Deel

Inentings: jou volledige gids

akkreditasie
Die uitbreek van masels in ons land het pas weer gewys hoe noodsaaklik dit is dat kinders teen gevaarlike siektes ingeënt word. Maar masels is maar een van ’n reeks toestande waarteen kinders geïmmuniseer moet word voor hulle skool toe gaan. Verskyn al die immunisasies in dié artikel op jou kind se inentingskaart?

Hoe inentings werk

As die liggaam blootgestel word aan ’n onbekende stof reageer die immuunstelsel deur teenliggaampies te vervaardig om die indringer te beveg. ’n Entstof is so ’n “indringer”: ’n piepklein dosis van die kiem of organisme wat beveg moet word. Dis heeltemal te klein en min om werklik infeksie te veroorsaak, maar genoeg om jou liggaam te help om immuniteit daarteen op te bou.

As die liggaam dus later aan die ware Jakob blootgestel word, is hy reeds immuun daarteen. Immunisasie beskerm jou kind teen ’n klomp lewensgevaarlike siektes wat veral babas en kinders aanval. Sommige inentings moet opgevolg word deur nog dosisse ten einde algehele immuniteit te verkry, terwyl ander eenmalig genoeg is om beskerming teen die siekte te bied. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) red immunisasie jaarliks meer as drie miljoen lewens.

Wat en wanneer?

Terwyl sekere inentings teen aansteeklike siektes soos polio, masels, hepatitis B en tuberkulose nie verpligtend is nie, beveel die Departement van Gesondheid dit ten sterkste aan. Dit is ook gratis beskikbaar by staatsinstellings. Die tabel hieronder verduidelik wanneer jou kind watter entstowwe moet kry.

MET GEBOORTE

Poliodruppels
Dit word mondeliks toegedien. Die meeste hospitale dien hierdie inenting ’n dag of twee ná geboorte toe en jy sal waarskynlik hiér al ’n immunisasiekaart ontvang wat jy kan saamvat huis toe.

Maak dubbel seker jou kind het wel die entstof gekry, want soms word dit nie naweke en op openbare vakansiedae gegee nie. Polio is ’n ernstige siekte wat deur ’n virus oorgedra word wat voorheen baie kinders verlam of mank gelaat het. Die virus tas die senuwees aan en veroorsaak swakheid of verlamming van die bene en/of arms. Daar was in 2006 ’n uitbraak van polio in Namibië en verlede jaar weer in Midde-Afrika en Indië; die siekte is dus steeds ’n werklikheid.

Die BCG-vaksien Teen tuberkulose (tering of TB)

Dié vaksien word ook in die meeste gevalle reeds in die hospitaal toegedien. Maak seker dit word op jou kaart aangedui. Tuberkulose is ’n siekte wat steeds miljoene lewens elke jaar bedreig. In Suid-Afrika neem dit enorme afmetings aan. Dis ’n hoogs aansteeklike bakteriële siekte.

OP 6, 10 en 14 WEKE

Poliodruppels
Sien bo

DTP- en Hib-vaksien
DTP staan vir difterie (witseerkeel), tetanus (klem-in-die-kaak) en pertussis (kinkhoes) en Hib vir Haemophilus influenza tipe B. Witseerkeel is ’n baie gevaarlike bakteriële siekte wat asemhaling beïnvloed. Een uit tien mense sterf weens dié aansteeklike siekte.

Die klem-in-die-kaak-kiem leef in die grond en gaan die liggaam binne deur middel van ’n sny of ’n wond. Dit maak dan sy eie gifstof wat spierspasmas, asemhalings- en hartprobleme en selfs die dood kan veroorsaak. Kinkhoes veroorsaak hewige hoesbuie en dit beïnvloed ook asemhaling. Volgens die WGO is die kinkhoesvirus een van die ses dodelikste virusse in die wêreld.

Haemophilus influenza tipe B (Hib) is ’n gevaarlike bakterie wat gewoonlik kinders jonger as vyf aantas. Sterfte as gevolg van die Hib-siekte kom meestal by kinders onder een jaar voor en die siekte kan ook permanente skade inhou soos blindheid, doofheid, breinskade of verlamming.

Newe-effekte: Hierdie inenting kan kinders koorsig en knieserig maak; gee jou baba dus vooraf maar sowat 1 ml Panado of Calpol. As jou kind 24 uur lank ná die inenting ’n hoë koors het en onophoudelik huil, moet hy nie weer ’n kombinasie-vaksien wat die kinkhoes-vaksien insluit kry nie.

By die meeste privaat klinieke kry kinders ’n asellulêre kinkhoes-vaksien. Met dié vaksien is die gevaar van newe-effekte net 3-5 persent, teenoor ’n risiko van 30-50% met die gewone kinkhoes-vaksien wat deur die staat gesubsidieer word. Die asellulêre kinkhoes-vaksien is egter aansienlik duurder.

Hepatitis B-vaksien

Hepatitis B is ’n infeksie wat lewerskade, lewerkanker en die dood kan veroorsaak.

Bykomend (op 10 en 14 weke en nie deel van die regering se voorgeskrewe skedule nie)

Entstof teen pneumokokkus-siekte (Prevenar)
Hierdie entstof beskerm die liggaam teen ernstige pneumokokkus-siektes soos breinvliesontsteking, longontsteking en oorinfeksie. Ongelukkig is dit baie duur (sowat R500 per spuit) en as jou kind die volledige kursus kry, sal dit jou meer as R2 000 uit die sak jaag. Dit is juis kinders in minder gegoede gebiede wat die meeste deur hierdie siektes getref word en daaraan sterf, en tog maak die koste daarvan dit feitlik heeltemal ontoeganklik vir dié wat dit die nodigste het.

Druppels teen die rotavirus
Hierdie entstof word in twee dosisse op 10, 12 en 14 weke gegee, maar nie later as 6 maande oud nie. Bykans een kind sterf elke minuut wêreldwyd as gevolg van die rotavirus aan gastroënteritis. Dis veral babas in dagsorg en crèches wat teen hierdie siekte beskerm moet word.

* Daar is ook nou ’n nuwe 6-in-1-vaksien in die privaat sektor beskikbaar wat op 8, 12 en 16 weke toegedien moet word. Dié vaksien beskerm jou kind teen polio, difterie, tetanus, pertussis, die Haemophilus influenza tipe B-virus en hepatitis B. Dit word die 6-in-1-infanrix hexa genoem.

9 MAANDE

Masels-entstof
Masels kom hoofsaaklik by jong kinders voor en is een van die gevaarlikste siektes wat kinders se lewe kan bedreig. Toe ’n entstof teen masels ontwikkel is, het kindersterfte aansienlik gedaal. Kinders wat geïmmuniseer is, sal dit nie kry nie. Jou kind moes eier geëet het voor hy vir dié inenting gaan om seker te maak dat hy nie ’n reaksie het teen eiers nie.

12 MAANDE

Hepatitis A
Hierdie vaksien is bykomend en nie deel van die regering se skedule nie. Dit word sterk aanbeveel. Dié siekte val die lewer aan en aanraking met water wat onsuiwer is of kos wat besmet is, kan tot hepatitis A lei. Babas en jong kinders is hoërisiko-gevalle.

Waterpokkies-entstof
Varilrix word eenmalig toegedien en kan tot twintig jaar lank beskerming bied. Dit is ook bykomend en nie deel van die regering se skedule nie. Waterpokkies is ’n kindersiekte, maar dit kan veral by volwassenes lei tot onder meer longontsteking, meningitis, balansversteurings, nierprobleme, sekondêre infeksies en hepatitis. Hierdie entstof vrywaar kinders glad nie van die siekte nie, hoewel hulle dit meestal baie ligter kry indien die entstof wel toegedien is.

15 MAANDE

MMR-vaksien
Dit beskerm teen masels, pampoentjies en Duitse masels.

Masels
Sien bo
Pampoentjies is ’n aansteeklike kindersiekte wat kinders regoor die wêreld tref.
Duitse masels (rubella) is ’n hoogs aansteeklike siekte wat veral vir swanger vroue ’n groot gevaar inhou omdat dit die fetus kan misvorm. Die Prevenar-vaksien kan op 15 maande herhaal word.

18 MAANDE

Poliodruppels, die DTP- en die Hib-vaksien en die vaksien teen hepatitis B word herhaal. As jou kind op agt weke die 6-in-1-Infanrix hexa by ’n privaat kliniek gekry het, word dit weer toegedien.
Die Hepatitis A- en Prevenar-entstof word ook weer op 18 maande herhaal.

5 JAAR

Poliodruppels, die DTP-vaksien (of die 6-in-1-opsie) en die MMR-vaksien word weer gegee.

Moenie jou baba of kind laat inent nie as:
• Hy koors het.
• Hy ’n ernstige reaksie op die vorige inenting gehad het. Lig jou dokter of klinieksuster in as jou baba tekens van ’n eier-allergie toon sodat ’n alternatiewe maselsentstof op nege maande gegee word. ’n Gewone loopneus is nie genoeg rede om ’n inenting uit te stel nie.

Wat van die griepinspuiting?

Die jaarlikse inspuiting teen seisoenale griep word veral aanbeveel vir kinders wat lei aan asma, MIV, chroniese asemhalingsiektes en nier- en kardiovaskulêre siektes. Die griepinspuiting kan reeds van ses maande af toegedien word, veral voor en gedurende die winter.

Baie dankie aan suster Jenny Froneman van die Baby Wellness Clinic in Northcliff, Johannesburg, vir haar hulp met die artikel.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees