book-icon Uitgawe Junie tot September 2022
Deel

RAAD | 15 wenke om jou kind se taalvermoë te ontwikkel

akkreditasie
Deel jou intekenaarartikels.
Jy het 0 artikels om hierdie maand te deel. Stuur hierdie storie aan 'n vriend!
Hierdie webtuiste word beskerm deur reCAPTCHA en Google se Privaatheidsbeleid en Gebruikersvoorwaardes geld.
Laai tans...
Besig om te laai. Wag asseblief...
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

1. Skenk aandag

Maak seker jy gee jou volle aandag wanneer jou kind ’n gesprek begin. Maak ook seker jy het eers jou kind se aandag voor jy ’n gesprek begin. Oogkontak is baie belangrik.

2. Wys dat jy verstaan

Jou kind sal aangemoedig word om meer te praat as jy positief reageer op al sy pogings tot gesprekke. Doen wat hy vra, antwoord mooi en moet hom nooit ignoreer nie.

3. Stadig oor die klippe

Kinders praat nie so vinnig soos grootmense nie. Wend ’n doelbewuste poging aan om stadiger te praat en ruspouses te laat as jy klaar gepraat het. Dit gee jou kind die kans om die gesprek voort te sit.

4. Bou woordeskat

Jy kan gerus soms moeilike woorde gebruik. Verduidelik sommer dan wat dit beteken en gebruik dit in ’n paar verskillende sinne, selfs al voel dit bietjie oordrewe.

5. Oefen ruimtewoorde

Maak baie doelbewus seker dat jou kind woorde verstaan wat dui op ruimtelike verhoudings tussen dinge. Dit is woorde soos eerste, middelste, laaste, links, regs en oorkant, en teenoorgesteldes soos bo-op, onder, agter en voor.

6. Speel raai-raai

Beskryf die funksie van ’n voorwerp en vra jou kind om te sê wat dit is. Voorbeeld: “Ons maak die matte daarmee skoon.” Antwoord: stofsuier. Gee jou kind ’n beurt om vir jou ook definisies te gee.

7. Verduidelik versamelings en groeperings

“Appels en pere is vrugte. ’n Skoen is nie ’n vrug nie.” “Katte en honde is troeteldiere. ’n Boom is nie ’n troeteldier nie.” Kyk of jou kind kan verduidelik wat die versameling se voorwerpe gemeen het en hoe dit van die ander voorwerp verskil.

8. Stappe in volgorde

Kyk of jou kind opdragte met twee stappe kan volg. As dit maklik is, kan jy kyk of hy opdragte met drie stappe kan volg. Jy kan sommer simpel stappe inwerk en ’n speletjie daarvan maak. “Blaf soos ’n hond, klap jou hande en gaan haal my boek.”

9. Pret wat laat praat

1) Speel gereeld Simon Sê. 2) Blinddoek jou kind en kyk of hy opdragte kan volg om om die tafel te loop. Blinddoek jouself en laat jou kind vir jou opdragte gee om om die tafel te loop. 3) Ruil ’n slag rolle om. Jy speel die kind en jou kind speel die ma. 4) Maak beurte om diergeluide te maak en te identifiseer.

10. Stimuleer reg

Lees en sing elke dag. Leer jou kind rympies en maak jul eie rympies op. Luister eerder na storie-CD’s as om televisie te kyk.

11. Oefen gehoor

Gee ’n lys woorde wat met “p” begin, maar gooi een “verkeerde” woord by en kyk of hy jou kan uitvang. Vra of hy aan nog “p”-woorde kan dink.

12. Gesels oor gevoelens

Gee jou kind name vir wat hy alles voel. Moedig hom dan liefdevol aan om te sê hoe hy voel eerder as om (soms onvanpas) aan sy gevoelens uiting te gee.

13. Maak musiek

Laat hom met musiekinstrumente eksperimenteer. Voorskoolse kinders kan natuurlik formele musieklesse ontvang, maar dis nie nodig nie. Maak jul eie instrumente uit alledaagse huisitems.

14. Ontwikkel ’n fyn gehoor

Lê soms doodstil op die bed met jul oë toe en fluister vir mekaar wat julle in die verte kan hoor, soos ’n voëltjie wat sing, ’n kar wat toet of die wind se geruis in die bome.

15. Raak ’n slag simpel

Praat woewer-taal. Voeg eenvoudig “wer” aan die einde van elke woord. “Jywer moetwer sower praatwer.” 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees