Deel

Die potjie-parade

akkreditasie
Is jou kleinding gereed vir die potjie? Hier's al jou vrae beantwoord

Wanneer is my peuter gereed vir potjielesse?

Potjie- en toiletgebruik vereis dat twee dele van jou peuter se liggaam al ontwikkel het. Die betrokke senuwees en spiere moet ontwikkel wees en jou peuter moet die boodskap wat vanaf die brein na die spiere, blaas en derm gestuur word, kan verstaan en interpreteer. Jou peuter moet dus ook al taamlik goed kan praat wanneer die potjie-parade begin.

Die meeste peuters het teen 24 maande dié ontwikkeling byna voltooi. Die eerste teken dat jou kind gereed is om die potjie te beproef is sy eie belangstelling in toiletsake. Hy begin met die toilet speel, gebruik woorde soos poefies en piepie, trek aan sy doek en maak jou bewus van die feit dat iets nou net in sy doek gebeur het.

Voor jy met potjielesse begin, onthou: Jy kan die proses nie deurdruk of vervroeg nie omdat dit van jou peuter se fisieke ontwikkeling afhang. Laat hy jou lei en hou sy optrede dop wanneer iets in sy doek gebeur het. Potjie-gereedheid het meer met jou peuter se ontwikkelingspas te doen as met ouderdom.

"My seuntjie stel nog nie belang nie"

Die ander ma’s by die dagsorg sê hul spruite is al op 18 maande of jonger potjieslim. My seuntjie, Wikus, is al 22 maande oud en stel nog glad nie daarin belang nie. Is daar fout?

Onthou dat elke kind uniek is en teen sy eie pas ontwikkel. As Wikus nog nie potjiegereed is nie en jy dwing hom, sal julle albei misluk en angstig raak. Spanning en mislukking kan die proses net belemmer. Moet jou nie steur aan ander se spogpraatjies nie; laat Wikus jou lei en pak die leerproses op die regte tyd en sonder druk aan. Hoe langer jy wag, hoe vinniger sal julle sukses behaal.

"Sy't gereed... nou wat?"

Minette is 28 maande oud en begin tekens toon dat sy potjiegereed is. Wat nou?

Julle staan nou aan die begin van jul reis na die potjie-paradys. Neem haar saam winkels toe en kies saam ’n potjie uit, en ook mooi “grootmeisie”-broekies. Sit die potjie in die badkamer langs die toilet neer en as sy wil inkom terwyl jy die toilet gebruik, laat haar toe. Die beste manier om te leer is deur jou voorbeeld.

Probeer in die somer met potjielesse begin – daar’s minder klere om uit te trek en dis ook nie so koud om op die potjie te sit nie. Kies ’n dag wanneer jy heeldag by die huis gaan wees sodat jy jou volle aandag aan haar kan gee. Naweke is ’n goeie keuse. Gesels Maandag dan met haar dagma of kleuterskool-juffrou sodat julle die bal aan die rol kan hou.

Hou haar dop ná ete of nadat sy iets gedrink het en neem haar potjie toe wanneer sy begin kriewel. As daar iets gebeur, prys haar – dis ’n groot oomblik vir julle albei. As niks gebeur nie, moenie ’n ophef daarvan maak nie en probeer later weer.

Onthou dat dit ’n proses is en moenie verwag dat alles ná een dag klopdisselboom sal verloop nie. Daar gaan glipsies wees. Moenie kwaad of ongeduldig word nie en moet haar in geen omstandighede laat sleg voel as sy ’n glipsie kry nie, Wees ondersteunend en haar grootste aanmoediger – hoe rustiger jy is, hoe rustiger sal sy wees.

"Hy's nog op sy nagdoek"

Wimpie gebruik al vir ’n geruime tyd sy potjie baie suksesvol in die dag. Wanneer kan ons van die nagdoek afskeid neem?

Let in die oggende op wanneer jy sy doek omruil of dit nat of droog is. As hy 7 oggende ná mekaar met ’n droë doek wakker word, kan jy ’n toetslopie onderneem. Maak wel voorsorg vir glipsies, neem hom badkamer toe voor hy gaan slaap en trek sy bed met ’n waterdigte laken oor. Jy kan selfs die potjie langs sy bed neersit. Verseker hom dat hy jou in die nag kan roep as hy jou hulp nodig het.

"Verskil die potjie-parade vir seuns en meisies?"

Ek wil weet waarom my seuntjie langer vat as wat my dogtertjie het?

Sommige seuntjies is later potjiegereed as meisies en dit duur ook langer voor hulle sonder ’n doek slaap. Seuntjies sal aan die begin sit en piepie en sal later leiding neem van hul pa of ’n vaderfiguur. Vra die man in die huis om jul seuntjie saam te neem badkamer toe.

"Ons is terug waar ons was"

Ons potjielesse het seepglad verloop, maar vandat ons verhuis het, is daar weer glipsies.

Spanningsvolle of traumatiese situasies soos verhuising, ’n nuwe skool of die dood van ’n troeteldier kan ’n terugslag veroorsaak. Begin geduldig weer van voor af en moet jou kind nie laat sleg voel daaroor nie.

Soveel kinders, soveel potjiemaniere

Sommige peuters word vanself potjieslim. Veronica Exter van Pretoria se seuntjie Oliver het op sy tweede verjaardag self sy doek uitgetrek en die potjie begin gebruik. Sy nagdoek het sommer ook die eerste aand gewaai, met groot sukses. Veronica se tweede seuntjie, Broden is egter al 30 maande oud en het nou eers belangstelling in die potjie begin toon.

Natasha Taljaard van Springs se dogtertjie Sasha is 33 maande oud en gebruik haar potjie net in die dag. Sasha het op 25 maande die potjie begin gebruik. Natasha sê die potjie wat sy vir Sasha gekoop het, speel ’n liedjie wanneer iets daarin val en dis ’n groot aansporing.

Potjie-reëls

Onthou om basiese badkamerhigiëne van jongs af deel van jou peuter se roetine te maak, soos dat hy moet handjies was ná potjiegebruik, die deksel moet afslaan wanneer die toilet gespoel word en homself reg en skoon moet afvee. Die beste manier is deur jou eie voorbeeld.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees