Deel

Speel klaar met koors

akkreditasie
Koors kan jou senuwees klaar maak, veral as jou kind boonop stuipe daarvan kry. Ons vertel jou hoe om koors te herken en te behandel.

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Feb, 2016, Bladsy 71)

Jou baba het koors as hy ’n temperatuur van 38 grade C of hoër het. ’n Normale liggaamstemperatuur vir kinders en volwassenes is 36 tot 37 grade.

Dis soms moeilik om agter te kom dat jou kind koors het; jy sal dalk oplet dat hy hom anders as gewoonlik gedra nog voor hy kla dat hy siek voel. Sy lyf kan warmer as gewoonlik voel en sy gesig of wange kan rooi wees. Hy kan ook buitengewoon bleek wees, sy eetlus verloor of kouekoors kry.

Soms kan jou kind se vel koel voel, al het hy koors. Dis wanneer sy liggaam hard werk om die koors te laat daal deur te sweet en die vel af te koel. As jou baba koors het, voel sy hande en voete dikwels koel. Dis dus beter om aan sy voorkop te voel om vas te stel of dit buitengewoon warm is.

Bly egter kalm as jou kind wel koors het, want dis ’n teken dat hy besig is om ’n infeksie te beveg en weerstand daarteen opbou. ’n Hoë temperatuur as sodanig is nie ’n slegte ding nie en ook nie ’n siekte nie. Dis net ’n teken dat die liggaam sy kant in ’n hewige geveg bring.

MEET KOORS SÓ

As jy nie ’n digitale oortermometer het nie, kan jy drie ander metodes gebruik.

REKTALE METODE

Dit werk veral vir klein babatjies. Smeer petroleumjellie aan die silwerige punt van die koorspen. Gebruik net die soort waarop “stubby” staan, want die punt is korter en stomper as die soort wat in die mond geplaas word.

Laat jou baba oor jou skoot lê en steek die termometerbol versigtig sowat 2 cm diep in die rektum. Moenie dit druk of indwing nie – dit moet inglip.

Hou die koorspen tussen jou wys- en middelvinger vas met jou palm na onder oor jou baba se boudjies. Hou dit baie liggies vas. As jou baba sou skop of stoei, moet dit nie breek nie. Gebruik jou ander arm om jou baba te ondersteun en stil te hou.

Om koors akkuraat te meet, moet die pen twee minute lank inbly. Haal dit dan uit, vee die jellie af en lees die temperatuur wat by die verste punt van die grys kwikstreep aangedui word. Jou kind het koors as die temperatuur 38 grade C of meer is.

IN DIE MOND

As jou kind oud genoeg is om nie die koorspen te byt nie, kan jy dit onder sy tong plaas en hom aansê om sy mond twee minute lank toe te hou. ’n Lesing van 38 grade C en hoër beteken hy het koors. Onthou om nie sy koors so te meet as hy 15 minute voor die tyd iets kouds of warms gedrink het nie, want dan sal die lesing nie akkuraat wees nie.

ONDER DIE ARM

Plaas die koorspen se silwer punt in jou kind se armholte. Hy moet sy elmboog teen sy lyf hou sodat die koorspen nie beweeg nie. Dit werk goed as jy jou kind op jou skoot laat sit en hom vashou sodat sy armpie onder bly. Wag drie minute voor jy ’n lesing neem. Die meting sal 0,6 grade laer wees as met ’n mondmeting. Tel dus 0,6 by die lesing om die ware temperatuur te kry. Anders gestel: ’n Lesing onder die arm van 37,5 grade C of hoër dui op koors.

WANNEER IS KOORS ERNSTIG?

Die graad van die koors is nie noodwendig ’n aanduiding van die graad van erns van die infeksie nie, aangesien daar ernstige siektes is wat net ’n geringe styging in temperatuur tot gevolg het. ’n Baie hoë koors bring wel komplikasies soos stuipe mee en dis daarom belangrik om die koors in bedwang te hou voor koorsstuipe intree. Laat jou lei deur jou kind se gedrag. Die algemeenste oorsake van koors sluit in infeksies soos middeloorontsteking, mangelontsteking, griep en keel- en urienweginfeksie.

SÓ KAN JY HELP

MEDISYNE

Hoewel baie dokters koorsverligtingsmedisyne voorstaan, meen ander weer die liggaam se natuurlike stelsels word beter ondersteun deur slegs die ergste koors op ’n natuurlike manier in bedwang te hou en jou kind deur die koorsige tyd te ondersteun.

Moet in elk geval nooit medisyne gee aan kinders onder drie maande oud nie – al is dit net om koors te verlig – sonder om jou dokter of pediater te raadpleeg nie. Vir ouer babas kan jy parasetamol of ibuprofeen volgens hul ouderdom en die aanwysings op die verpakking gee. Parasetamol is gewoonlik in vloeistof- en pilvorm beskikbaar, maar eersgenoemde is makliker om toe te dien. Gebruik ’n druppelbuis of plastiekspuit en meng dit met ’n bietjie afgekoelde kookwater.

Moenie meer as die aangeduide dosis gee nie en ook nie meer dikwels as elke vier uur nie, of soos deur jou dokter voorgeskryf. Moet nooit aspirien vir ’n kind jonger as 12 gee nie. Die meeste medisynesoorte moet liefs ná maaltye toegedien word om te voorkom dat dit jou kind se maag omkrap.

As jou kind opgooi binne ’n driekwartier nadat hy medisyne gedrink het, laat hom ’n bietjie water of vrugtesap drink en herhaal die dosis. Die minerale weefselsout Ferrum phos behandel koors op ’n natuurlike manier. Gee jou kind elke uur een fyngedrukte pilletjie. Jy kan ook elke halfuur Belladonna- en/ of Aconite- homeopatiese druppels gee terwyl die koors hewig is; dis veronderstel om die liggaam se eie herstelvermoë te ondersteun.

ANDER HULP

Trek jou kind se klere uit of trek hom baie koel aan. ’n Baba moet net ’n doek en katoenfrokkie dra. Spons sy hele lyf met lou water af. Die verdampende water sal die koors help verlaag. Moenie koue water gebruik nie, want dit laat die bloedvate saamtrek en minder hitte sal dus verlore gaan.

Tap ’n louwarm bad in en laat hom daarin speel. Moet hom egter nie dwing om te bad as hy rusteloos word nie. Maak vensters oop of skakel ’n waaier aan om koel lug te laat sirkuleer en hom so te laat afkoel. Gee hom volop koue drankies om die vloeistof te vervang wat hy verloor omdat hy sweet en sy liggaamsfunksies vinniger is. Water, vrugtesap, hidrasiedrankies, ysblokkies of ysstokkies van bevrore sap is goeie keuses. Moenie ’n koorsige kind dwing om te eet nie. Vermy vetterige kos as hy tog wil eet.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees