book-icon Uitgawe Februarie tot Mei 2023
Deel

KLEUTER | TV-kykgewoontes - Hou die kassie in sy kassie

akkreditasie
Deel jou intekenaarartikels.
Jy het 0 artikels om hierdie maand te deel. Stuur hierdie storie aan 'n vriend!
Hierdie webtuiste word beskerm deur reCAPTCHA en Google se Privaatheidsbeleid en Gebruikersvoorwaardes geld.
Laai tans...
Besig om te laai. Wag asseblief...
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Dis te verstane dat kinders graag televisie kyk. Dit neem hulle na plekke waar hulle nog nooit was nie; dit leer hulle van diere wat hulle waarskynlik nie in die plaaslike dieretuin te sien kry nie en vertel hulle van kulture ver buite jul dorp en land se grense. Sommige programme kan kinders selfs goeie maniere leer. Maar dit beteken nie dat hulle heeldag voor die kassie vasgenael hoef te sit nie. Ons bekyk die voor- en nadele van ’n medium wat ongetwyfeld ’n reuse-invloed op die jongspan het.

Die goeie nuus

  • Leer my meer: Opvoedkundige programme en DVD’s kan jou kind baie leer, van hoe om te onderskei tussen kleure en vorms tot goeie maniere.
  • Gebruik jou verbeelding: Gepaste televisieprogramme kan ’n belangrike rol speel om kinders te help om hul verbeelding te gebruik en te ontsnap na ’n speel-speel-wêreld.
  • Wolf, wolf hoe laat is dit? Die tydsduur van programme kan jou kind help om die begrip van tyd onder die knie te kry.
  • Help hulle lees: Jy kan televisie inspan om jou kind se belangstelling in boeke te prikkel deur vir hom boeke te koop oor die programme waarvan hy baie hou, of oor onderwerpe wat hom danksy TV-programme interesseer.
  • Besluite, besluite: Vra ’n ouer kind om jou te help om ’n televisierooster vir jul huis op te stel. Dit sal sy besluitnemingsvaardighede goeie oefening gee as jy hom self tussen programme laat kies.
  • Mooi so! Jy kan televisie gebruik om jou kinders te beloon vir goeie gedrag.
  • Moeilike gesprekke: Televisieprogramme bied jou dikwels die geleentheid om sensitiewe sake aan te roer, soos waarom troeteldiere doodgaan.
  • Gesinstyd: Om saam na ’n gepaste program te kyk, kan heerlike kuiertyd vir julle almal saam wees.
  • Hoe lyk die wêreld? Nuus- en geskiedenisprogramme kan jong kinders meer bewus maak van verskillende kulture, kosse en kortom, die wêreld daarbuite.

Die slegte nuus

  • Oppas, dit word ’n oppasser: ’n Mens word maklik verlei om die TV in te span om jou kind net vir ’n rukkie onder jou voete uit te kry. Kenners waarsku egter dat dit kan lei tot ’n ongesonde lewenstyl waar kinders te veel sit en te min speel.
  • Kosbare tyd: Die tyd wat jou kind voor die televisie bestee kon tyd gewees het saam met jou of ’n maatjie, met ’n boek of buite in die vars lug. Om te leer speel en gesels is vir kinders tussen twee en vyf baie belangrik en boeklees is in die meeste gevalle veel beter vir jou kind se breinontwikkeling as televisie kyk.
  • Rond en ongesond: Navorsers het al oor en oor bewys dat hoe meer ure kinders televisie kyk, hoe ongesonder is hul eetpatroon en hoe meer sukkel hulle met vetsug. Sommige studies toon ook dat kinders skeletprobleme kan ontwikkel as gevolg van ’n gebrek aan fisieke aktiwiteit en die manier waarop hulle voor die televisie sit (wat bykans nooit regop is nie).
  • Klein kopertjies: Jou kind is ’n sagte teiken vir speelgoedvervaardigers en kitskoshandelsmerke wat almal advertensietyd baie vaardig benut. Kleiner kinders kan byvoorbeeld nie onderskei tussen televisie-advertensies en -programme nie en word baie suksesvol onbewustelik geprogrammeer om sekere goed te wil hê.
  • Een, twee, drie! Televisie kan vir jou kind die verkeerde idee gee oor probleem-oplossing, want op die kassie kom die planne altyd vinnig en maklik. Wat dit erger maak, is dat geweld dikwels deel van dié planne uitmaak.
  • Slaapsteler: Sommige navorsers beweer dat die slaappatroon van kleuters wat te veel televisie kyk, versteur word en dat hulle ál meer ongereeld begin slaap.
  • Na-apers: Kinders wil graag die toertjies naboots wat hulle op televisie sien. Die waarheid is egter dat hulle nie soos hul ratse held kan spring en klim sonder om seer te kry nie.
  • Klein maar getrein: Kinders kan van kleins af met die afstandbeheerder werk, wat dit vir hulle maklik maak om van kanaal tot kanaal te wip en so op programme af te kom wat beslis nie vir hul oë bedoel is nie.
  • Nie nuuskierige agies: Van die mees gesaghebbende navorsing oor die invloed van televisie op kinders het bevind dat te veel televisie kinders ontneem van die vermoë om innoverend te dink en dat hierdie kinders selde nuuskierige kinders is.
  • Heeltyd feetjieland: Klein kindertjies sukkel om te onderskei tussen die werklikheid en ’n fantasiewêreld. Te veel tyd voor die televisie kan jou kind te ver van die werklikheid af wegvoer.
    10 TELEVISIEKYK-WENKE
    1. Neem deel Maak seker jy kies programme en DVD’s wat jou kinders noop om aktief deel te neem – fisiek of intellektueel – soos om te sing, hande te klap of te help om ’n probleem op te los.
    2. Kyk wat hulle kyk Maak ’n lys van alles waarna jou kinders elke week op televisie kyk. So kan jy bepaal of julle dalk te veel televisie kyk (een uur per dag is oorgenoeg vir alle voorskoolse kinders) en of die programinhoud na wense is. Onthou dat die programme by jou kind se ouderdom moet pas en beslis nie gewelddadig moet wees nie. Voorskoolse kinders is veral geneig om gewelddadige gedrag te toon as die programme wat hulle kyk geweld bevat.
    3. Hou by die reëls Stel ’n rooster op en lê reëls neer oor wanneer daar in julle huis televisie gekyk mag word en wanneer nie, soos net vir ’n rukkie ná skool, maar glad nie voor skool of ná aandete nie. En maak seker oumas, oupas en oppassers ken ook dié reëls.
    4. Raak betrokke Gesels met jou kinders oor die programme of DVD’s waarna hulle kyk. Kyk saam en vra hulle wat gebeur het en wat hulle geleer het as die program verby is.
    5. Jy verdien dit Sommige sielkundiges sê televisie kan net soos ’n speelding of speeltyd gebruik word as ’n beloning vir goeie gedrag.
    6. Weer en weer Neem jou kinders se gunsteling- programme op sodat hulle weer daarna kan kyk.
    7. Stel ’n voorbeeld Dit help nie jy preek vir jou kinders oor minder tyd voor die kassie as jy self ure daarvoor deurbring nie.
    8. Vra raad Vra ander ma’s, onderwyseresse en dié wat weet watter programme hulle kan aanbeveel.
    9. Wees spesifiek As jou kind vra om televisie te kyk, vra hom wat hy wil kyk. Moet hom nie sommer net laat kyk nie.
    10. Lees ingelig Lees resensies oor televisie-programme en probeer soveel moontlik uitvind oor die programme wat jou kinders kyk.
    Baie dankie aan Elizabeth Wallis, ’n Johannesburgse sielkundige wat in kinderontwikkeling spesialiseer, wat met dié artikel gehelp het.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees