Deel

Swangerskap-hoofpyne, sooibrand & ander skete

akkreditasie
Naar? Toe neus? Sooibrand? Hardlywigheid? Aambeie? Hoofpyn, jukkende vel of opgeswelde voete? Hier's 'n paar wenke om swangerskap makliker te maak.

Naarheid:

Byna die helfte van alle swanger vroue beleef naarheid, veral soggens. Vroue met ’n tekort aan sekere voedingstowwe is meer geneig tot naarheid, hoewel swangerskapverwante hormone die eintlike sondaars is.

Dié hormone skiet die hoogte in gedurende week nege en tien van jou swangerskap en dis wanneer vroue op hul slegste voel. Onthou, naarheid kan ook jou liggaam se manier wees om ontslae te raak
van gifstowwe. Troos jou daaraan dat die meeste gevalle van mislikheid net in die eerste trimester voorkom.

Raad

Eet gesonde kos waarvan jy hou. As jy nooit ’n Brusselse spruitjie oor jou lippe kon kry nie, is die kans skraal dat jy nou daaraan gaan smul. Eet gereeld, want dit stabiliseer jou bloedsuikervlak.

Vroue het meer vitamien B6 en B12, foliensuur, yster en sink gedurende swangerskap nodig en naarheid is dikwels ook die gevolg van te min sink in jou liggaam. As jy baie opgooi, kan jy ’n magnesiumtekort ontwikkel. Sommige vroue sweer daarby om soggens sodra hulle wakker word ’n Provita of Mariebeskuitjie te eet.

Drink baie vloeistowwe, veral water. Gemmer is ook ’n krui wat naarheid teëwerk; skop die dag dus af
met gemmertee – dit is ook ryk aan sink – of eet ’n gemmerkoekie as ’n peuselhappie. Die homeopatiese middel Magen-druppels bied veilige verligting van naarheid.

Toe neus

Party vroue sweer hul neus raak verstop die oomblik dat hul hoor hulle is swanger – en dit is heel moontlik as gevolg van waterterughouding of opgeswelde asemhalingsmembrane weens al die ekstra vloeistof in jou liggaam.

Sommige vroue neem meer suiwel- en graanprodukte in tydens swangerskap en dit kan ook die oorsaak van die toe neus wees.

Raad

Gebruik die weefselsoute Nat mur en Nat sulph om die vloeistofbalans in die weefsels te reguleer en die verstopping van die neusgange te verlig. Neem een tablet van elk drie maal per dag.

Probeer ook die homeopatiese neussproei Nasenol. ’n Neussproei soos Iliadin is ook veilig tydens swangerskap, maar mag nie langer as vyf dae aaneenlopend gebruik word nie omdat dit ’n teenoorgestelde uitwerking tot gevolg kan hê.

Sooibrand

Tot 80 persent van swanger vroue ly aan sooibrand. Dit ontstaan omdat buikspiere rek en die kleppie tussen die slukderm en maag ’n bietjie oopgelaat word pleks daarvan om soos gewoonlik dig te sluit. Die vloeistowwe in die maag stoot dan in die slukderm op en dit veroorsaak sooibrand.

Dit raak ongelukkig erger namate die swangerskap vorder.

Raad

Sooibrand is gewoonlik erger saans of sodra jy gaan slaap. Probeer om nie te eet kort voor slaaptyd nie en vermy veral groot etes saans ná ses.

Slaap op twee of meer kussings om jou bolyf effens te lig – dit sal jou spysverteringskanaal
afwaarts laat lê. Die meeste teensuurmiddels soos Gaviscon en Rennie is veilig gedurende swangerskap, maar moenie te veel teensuurmiddels gebruik nie aangesien jy reeds tot meer alkaliniteit geneig is.

Beperk jou inname van skerp, vetterige en ryk kos. Gebruik die homeopatiese middel Magen- druppels en die weefselsout Nat phos.

Hardlywigheid

Progesteroon speel ’n baie belangrike rol in jou swangerskap, maar ongelukkig vertraag dit ook die peristaltiese bewegings van jou derm. Hardlywigheid is dus ’n algemene swangerskapskwaal.

Baie van die aanvullings wat vroue gebruik wat spesiaal vir swangerskap bedoel is, kan ook hardlywigheid veroorsaak. Moenie lakseermiddels gebruik terwyl jy swanger is nie, aangesien baie nie geskik is nie.

Raad

Oefen gereeld. Gaan stap vinnig en ver en drink baie water. Drink ’n koppie afgekoelde kookwater as jy soggens opstaan en saans net voor jy gaan slaap. Eet baie vesel en minstens vyf vrugte per dag.

Gebruik ’n aanvulling van ’n omega 3-ryke olie soos lynolie, vlasolie of visolie as jou stoelgang droog en krummelrig is.

Segiro-druppels is veilig tydens swangerskap en wonderlik vir hardlywigheid wat met opgeblasenheid gepaardgaan.

Aambeie

Aambeie is ’n vorm van spatare in die rektum en anale gebied en dit kom voor as ’n los velaanhangsel of selfs druifagtige trossies wat by die anus uitsteek.

Die belangrikste oorsake van aambeie tydens swangerskap is die ekstra gewig wat jy dra wat druk in die bekken veroorsaak. Hardlywigheid is ook ’n oorsaak.

Aambeie moet behandel word om te voorkom dat dit vererger tydens kraam.

Raad

Eet gereeld vrugte en vesel om hardlywigheid te voorkom. Gebruik die weefselsoute Calc fluor en Ferrum phos om die bloedvatwande meer elasties en sterker te maak. Jy kan Anethaine, ’n aambeisalf, aanwend.

Probeer om nie onnodig gewig aan te sit nie omdat dit ook aambeie veroorsaak.

Superwenk:

Eet minste vyf vrugte per dag, maar verkieslik nie piesangs nie, aangesien die vrug weer sommige mense hardlywig kan maak. En drink tot 2 liter water per dag.

Hoofpyn

Sommige vroue wat nooit voorheen las gehad het van hoofpyn nie, kla soms daaroor tydens swangerskap. Hoofpyn vroeg in die swangerskap is gewoonlik nie so ernstig nie, maar dié wat
in die tweede en derde trimester voorkom, moet in ’n ernstiger lig beskou word.

Raad

Beproef die weefselsout Mag phos. Drink twee tablette minstens drie maal per dag, gevolg deur ’n warm drankie soos rooibostee.

Plaas ’n koel waslap op jou voorkop. Parasetamol soos Panado is veilig tydens swangerskap, maar raadpleeg eers jou dokter. Handhaaf ’n goeie postuur en sorg dat jy gereeld goed strek. Probeer om meer te rus met die gordyne toegetrek en ‘n ligte kussing oor jou voorkop en oë.

Vel wat jeuk

Die maag, borste en sitvlak jeuk dikwels as ’n mens swanger is. Sommige vroue kla selfs dat hul labia, boarms en bobene jeuk. Dit word toegeskryf aan die vel wat rek en hormoonveranderinge.

Die gejeuk is nie ernstig nie, maar wel irriterend.

Raad

Drink die weefselsout Nat mur drie keer per dag en wend Natura se vitamien E-room aan. Gebruik spesiale rome vir swangerskap en olies soos Bio-Oil. Voeg ’n pot rooibostee en ’n hand vol koeksoda by jou badwater om die vel te streel.

Swelsel

Geswelde bene en matige waterterughouding is algemeen tydens swangerskap en gewoonlik glad nie so ernstig nie. Swelling kan verskeie oorsake hê – jou bloedvolume en bloedvatnetwerk neem geweldig toe en die verhoogde vloeistof- lading van die liggaam kan lei tot ernstige vloeistofterughouding in die liggaamsweefsels.

Dit word vererger deur die druk waaronder jou bloedsomloop verkeer as gevolg van die gewig van die swangerskap op die belangrike bloedvate in die buik, wat die bloedvloei minder doeltreffend as gewoonlik maak.

Die hart moet baie harder werk om die verhoogde volume na die hande en voete te pomp, met die gevolg dat die gedeeltes die meeste geraak word en dat bloed daar versamel.

Raad

Gaan stap elke dag minstens ’n halfuur flink, veral as jy weens jou werk baie staan of sit. Gebruik die weefselsoute Nat mur en Nat sulph om die vloeistofvlak in jou liggaam te help balanseer. Drink een tablet drie keer per dag.

Rus genoeg en lig jou voete of sit dit in koue water om die swelsel en pyn te verlig.

Superwenk:

Moenie jou enkels of knieë kruis wanneer jy sit nie. En doen enkel- en kuitoefeninge terwyl jy sit om jou bloedsomloop te stimuleer.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees