duur om 2 redes soms langer by bors- as by bottelbabas:
    1. As die borsvoeding nie goed vorder nie en baba kry nie genoeg melk in nie, kry sy nie genoeg vloeistof om die bilirubien deur haar stelsel te laat beweeg nie.
    2. Soms meng ’n stof in die borsmelk met die verwerking van die bilirubien in, sodat die geelsug tot in baba se tweede maand voortduur. Dié probleem verdwyn gewoonlik vanself.
  • Gereelde, ongehinderde borsvoeding kan dus help om van die bilirubien in baba se bloed ontslae te raak. As baba vroeg leer hoe om goed vas te suig en te drink, sal die geelsug gouer verdwyn.
  • Geelsug maak babas soms lomerig en dan drink hulle met minder geesdrif. Jy sal dalk jou baba deur die loop van die dag moet wakker maak en moet aanmoedig om te voed.
  • As jou baba fototerapie nodig het, kan jy jou dokter vra of daar ander maniere is om dit toe te dien as in die hospitaal. ’n Mens kry ’n foto-optiese bilirubien-kombers (fototerapie-ligte wat om baba gevou word) wat jy tuis kan gebruik.
  • Suikerwater help nie om die bilirubienvlak te verlaag nie. Dit kan die geelsug selfs vererger omdat babas met magies vol glukose minder melk drink, en dis juis die melk wat van die bilirubien ontslae moet raak.

Bronne: askdrsears.com, www.todaysparent.com

Geelsug woordeboek

Bilirubien: Dit word ook galpigmente genoem. Dis gekleurde verbindings of afbreekprodukte van die bloedpigment hemoglobien wat in die gal uitgeskei word.

Kernikterus: Dit is die verkleuring en gevolglike beskadiging van die brein deur bilirubien. Onvolwasse breinselle word aangetas en namate die brein ontwikkel, ontwikkel serebrale verlamming wat teen omtrent ses maande sigbaar is. Ongekoördineerde bewegings, doofheid, gesigsteuringe en eet- en spraakgebreke is simptome.

Rh-bloedgroep-onversoenbaarheid: Die Rhesus-faktor is ’n groep antigene (stowwe waarteen ons lyf teenliggaampies vervaardig) wat by sommige mense op die oppervlak van die bloedselle kan voorkom. Die meeste mense het hierdie Rhesus-faktor – hulle is dus Rh-positief. Mense wat dit nie het nie, is Rh-negatief.

Bloedgroep-onversoenbaarheid is net ’n probleem wanneer die ma Rh-negatief is en die pa Rh-positief. Dan is die kans 75% dat die ongebore baba ook Rh-positief sal wees. As dit gebeur, kan die Rh-negatiewe ma teenliggaampies teen haar Rh-positiewe baba opbou, wat gevaarlik vir die baba kan wees. 

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees