Deel

Kraam ek al? Herken die tekens

akkreditasie
Hoe weet jy dis tyd om koers te kies kraamsaal toe? Hier is die tekens dat jou bevalling op hande is. 

Dit amuseer my altyd wanneer ’n swanger vrou vra of sy sal weet wanneer sy begin kraam. ’n Mens sou dink jy sal agterkom as ’n 3,5kg-baba probeer om homself uit jou baarmoeder tot binne-in die wêreld te stoei!

Maar vir vroue ís dit moeilik om die tekens te herken. Selfs vroue wat al die lewe geskenk het, kan ’n paar uur se ongemaklike kontraksies beleef wat hulle laat glo dis die ware Jakob, net om te voel hoe dit ná ’n warm bad verdwyn.

Die gebeur soms terwyl jou lyf jou babavoortstu en aanpor om in die regte posisie op die “aanloopbaan” te kom vir wanneer die kraamproses in alle erns begin. Hierdie opwarmingskontraksies staan bekend as Braxton Hicks-kontraksies en is die baarmoeder se manier om hom op die groot dag voor te berei. Soms kan hulle egter so sterk en gereeld voorkom dat jy nie meer seker is of jou baarmoeder net oefen en of jy werklik begin kraam het nie. Die algemene reël is: Braxton Hicks-kontraksies kom en gaan, en neem af wanneer jy met jou voete in die lug sit.

HOE JOU LIGGAAM GEREED MAAK

Verligting 

Dit is die term wat gebruik word om na die verandering in die baba se posisie te verwys terwyl hy met sy kop in die bekken begin sak. Jy kan dalk nou makliker asemhaal, maar jou blaas kan begin sukkel omdat die gewig van die baarmoeder nou swaarder daarop druk.

Energie-opwelling 

Dis algemeen dat vroue wat op die vooraand van kraam staan, ’n skielike dringende behoefte kry om nes te skop. Moenie daaraan toegee nie. Spaar liefs jou energie vir dit wat voorlê.

Gewigsverlies

Namate jou liggaam weens hormoonveranderinge van oortollige vloeistof ontslae raak, kan die skaal ’n geringe gewigsverlies aandui.

Meer gereelde oefeningskontraksies

Die oefeningkontraksies kan so intens word dat jy selfs hospitaal toe jaag, net om daar uit te vind dit was als ’n vals alarm.

KLASSIEKE TEKENS VAN KRAAM 

Slym 

Die slymprop wat die serviks deur die swangerskap van die vagina afsny, begin loswikkel en kan uitkom. Daar kan selfs ’n bloedstreep of twee in wees. Soms gebeur dit in die loop van ’n paar uur; soms ’n paar dae. Dit is nie ’n definitiewe teken van kraam nie, maar bly op die uitkyk vir ander tekens wat ook voorkom.

Kontraksies 

Dit sal sterker en langer word en nader aan mekaar voorkom namate die kraamproses begin. Die baarmoederspiere sal onder die invloed van die hormoon oksitosien begin saam trek. Hierdie sametrekkings sal veroorsaak dat die bokant van die baarmoeder dikker word en die serviks dunner en korter.

Water breek 

Dit kan voor kraam of in kraam gebeur en sommige babas word selfs “in die sak” gebore. Wanneer daar laer af in die sak ’n breuk ontstaan, is daar ’n skielike uitstroming van vloeistof. As die skeur hoër voorkom, word dit meer soos ’n dun straaltjie wat uitlek. Vrugwater ruik soet en het ’n strooiagtige kleur. Dit is belangrik om onmiddellik in die hospitaal opgeneem te word of jou vroedvrou te bel wanneer dit gebeur.

Ontkenning 

Dit is ’n baie sterk teken dat jou bevalling begin het. Vroue ontken dikwels ten sterkste dat hulle in kraam is wanneer hulle in der waarheid midde-in die proses staan. Amperpa’s moet hiervoor oppas. Slaap met jul een oog oop!

Snaakse gedrag

As dit vir jou voel asof jy in ’n dwaal is, telkens wegsink in dagdromery en jou gedagtes en geheue vir kort rukkies net botstil gaan staan, is dit gewoonlik ’n teken dat jou endorfienvlak besig is om styg ter voorbereiding van die komende bevalling. Dit is dikwels die toestand waarin jy jou sal bevind wanneer jy ontken dat jy aan die kraam is. 

Ander tekens sluit in:

  • Spysverteringsprobleme, naarheid, braking en in sommige gevalle diarree.

Jy kan ook taamlik seker wees jy is in kraam wanneer:

  • jou kontraksies kort is – minder as ’n minuut uit mekaar,
  • jy rugpyn het, en 
  • jou kontraksies gereeld en meer intens word.
  • Jy behoort op pad hospitaal toe te wees wanneer jy binne 10 minute drie tot vier kontraksies kry.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees