Deel

Hardlywigheid 101

akkreditasie
As jy jou kind nie nou help om te poef nie, kan dit 'n lewenslange probleem raak.

Kyk ’n bietjie na dié syfers:

  • Tot 28 persent van kinders ly aan hardlywigheid en dis veral die kleintjies wat die meeste geraak word.
  • Drie tot vyf persent van besoeke aan pediaters vind plaas weens chroniese hardlywigheid.
  • Een uit vier hardlywige kinders sukkel selfs as grootmense met die probleem.

As jou kind drie of minder spontane dermbewegings binne sewe dae het en die stoelgang is hard, is sy hardlywig. Gewoonlik is die passering van hierdie stoelgange ook baie seer.

Wat is normaal?

Borsbabas kan enigiets van ’n paar stoelgange per dag of een stoelgang binne 10 dae hê; dis alles normaal. Die poef is sag met korreltjies in en geel van kleur. Formulestoelgang is gewoonlik stywer, maar behoort steeds sag te wees en kan geel, groen of bruinerig wees.

Kleuters se poef behoort sag tot gevorm te wees. Die kleur is bruinerig, maar sal ook afhang van wat hulle geëet het. ’n Poef elke dag is goed, maar as jou kind net elke tweede dag ’n draai loop en dit is sag en nie seer nie, is dit ook normaal.

Wat veroorsaak hardlywigheid?

As Pa, Ma of Boetie hardlywig is, is Sussie se kans groter om ook hardlywig te wees. ’n Laeveseldieet lei nie altyd tot hardlywigheid nie, maar speel in baie gevalle ’n rol omdat vesel kos vinniger deur die
spysverteringskanaal laat beweeg.

Hoe langer kosreste in die dikderm bly, hoe meer water word daaruit geabsorbeer en hoe harder word die stoelgang. Omdat dit seer is om harde stoelgang uit te kry, hou kinders dit terug om pyn te vermy.
Dis waarskynlik een van die hoofoorsake van hul chroniese hardlywigheid.

As jou kind hardlywig word, let op na veranderinge wat dalk plaasgevind het; dit kan jou help om die oorsaak te bepaal.

Die gevolge

In chroniese hardlywigheid hoop stoelgang op in die onderste deel van die dikderm en die rektum. Namate die rektum groter word, is daar ’n verlies aan gevoel en die drang om te ontlas verminder. Tot 84 persent van kinders met chroniese hardlywigheid ontwikkel dan enkoprese.

As ’n kind ouer as vier jaar is, aan chroniese hardlywigheid ly en gevormde, halfgevormde of loperige stoelgang beland onwillekeurig in haar onderklere, het sy enkoprese. Dié gelek van stoelgang kan ’n paar keer per week of tot meer as 10 keer per dag voorkom. Dit lei in baie gevalle tot gedragsprobleme.

Hoe word dit behandel?

Hoe ernstiger die hardlywigheid, hoe meer aggressief moet die behandeling wees. Die erns van hardlywigheid word bepaal deur die grootte van die stoelgang, hoe gereeld jou kind poef en hoe seer dit is, asook hoe lank die hardlywigheid aanhou.

In ’n ernstige geval sal die dokter ’n xstraalfoto van die magie aanvra. Hierop kan duidelik gesien word tot waar die stoelgang in die dikderm ophoop en hoe erg die rektum verwyd is. Die verstopping moet dan verwyder word met die hulp van ’n enema, wat die stoelgang sag maak sodat dit maklik kan uitkom.

Lakseermiddels sal ook voorgeskryf word om seker te maak die derm word van enige opgehoopte stoelgang geledig. Hou daarna jou kind se ontlasting dop en gee meer of minder lakseermiddels tot gereelde, sagte stoelgange terugkeer. Raadpleeg jou dokter as jy onseker is.

Laat jou kind gereeld op die toilet sit om die derm in ’n roetine te kry. Besluit watter tyd van die dag geskik is sodat sy rustig kan sit en wag dat haar magie werk. Ná ontbyt of ná aandete is gewoonlik ’n goeie tyd. Namate die derm in ’n roetine kom, moet die lakseermiddels verminder word en sal ’n hoëveseldieet alleen die werk doen.

Lakseermidels

Laktulose (Duphalac, Lacson of Laxette) en gliseriensetpilletjies kan oor die toonbank gekoop word en is veilig vir babas. Dit is egter beter om altyd ’n dokter te vra voor lakseermiddels gegee word, want die meeste middels kan die derm lui maak as dit te lank gebruik word.

Wanneer dokter toe?

Hoe vroeër die probleem hanteer word, hoe beter. Soek dus so gou as moontlik hulp. As dit ’n ligte tot matige probleem is, kan julle ’n dieetkundige raadpleeg. As die stoelgang baie hard is, baie pyn veroorsaak vir langer as twee weke, moet julle dokter toe. Vra die dokter ook om jou na ’n dieetkundige te verwys.

Baie kinders bly steeds hardlywig nadat mediese hulp gesoek is. As dit gebeur, raadpleeg ’n gastroënteroloog.

Njam, njam, vesel

Vesel is onverteerbare koolhidrate en kom voor in alle vrugte, groente, volgrane (soos volkoringontbyt- kos, volkoringbrood en -paste, bruinrys) asook peulgroente (soos boontjies, lensies en gesplete ertjies).

Twee soorte vesel word onderskei: oplosbaar en onoplosbaar. Onoplosbare vesel soos koringsemels
speel die belangrikste rol in laksering. Bakterieë laat die vesel gis en danksy die water wat dit vashou, word die derminhoud groter en sagter. ’n Groter stoelgang stimuleer dermbeweging sodat dit vinniger deur die dikderm skiet en daar min tyd oorbly vir water om geabsorbeer te word.

Min navorsing is gedoen oor hoeveel en watter soort vesel kinders nodig het, en daarom word veselryke kos bo aanvullings verkies. Veselaanvullings maak kinders versadig en verskaf geen vitamiene, minerale of energie nie. Dit kan ook inmeng met die opname van kalsium, sink en yster.

Van twee jaar oud af kan die sommetjie “ouderdom + 5 gram” gebruik word as riglyn vir die minimum hoeveelheid vesel wat kleuters elke dag nodig het.

’n Hoëveseldieet met ’n verskeidenheid vrugte, groente, volgrane en peulgroente sal genoeg voedingstowwe en vesel verskaf. Vermeerder veselinname geleidelik om simptome soos opgeblasenheid en winderigheid tot die minimum te beperk.

Vir babas moet harde skille en groot pitte verwyder word. Van omtrent agt maande oud af kan klein hoeveelhede peulgroente soos gekookte rooi lensies gegee word. Dis baie belangrik om genoeg water saam met hoëveselkos te drink, anders word die stoelgange harder en kan die derm selfs verstop.

Versprei veselryke kosse en water regdeur die dag.

Help jou kind van vroeg af:

0-6 maande

Babas wat eksklusief geborsvoed word, ly byna nooit aan hard lywigheid nie.

Oorsake:

  • Formulemelk kan hardlywigheid veroorsaak weens onverteerde palmitiensuur wat met kalsium bind om onoplosbare sepe te vorm. Hierdie vetsuur-sepe veroorsaak harde stoelgang.
  • Jou kind begin te vroeg vaste kos soos pap eet.

Voorkoming en behandeling

  • Eksklusiewe borsvoeding is die beste vir jou baba.
  • As jou baba formulemelk drink, moet dit reg aangemaak word en moet jou baba die korrekte volume vir sy gewig drink.
  • Moenie vaste kos gee voor jou baba gereed is daarvoor nie. Die meeste babas is eers teen ses maande oud gereed vir vaste kos.
  • Masseer jou baba se magie liggies regsom elke keer as jy sy doek ruil.
  • As jy vermoed sy derm is verstop, kan jy ’n oorpluisie met ’n bietjie petroleumjellie aan liggies tussen sy boudjies indruk.
  • Gebruik ’n formulemelk wat spesifiek vir hardlywigheid ontwikkel is as die probleem nie beter word nie.

6-12 maande

’n Baba se stoelgang verander drasties wanneer vaste kos ingesluit word.

Oorsake

  • Groot hoeveelhede melk – meer as 1 liter binne 24 uur
  • Te veel verfynde koolhidrate soos witbrood en koeldrank en te min vrugte en groente
  • Ysteraanvullings Voorkoming en behandeling
  • Beperk melk van sewe maande af tot 800 ml binne 24 uur en van 11 maande af tot 600 ml.
  • Sluit ’n verskeidenheid vrugte, groente en maklik verteerbare grane in wanneer met vaste kos begin word.
  • Kook hawersemels as ’n pap en sit ’n paar keer per week voor.
  • Natuurlike lakseermiddels soos gestoofde pruimedante of pruimedantsap kan gegee word indien nodig.
  • Leer ook jou kind om water (sonder geurmiddels) te drink wanneer vaste kos ingesluit word. Gee minstens 250 ml gekookte, afgekoelde water.
  • Gee liewer ysterverrykte pap as ysteraanvullings. Indien jou dokter aanvullings voorgeskryf het, verminder die dosis of gee dit net elke tweede dag.

1-3 jaar

’n Kleuter se hoofbron van voeding is nie meer melk soos in die eerste 12 maande van sy lewe nie, maar kos. Kleuters het hul eie wil, ook wanneer dit by kos kom. Doen moeite om steeds hoofsaaklik gesonde hoëveselkosse te gee.

Oorsake

  • Groot hoeveelhede melk – meer as 750 ml binne 24 uur
  • Laevesel-dieet en/of lae vloeistofinname
  • Ysteraanvullings
  • Stoelgangterughouding kan ’n rol begin speel, veral as jy druk op hom plaas om die potjie te gebruik terwyl hy nog nie gereed is nie.

Voorkoming en behandeling

  • Gee 500 ml melk per dag vanaf 1 jaar.
  • Verhoog geleidelik die hoeveelheid vesel in die dieet deur elke dag vrugte, groente, volgraanstysels en klein hoeveelhede peulgroente te gee.
  • Moenie melk gee om te drink as hy weier om sy kos te eet nie.
  • Laat hy elke dag twee tot drie koppies skoon water drink.
  • Gee natuurlike lakseermiddels soos gestoofde pruimedante indien nodig.
  • Moedig normale fisieke aktiwiteit aan.
  • Staak ysteraanvullings, verminder die dosis of gee dit net elke tweede dag.
  • Moenie te veel potjiedruk op jou kind plaas nie. Vestig ’n gesonde toiletroetine deur hom vyf tot tien minute lank op die potjie te laat sit. Sit by hom en lees ’n boekie.
  • As hy kla dat dit seer is om te poef, kan ’n lakseermiddel gebruik word voor ’n bose kringloop van terughouding begin.

Ouer as 3

Die meeste kleuters is teen drie jaar van die doeke af en moet leer om na hul liggaam te luister. As jou kind voel hy wil poef, moet hy soms kies om ’n baie interessante speelding of maatjie te los. Hy kan skaam wees om te vra om toilet toe te gaan of selfs bang wees vir die toilet op ’n vreemde plek en kies om stoelgang terug te hou.

Oorsake

  • Stoelgangterughouding
  • Laeveseldieet
  • Lae vloeistofinname
  • Ysteraanvullings
  • Voorkoming en behandeling
  • Vandat jou kind begin leer om die potjie te gebruik, is dit belangrik om hom te leer om na sy liggaam te luister en te reageer as hy voel sy magie wil werk.
  • Laat hy ná etes op die toilet sit. Gee ’n boekie om deur te kyk.
  • Fokus op gesonde kos en veselryke peuselhappies.
  • Gee drie koppies water per dag en beperk vrugtesap en koeldrank tot maksimum halfkoppie per dag.
  • Word ’n aktiewe gesin.
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees