Deel

Komkommerkoel oor koors

akkreditasie
Koors kan jou baba sommer gou minder lekker laat voel. So hoe hanteer jy dit slim?

Koors is nie 'n siekte nie, maar wel een van die eerste tekens dat jou baba nie 100 persent gesond is nie. As jou baba koors het, wys dit gewoonlik dat sy lyfie hard aan die werk is om infeksie te keer. Dit kan hom ongemaklik laat voel en knieserig maak. Hier is raad om verligting te bring. 

1. Genoeg vog in sy lyfie

Maak seker jou baba neem genoeg vloeistowwe in sodat hy nie ontwater nie. “Helder vloeistowwe of melk (borsmelk of formulemelk) behoort genoeg te wees. Jy kan ook ’n elektrolietoplossing aanbied. As jou baba reeds vaste kos eet, moedig hom aan om te eet ook,” sê die Johannesburgse pediater dr. Diliwe Ngwezi.

2. 'n Louwarm sponsbad

Trek jou baba uit en spons sy lyfie af met ’n spons wat in louwarm water gedoop is. Hy sal gemakliker voel en dit
kan help om die koors te laat daal. Moenie jou baba in ’n yskoue bad sit nie, want dit sal ’n te groot skok vir sy lyf wees. 

3. Hou hom koel

Waak daarteen om jou baba te warm aan te trek of toe te maak. Onthou, sy handjies en voetjies is nie ’n aanduiding van hoe warm jou baba is nie. Diliwe beveel aan dat jy jou baba in ’n koel kamer met genoeg ventilasie voed. Jy kan ook ’n waaier gebruik om hom koel te waai.

4. Gee parasetamol

As jou ander pogings om die koors te laat daal nie werk nie, kan jy jou baba parasetamol soos Panado of Calpol gee, maar streng volgens die doseringsaanwysings op die pakkie, sê Diliwe. “Onthou dat die korrekte dosis parasetamol volgens gewig bereken word en nie volgens ouderdom nie. Ons sien dikwels babas wat ’n oordosis ingekry het, wees dus maar versigtig.”

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees