Deel

Warm patat!

akkreditasie
Jy kan nie kanse waag as jou kind koors het nie, maar jy hoef ook nie paniekerig te word nie. As jy weet hoe om op te tree, sal jy rustig kan wees en haar kan help om gou weer beter te voel.

Koors is ’n oertegniek wat die liggaam inspan om infeksie te bestry. Maar dit beteken nie jy moet ’n koors net laat uitwoed sonder om dit in bedwang te probeer bring nie, waarsku prof. Pieter Fourie, ’n pediater by die Cape Gate Mediclinic in Brackenfell, Kaapstad. As koors nie beheer word nie, kan dit lei tot braking, eetlusverlies en ernstige verswakking.

Koors is die reaksie van die liggaam op afgebreekte produkte wat van bakterieë en virusse af kom, asook van plekke waar daar ontsteking is, soos wanneer baba tande kry.

Meet koors só

Dis belangrik om die regte koorspen te gebruik, sê dr. Wynand Goosen, ’n huisdokter van Brackenfell wat in kindersiektes spesialiseer.

Hy sê digitale koorspenne is ’n goeie keuse en is meestal goedkoop. Jy kan dit gebruik om koors teen die voorkop of onder die arm te meet. Bly liewer weg van outydse kwik-koorspenne omdat dit gevaarlik kan wees as dit breek, waarsku hy.

Die akkuraatste manier om koors van minder as 38 °C te meet is met ’n digitale koorspen in die rektum. “Dis nie so akkuraat om koors in die oor te meet nie en daardie koorspenne is gewoonlik heelwat duurder.

Vir ouer kinders kan jy digitale koorspenne onder die tong sit – dis ook baie akkuraat mits jou kind nie kort tevore iets kouds of warms gedrink het nie en hy sy lippe kan toehou.”

Wanneer is koors gevaarlik?

Dit is moeilik om te bepaal, sê Wynand. Party kinders sal teen 38 °C al koorsstuipe kry, terwyl ander baie koorsiger moet wees voor hulle toevalle begin kry.

“Dis nie noodwendig die graad van die koors wat koorsstuipe veroorsaak nie, maar die spoed waarteen dit styg,” sê hy. As die koors maklik beheer kan word en daar nie ander gevaartekens is nie, kan jy maar 48 tot 72 uur (twee tot drie dae) wag voor jy die dokter raadpleeg.

Ná 48 tot 72 uur kan die dokter makliker onderskei tussen virusinfeksies – waarvan net die simptome behandel kan word – en bakteriese infeksies, wat met antibiotika behandel kan word.

Met babas kan jy dit egter nie waag om so lank te wag nie. Babas wat jonger as drie maande is en langer as 24 uur ’n koors van hoër as 38 °C het, moet dadelik dokter toe. Die sondaar is gewoonlik ’n bakteriese infeksie wat behandel moet word.

Babas tussen drie en ses maande wat langer as 24 uur ’n koors van hoër as 39 °C het, moet ook dokter toe gaan want dit dui waarskynlik ook op ’n bakteriese infeksie. Koors is gevaarliker vir babas as vir groter kinders omdat dit hulle makliker kan laat ontwater.

As ’n virus die sondaar is, kan jy die koors selfs vyf dae lank net beheer, mits daar nie ander gevaartekens is nie, sê Pieter. Onthou net dat koors wat lank aanhou, die liggaam se metabolisme vinniger laat werk. As jou kind dan nie goed eet nie, kan hy gewig verloor en baie moeg word en pap voel.

Koors is ernstig as jy sukkel om dit te laat daal, byvoorbeeld wanneer koorsmedisyne nie regtig help nie en die koors dalk ’n graad of wat sak maar dan ná drie uur weer van 38 °C tot 41 °C opkruip, sê Pieter.

Ander gevaartekens is dat jou kind weier om te drink en te eet, baie prikkelbaar is, hewige diarree het, baie naar is en opgooi, ernstig hoes of ’n veluitslag kry wat skielik verskyn en binne ure erger raak.

As jou kind die volgende simptome het, moet jy liewer na die hospitaal se noodafdeling gaan:

  • ’n Koors hoër as 41 °C
  • Moeilike, vlak of vinnige asemhaling
  • ’n Veluitslag van rooi of pers kolletjies wat in klein groepies voorkom
  • Ontwatering
  • Bewussynsvertroebeling
  • Stuiptrekkings
  • Aanhoudende braking
  • Aanhoudende hoofpyn

Hoewel koorsstuipe verskillende vorms aanneem, is die algemeenste die volgende:

  • Jou kind word stil of maak kreungeluide.
  • Jy kan nie sinvol met hom kommunikeer nie, veral nie deur oogkontak te maak nie.
  • Soms maak sy oë rukbewegings, sy hande vou oop en toe en sy arms en bene begin ruk.

Met koorsstuipe moet ’n kind op sy sy neergelê en so rustig moontlik gehou word. Moenie terwyl hy stuipe het medisyne probeer gee nie, want hy kan verstik. Sodra die stuipe verby is, kan jy die medisyne toedien en hom in ’n louwarm bad plaas om die koors te probeer breek.

Stroop of setpil?

As jou kind se koors tussen 37,8 °C en 38,5 °C is, is ’n koorsstropie gewoonlik al wat nodig is. As hy baie naar is en braak, is ’n parasetamol-setpil uiteraard ’n beter keuse as ’n stroop, sê Pieter.

As die koors hoër as 38,5 °C is en veral as dit by 39 °C begin trek, moet jy liewer setpille gebruik omdat dit vinniger werk. Setpille word meestal ingespan vir hardnekkige koors of by kinders wat braak. Die veiligste een is Empaped, sê Wynand.

“Dis belangrik om op die verskillende sterktes van setpille te let. Kinders wat minder as 10 kg weeg moet elke agt uur die 125 mg-Empapedpil kry, en dié wat meer as 10 kg weeg die 250 mg-pil, ook elke agt uur.

Mefenaamsuur- (soos Ponstan) en diclofenac- (soos Voltaren of Panamor) setpille moet net gegee word as daar geen ontwatering is nie. Om te bepaal of jou kind ontwater het, voel jy met jou vinger in sy mond of daar ’n klammigheid is. Wynand meen koorsmedikasie behoort net vir babas ouer as drie maande gegee word.

Parasetamolstrope het maksimum dosisse volgens ouderdom en as jou kind aansienlik groter of kleiner as sy ouderdomsgroep is, kan jy die dosis aanpas volgens die ouderdom van die klere wat hy dra.

Parasetamol werk deur die deel van die brein te beïnvloed wat temperatuur beheer. Dit help ook teen pyn deur die liggaam as geheel minder bewus van pyn of besering te maak.

Brufeen is ’n ander soort medisyne wat deel uitmaak die nie-steroïed-antiin ammatoriese middels (NSAID’s) en wat direk op die plek van die ontsteking teen die pyn werk. Dit kan ook koors help afbring.

Mense dink gewoonlik aan parasetamol as baie veilig, maar ’n mens kan daarvan ook ’n oordosis inkry wat jou lewer kan beskadig, waarsku Pieter. Te veel parasetamol kan ook stuipe veroorsaak en jou asemhaling onderdruk. ’n Oordosis NSAID’s kan weer nierskade en bloeding in die dermkanaal en elders veroorsaak.

Dis nie gevaarlik om te min van hierdie middels in te kry nie, behalwe dat dit dan natuurlik moeiliker is om vas te stel of jou kind goed daarop reageer. Nog ’n goeie manier om koors vas te vat, is om jou kind in louwarm badwater te bad.

“Die water moenie yskoud wees nie,” sê Pieter. “Staan of sit heeltyd by jou kind en probeer hom vyf minute lank met ’n lappie afspons.”

Dit sal ook help om hom water te laat drink, maar liewer eers nadat die koors tot onder 38 °C gedaal het. Nog ’n plan is natuurlik om te sorg dat jou kind nie te warm aangetrek is nie.

V&A met dr. Pieter Fourie

Baie ma's gee koorsmedisyne voor inentings of net daarna. Is dit reg so?

Koorsmedisyne help om die ongemak van die inenting te verlig, maar die middels is nie bedoel om as roetine ná ’n inenting gebruik te word nie. Gee dit liewer net as jou kind baie ongemaklik is en ’n hoë koors het.

Wat is 'n ongewone koors of simptome na 'n inenting?

Koors ná ’n inenting is meer algemeen in die eerste 24 uur, maar kan tot ’n week later nog voorkom. Dit duur gewoonlik nie langer as 24 uur nie. Gaan dokter toe as dit langer as 48 uur duur, want dan moet ander oorsake uitgeskakel word.

Hoe lyk tandekrykoors, en hoe verskil dit van koors weens virus- of beskteriese infeksies?

Tandekrykoors is gewoonlik laer as 38 °C en wys dat die tande pla. As dit langer as 72 uur duur, moet ander oorsake ook uitgeskakel word.

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees