Dit het eintlik begin toe ek en my tuinman mekaar verkeerd verstaan het. Ek het bedoel hy moet ’n paar plantjies bymekaarplant sodat die fyn wit blommetjies later in blomtyd ’n mooier, dramatieser vertoning kan lewer. Toe plant hy die saailinge in netjiese, klein sirkeltjies.
Feetjieteaters, het ek my twee japsnoete oortuig. Sodat elke feetjie op ’n plantjie kan sit en mooi kan sien wanneer hul feetjiemaatjies snags in die maanlig dans en konsert hou in die sirkel in die middel.
Vóór die feetjiesirkels al was my twee dol oor ons posseël van ’n voortuin. Daarvoor het die malse geure van die laventel, ment, rose en jasmyn gesorg – ook die sagte groen gras, voëlbadjie en die witklippie-en-baksteenpaadjie wat ek en die oudste een middag self ontwerp en gepak het.