Deel

Koors-konsternasie

akkreditasie
Koors is ’n temperatuur van 38º C of hoër – hier is alles wat jy moet weet.

’n Normale liggaamstemperatuur vir kinders sowel as volwassenes is 36 tot 37º C. 'n Temperatuur van 38°C of hoër dui op koors. Dis nie altyd visueel sigbaar nie en jy sal dalk agterkom dat jou kind haar anders gedra nog voor sy kla sy voel siek.

Haar gesig of wange sal moontlik rooi en warmer as gewoonlik voel. Sy kan ook buitengewoon bleek wees en sonder eetlus, of kouekoors hê. Partykeer voel ’n kind se vel koel, al het sy koors. Dis wanneer haar liggaam hard werk om die koors te laat sak deur te sweet en die vel af te koel. ’n Baba se hande en voete voel gewoonlik koel en dis dus beter om aan haar voorkop te voel om vas te stel of sy koors het.

Hoe meet jy koors?

Dit is beter om koors akkuraat te meet as om dit te probeer skat. Die volgende metodes is die doeltreffendste:

Nuwerwetse plastiekstrokie wat teen die voorkop gehou word, dui gou en maklik aan of ’n kind koorsig is deurdat die kleur verander. Die strokies is nie heeltemal noukeurig nie, maar wel nuttig, veral vir klein babas wanneer ’n rektale termometer nie byderhand is nie.

Die gewone koorspen kan op drie plekke gebruik word: in die rektum, in die oksel, en onder die tong. Vir ’n rektale temperatuurmeting moet ’n koorspen met die woord “stubby” daarop gebruik word – dié soort koorspen het ’n silwerkleurige korter en stomper punt as die soort wat in die mond gesit word.

Oor-termometer neem die koors maklik en binne enkele sekondes deur dit in die oor te druk.

REKTALE METODE (VIR KLEIN BABAS)

Smeer petroleumjellie aan die silwerige punt van die koorspen en laat die baba op haar magie op jou skoot lê. Steek die termometerbol sagkens sowat 2 cm diep in die rektum. Hou die koorspen tussen jou wys- en middelvinger met jou handpalm na onder sodat jy jou kind se boudjies met jou duim, ringvinger en pinkie vasknyp.

Die koorspen moet nooit ingedruk word nie, maar slegs sagkens ingly. Dit moenie so styf vasgehou word dat dit kan breek as baba ruk nie. Met jou ander arm moet jy haar ondersteun en stil hou.

Hou die koorspen vir 2 minute so vas om akkuraat te meet. Verwyder die koorspen, vee die jellie af en lees die temperatuur deur te soek na die verste punt van die grys kwikstreep. Hou die koorspen tussen duim en wysvinger en beweeg stadig heen en weer. Die temperatuur sal effens hoër wees as met ’n mondmeting – jou kind het koors as die temperatuur 38º C of hoër is.

Ná gebruik moet die koorspen geskud en afgespoel word in koue water wat ’n ontsmettingsmiddel bevat. Warm water sal die glas laat bars.

OKSELMETODE (VIR OUER KINDERS)

Skud die koorspen om die temperatuur te neutraliseer en plaas die silwer punt van die koorspen (sonder petroleumjellie) in die armholte. Laat die kind haar elmboog teen haar lyf hou om te sorg dat die koorspen stil gehou word. As dit nie moontlik is nie, laat sy op jou skoot sit en hou haar arms stil deur jou arm om haar te hou. Die koorspen moet drie minute lank onder die arm bly.

Die meting sal 0,6º C laer wees as met ’n mondmeting. Tel dus 0,6º C by die lesing om die ware temperatuur te kry. ’n Lesing van 37,5º C en hoër sal dus koors aandui. Was en skud die koorspen af soos hierbo beskryf word.

MONDMETING

Die koors van ’n groter kind wat nie die koorspen sal byt nie, kan in die mond gemeet word. Plaas die koorspen onder haar tong. Sy moet haar mond vir 2 minute toe hou, koorspen onder die tong. Die meting sal nie noukeurig wees as sy binne 15 minute voor die meting iets kouds of warm gedrink het nie.

Sy moenie haar mond oopmaak nie. As sy ’n toe neus het, sal sy dus haar mond moet oopmaak om asem te kry en is ’n ander metode beter.

Jou kind moenie op die koorspen byt om dit stil te hou nie – sy kan dit met haar vingers stilhou. ’n Lesing van 38º C en hoër dui koors aan.

Wanneer is koors ernstig?

Die graad van die koors is nie noodwendig ’n aanduiding van die graad van erns van die infeksie nie, aangesien daar ernstige siektes is wat net ’n geringe styging in temperatuur tot gevolg het.
Baie hoë koors bring wel komplikasies soos stuipe mee en dis daarom belangrik om die koors in beheer te probeer hou voor koorsstuipe intree.

Laat jou lei deur die kind se gedrag. Die algemeenste oorsake van koors sluit in infeksies soos middeloorontsteking, mangelontsteking, griep en keel- en urienweginfeksies.

 

Wat kan jy doen?

Medisyne

Hoewel baie dokters koorsverligtingsmedisyne voorstaan, meen ander weer die liggaam se natuurlike stelsels word beter ondersteun deur slegs die ergste koors op ’n natuurlike manier in bedwang te hou en jou kind deur die koorsige periode te ondersteun.

Moet in elk geval nooit medisyne gee aan kinders onder 3 maande oud nie – al is dit om koors te verlig – sonder om jou dokter of pediater te raadpleeg nie.

Vir ouer babas kan jy parasetamol of ibuprofeen volgens haar ouderdom en die aanwysings op die verpakking gee.

Parasetamol is gewoonlik in vloeistof- en tabletvorm beskikbaar, maar eersgenoemde is makliker om in te gee.

Gebruik ’n druppelbuis of plastiekspuit en meng dit met ’n bietjie gekookte, afgekoelde water.
Moenie meer as die aangeduide dosis gee nie en ook nie meer dikwels as elke 4 uur nie, of soos deur jou dokter voorgeskryf.

Moet nooit aspirien vir ’n kind jonger as 12 jaar gee nie.

Dis die beste om die meeste medisyne-soorte ná maaltye te gee om te voorkom dat dit jou kind se maag omkrap.

As jou kind opgooi binne ’n driekwartier nadat sy medisyne gedrink het, laat haar ’n bietjie water of vrugtesap drink en herhaal die dosis.

Die minerale weefselsout Ferrum phos. behandel koors op ’n natuurlike manier. Gee jou kind elke uur een fyngedrukte tablet.

Jy kan ook elke halfuur Belladonna- en/of Aconite- homeopatiese druppels gee terwyl die koors akuut is; dis veronderstel om die liggaam se eie herstelvermoë te ondersteun.

Ander maatreëls

Trek jou kind se klere uit of trek haar baie koel aan. ’n Baba moet slegs ’n doek en katoenfrokkie dra.

Spons haar hele lyf met lou water af. Die verdampende water sal die temperatuur help verlaag. Moenie koue water gebruik nie, want dit laat die bloedvate saamtrek en minder hitte sal dus verlore gaan.

Tap ’n louwarm bad in en laat haar daarin speel. Moenie haar dwing as sy rusteloos raak nie.
Maak vensters oop of gebruik ’n waaier om sirkulasie van koel lug te bevorder en haar so af te koel.

Gee haar volop koue drankies om die vloeistof te vervang wat sy verloor weens sweet en versnelde liggaamsfunksies: water, vrugtesap, energiedrankies, ysblokkies of ysstokkies van bevrore sap.

Moenie ’n koorsige kind dwing om te eet nie. As sy honger is, vermy vetterige kos.

Wanneer gaan jy dokter toe?

Raadpleeg ’n dokter sonder versuim indien ’n baba onder 6 maande enige tekens van koors toon, m.a.w. ’n rektale temperatuur van 37,9º C of hoër het.

Indien ’n ouer baba ’n koors van 38,3º C bereik, of indien jou jong kind ’n rektale temperatuur bo 38,5 tot 39º C het, moet jy ook jou dokter skakel. So ook wanneer jou kind koorsstuipe kry.

Moenie jou kind warm aantrek of toedraai wanneer jy dokter toe gaan nie, selfs al is dit koud buite – die vel moet altyd kan afkoel. ’n Ligte katoenkombers is voldoende.

Onthou: Raadpleeg jou dokter altyd onmiddellik as jy besorg voel, ongeag die graad van koors wat jou kind het.    

Bronne: Peutersorg deur June Thompson (Tafelberg); Baba- en Kindersorghandboek deur Marina Petropulos; Ouerskap met Deernis en Begrip deur Suster Lilian (Human & Rousseau)

Wat veroorsaak koors?

In die algemeen is koors ’n teken dat jou kind besig is om ’n infeksie te beveg en weerstand daarteen op te bou. Verhoogde temperatuur is op sigself nie ’n slegte ding nie en ook nie ’n siekte nie. Nes wanneer twee kinders op ’n speelgrond met mekaar stoei en op die ou einde vuurwarm is, is verhoogde temperatuur ’n teken dat die liggaam sy kant bring in ’n hewige geveg.

Wat is koorsstuipe?

As jou kind se temperatuur ver bo normaal styg (38,5º C en hoër), kan dit koorsstuipe tot gevolg hê. Dit is taamlik algemeen, veral by kinders tussen 6 maande en 3 jaar oud. Dit gebeur wanneer die kind se liggaamstemperatuur só vinnig styg dat die onontwikkelde meganisme in haar brein wat liggaamstemperatuur moet verlaag, nie kan byhou nie.

Koorsstuipe begin baie skielik en word soms deur ’n hoë gil voorafgegaan. Jou kind word skielik stokstyf en haar oë kan rol of staar sonder om te knip. Haar ledemate kan krampagtig begin trek of ruk. Sy kan blou word en ’n paar minute lank bewusteloos wees. Skuim om die mond is ook algemeen.

Probeer om nie paniekerig te word nie, al kan dit skrikwekkend wees. Die stuipe is gewoonlik binne een tot drie minute verby, hoewel dit langer kan voel!

Bly altyd by jou kind terwyl die konvulsies aan die gang is. Probeer haar steeds koel hou en maak seker dat sy nie teen skerp hoeke val of kap nie. Moet egter nie die spierbewegings probeer beperk nie. Sorg dat haar lugweg oop bly deur haar op haar sy te draai. Moet niks mondeliks toedien voor jou kind nie ten volle by haar positiewe is nie.

Jou kind kan ná afloop van die stuipe baie verward wees, waarna sy gewoonlik in ’n diep slaap val. Stel haar gerus en ontbied dan jou dokter.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees