book-icon Uitgawe Oktober 2023 tot Januarie 2024
Deel

KLEUTER | Taalontwikkeling

akkreditasie
Deel jou intekenaarartikels.
Jy het 0 artikels om hierdie maand te deel. Stuur hierdie storie aan 'n vriend!
Hierdie webtuiste word beskerm deur reCAPTCHA en Google se Privaatheidsbeleid en Gebruikersvoorwaardes geld.
Laai tans...
Besig om te laai. Wag asseblief...
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

1. Gee aandag

Maak seker jy gee jou volle aandag wanneer jou kind met ’n gesprek begin. Maak ook seker jy het jou kind se aandag voor jý met ’n gesprek begin. Oogkontak is baie belangrik.

2. Wys dat jy verstaan

Jou kind sal aangemoedig word om meer te praat as jy positief reageer op al hul pogings tot gesprekke. Doen wat hulle vra, antwoord mooi en moet hulle nooit ignoreer nie.

3. Doen dit stadig

Kinders praat nie so vinnig soos grootmense nie. Probeer stadiger praat en laat ruspouses as jy klaargepraat het. So kan jou kind die gesprek voortsit.

4. Bou woordeskat

Jy kan gerus soms moeilike woorde gebruik. Verduidelik sommer dan wat dit beteken en gebruik dit in ’n paar verskillende sinne, selfs al voel dit bietjie oordrewe.

5. Raak ’n slag simpel

Praat woewer-taal. Voeg eenvoudig “wer” aan die einde van elke woord: “Jywer moetwer sower praatwer.”

6. Gesels oor emosies

Verskaf name vir wat jou kind voel. Moedig hom dan liefdevol aan om te sê hoe hy voel, eerder as aan sy emosies uiting te gee.

7. Speel raai-raai

Beskryf die funksie van ’n voorwerp en vra jou kind om te sê wat dit is. Voorbeeld: “Ons maak die matte daarmee skoon”. Antwoord: stofsuier. Gee jou kind ’n beurt om vir jou ook definisies te gee.

8. Oefen gehoor

Gee ’n lys woorde wat met p begin, maar gooi een “verkeerde” woord by en kyk of hy jou kan uitvang. Vra of hy aan nog p-woorde kan dink.

9. Maak musiek

Laat hom met musiekinstrumente eksperimenteer. Voorskoolse kinders kan natuurlik formele musiekles kry, maar dis nie nodig nie. Maak jul eie instrumente van alledaagse huisitems.

10. Stimuleer reg

Lees en sing elke dag. Leer jou kind rympies en maak jul eie rympies op. Luister eerder na storie-CD’s as om televisie te kyk.

11. Stappe in volgorde

Kyk of jou kind opdragte met twee stappe kan volg, en as dit maklik is, kyk of hy opdragte met drie stappe kan volg. Jy kan sommer simpel stappe inwerk en ’n speletjie daarvan maak. “Blaf soos ’n hond, klap jou hande en gaan haal my boek.”

12. Pret wat laat praat

¦ Speel gereeld Simon Sê. ¦ Blinddoek jou kind en kyk of hy aanwysings kan volg om om die tafel te loop. Blinddoek jouself en laat jou kind vir jou aanwysings gee om om die tafel te loop. ¦ Ruil ’n slag rolle. Jy speel die kind en jou kind speel die ma. ¦ Maak beurte om diergeluide te maak en te identifiseer.

13. Verduidelik versamelings en groeperings

“Appels en pere is vrugte. ’n Skoen is nie ’n vrug nie.” “Katte en honde is troeteldiere. ’n Boom is nie ’n troeteldier nie.” Kyk of jou kind kan verduidelik wat die versameling se voorwerpe gemeen het en hoe dit van die ander voorwerp verskil.

14. Oefen ruimtewoorde

Maak baie doelbewus seker dat jou kind woorde verstaan wat dui op ruimtelike verhoudings tussen dinge. Dit is woorde soos eerste, middelste, laaste, links, regs, oorkant, en teenoorgesteldes soos bo-op, onder, agter en voor.

15. Ontwikkel fyn gehoor

Lê soms doodstil op die bed met jul oë toe en fluister vir mekaar wat julle in die verte kan hoor, soos ’n voëltjie wat sing, ’n kar wat toet of die wind se geruis in die bome. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees