book-icon Uitgawe Oktober 2023 tot Januarie 2024
Deel

KLEUTER | Goed beter boeke!

akkreditasie
Deel jou intekenaarartikels.
Jy het 0 artikels om hierdie maand te deel. Stuur hierdie storie aan 'n vriend!
Hierdie webtuiste word beskerm deur reCAPTCHA en Google se Privaatheidsbeleid en Gebruikersvoorwaardes geld.
Laai tans...
Besig om te laai. Wag asseblief...
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Plak en leer

Leer van kleure saam met Ollie Olifant is propvol plakkers en aktiwiteite sodat jou kleuter speel-speel van kleure kan leer en op die koop toe lekker besig kan bly. Leer van vorms en teenoorgesteldes saam met Krokkie Krokodil beloof dieselfde, maar die tema is vorms en teenoorgesteldes. Dis die perfekte pretboekies vir die oefen van motoriese vaardighede en leer jou kind ook basiese begrippe. R80 elk, Human & Rousseau.


Deur ’n 7-jarige geskryf!

Op haar daaglikse stappie ontdek die hennetjie Colette ’n verlore veer wat behoort aan Viviane, die gans. Sy besluit om dit terug te besorg. Kort daarna ontdek Viviane nog ’n verlore veer. Dit behoort sekerlik aan Gaston, die kalkoen, wat ook ’n veer verloor het. Maar hoekom waai al hierdie mooi vere die wêreld vol? Giulia le Roux was maar sewe jaar oud toe sy dié storie geskryf het. Sy was nege toe dit in Frankryk gepubliseer is – ’n rekord! En nou is dit in Afrikaans oorvertel deur haar oom en peetpa, Nataniël. Vyf verlore vere met illustrasies deur Juani Scholtz. R200, Lapa.


Wat ’n avontuur!

Die plaaslike avonturier Riaan Manser se My First Wild Island Adventure is nou ook in Afrikaans te kry. In 2009 het Manser ’n wêreldrekord opgestel toe hy die eerste persoon was wat man-alleen en sonder hulp met ’n kajak om die wêreld se vierdegrootste eiland, Madagaskar, geseil het. Hierdie kolossale reis van 5 000 km het elf maande geduur. My eerste wilde eiland-avontuur laat kinders die ontdekkingsreis in ’n prettige, geïllustreerde weergawe beleef. R190, Lapa.


Sy woord is Sy woord

My eerste Beloftebybel deur Ewald van Rensburg plaas die klem op vyf kernbeloftes van God. Elke belofte is pragtig deur Leana Bothma as ’n geskenk geïllustreer en die idee word verder uitgebou deur die 32 Bybelverhale en gebede van die Ou en Nuwe Testament wat gekies is om die beloftes verder te beklemtoon. Die infografika, kleurryke illustrasies en boeiende stories bemagtig ouers en versorgers om met klein kinders oor God se beloftes te gesels. R155, Bargain Books, PNA, CUM-winkels en Takealot.


Dis nou oorspronklik!

Almal in Feetjieland kan rustig slaap danksy Kaptein Fanie en Sersant Saarkie van die Feetjiepolisiediens wat ’n oog oor hulle hou! Die skrywer Leon- Ben Lamprecht is ’n betreklik nuwe stem in die Afrikaanse kinderboekmark en ons kan eenvoudig nie genoeg van sy stories kry nie! Die humor is fantasties en so eg Afrikaans dat dit die tone van lekkerkry laat krul. Raap sy boeke op net waar jy kan. Die feetjiepolisiediens is deur Zinelda McDonald geïllustreer. R160, Tafelberg.


Wat gaan by die rivier gebeur?

Nala is ’n dogtertjie wat lief is vir sing en verken. Rivier toe mag sy nie gaan nie, maar eendag besluit sy om tog ’n kans te waag en die tog alleen aan te pak. Nala sing is ’n oorvertelling deur Nonikiwe Mashologu van die geliefde volksverhaal ”Tselane en die reus”. Die kleurryke illustrasies is deur Subi Bosa. Ondersteun gerus ons plaaslike talent en skaf die boek aan. R130, Jacana.


Vir ouer kinders

Die spinnebotte slaan toe! deur Marga Jonker Venter gaan jou laerskoolkind op die rand van sy stoel hou. Laerskool Klipdassie kry besoek van dr. Ragno en sy dogter Veronica, wat vir die leerders ’n demonstrasie kom gee van die robot-spinnekoppe wat hulle bou en programmeer. Maar hulle is onder valse voorwendsels daar … Met illustrasies deur Chris Venter. R145, Tafelberg.


Wat eet Mpumi?

Hierdie Mpumi-boek is op drie- tot sesjariges gemik; dus ’n bietjie jonger as die vorige boeke in die reeks. Die kort, sjarmante storie met vrolike illustrasies deur Masego Morulane maak van die alledaagse iets heerliks. Kyk ’n bietjie wat Mpumi alles eet – jou kind sal die boekie heel moontlik memoriseer en dalk ook iets nuuts eet. Deur Lebohang Masango. R65, New Africa Books.


Tippie vir babas

Daar’s ’n nuwe Tippie-reeks, hierdie keer vir die heel kleintjies, want dis nooit te vroeg om te begin leer nie, of hoe? Die reeks is vol kleurryke illustrasies, snaakse karakters en verspotte stories wat ouers ook sal geniet. Daar is vyf boeke in die Tippie se eerste boek oor-reeks: een oor troeteldiere, een oor kleure (en emosies), een oor teenoorgesteldes, een oor syfers (1 tot 5) en natuurlik ook een oor klanke. Hierdie reeks is ’n uitstekende opvoedkundige keuse omdat dit prettig en interaktief is en jou kind ’n voorsprong sal gee wat betref fundamentele begrippe. Deur José Palmer, Reinette Lombard en Nandi Lessing- Venter met illustrasies deur Zinelda McDonald. R130 elk, LAPA. 


Koop nou en hou

Al is hierdie boek dalk te ”oud” vir jou kleingoed, kan jy dit gerus nou al aanskaf en hou vir die dag wanneer hulle oud genoeg is. Die boek is al in sy tweede druk en vlieg van die rakke af. Dit hoort op elke Suid-Afrikaanse kind se boekrak. Ons land is vol briljante mense en die stories is inspirerend. Kinders word aangemoedig om vrae te vra, te ontdek en kreatief te wees. Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage. R350, LAPA.


Psalms is vir almal

Psalms vir kleingoed is ’n versameling geliefde psalms wat deur die kinderboekskrywer Wendy Maartens aangepas is om dit meer toeganklik vir kinders te maak. Dis bedoel om kinders te help om met God te praat en om hul emosies te kan uitstort in ’n taal wat hul eie is. Lieflike illustrasies deur Zinelda McDonald maak verder van die boek ’n aanwins op elke kind se boekrak. Die boek sal ’n lieflike Kersgeskenk uitmaak. R200, Lux Verbi.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees