Deel

Potjie-politiek

akkreditasie
Die meeste ouers kan nie wag vir die dag dat hulle nie meer doeke hoef te ruil nie, maar terselfdertyd is baie van ons doodbang vir potjielesse. Dis omdat kinders verskil en die potjieraad wat vir die bure se kleinspan gewerk het nie noodwendig vir jou kleuter sal werk nie. Maar al word elke kind teen sy eie pas droog, is daar tog ’n paar algemene riglyne wat jy kan volg om die proses aan te help.

Wat is die ideale ouderdom om met potjielesse te begin?

Potjielesse is op hul suksesvolste wanneer dogtertjies gemiddeld 32 maande oud is en seuntjies 36 maande. Moenie te haastig wees nie en begin eerder te laat as te vroeg.

Hoe weet ek my kind is gereed om te begin?

  • Hy is self bewus daarvan as hy piepie of poef en sê soms vir jou as hy wil gaan of besig is om te gaan.
  • Hy kan self sy broek op- en aftrek, hoewel dit soms maar skeef en krom is.
  • Hy stel belang in sy potjie.
  • Hy is geïnteresseerd daarin as jý die toilet besoek.
  • Hy het gereelde opelyf, meestal dieselfde tyd van die dag.
  • Hy moet al self kan praat en ten minste vir jou kan sê as hy ’n draai wil loop.
  • Moenie oorhaastig wees om met potjielesse te begin nie. Jou peuter ontwikkel gewoonlik eers teen 2 jaar oud genoeg beheer oor die spiere wat nodig is om urine in sy blasie te hou en dit dan willekeurig te laat uitvloei.

LET OP: Moet nooit potjielesse aan jou kind opdwing nie en wag tot hý belangstelling begin toon, soos dat hy jou begin na-aap.

Hoe lyk ’n tipiese dag waarop potjielesse plaasvind?

Gesels uit die staanspoor met jou kind en vertel hom wat vandag gaan gebeur. Wys hom waar die potjie is en sit dit op ’n plek waar dit altyd kan staan, soos langs die toilet.

Stel ’n wekker of alarm om elke uur af te gaan en neem hom elke uur toilet toe. Sorg dat hy baie vloeistowwe drink sodat sy blaas wel vol raak en maak ’n groot ophef van die suksesvolle pogings.

Moenie met hom raas as hy glipsies kry nie, nie eens as hy ’n hele paar ná mekaar kry nie. Potjielesse mag nie met negatiwiteit gepaardgaan nie; dit moet eerder ’n lekker speletjie wees. As die weer lekker is, kan hy sommer kaalbas in die tuin rondloop en dalk vir die pret blommetjies natpiepie.

Kry ’n spesiale speelding of ’n boekie waarmee hy mag speel net as hy op sy potjie sit. Moenie hom dwing om op die potjie te sit as hy nie meer wil nie, selfs al het niks gebeur nie. (Soms help dit om ’n kraan met water te laat loop.)

Hou hom dop sodat jy kan sien wanneer hy toilet toe wil gaan, soos wanneer hy sy penis vasknyp, sy beentjies kruis of begin rondtrippel.

Probeer om sy potjieroetine dieselfde te hou tuis as by ’n dagmoeder of die kleuterskool. Maak seker almal wat bedags na hom omsien, weet hy is besig met potjielesse. Baie speelgroepies en kleuterskole het gewoonlik groot sukses met potjielesse omdat hulle die kinders gereeld saam-saam toilet toe neem. As hy dus oor ’n paar maande skool toe gaan, is dit dalk ’n goeie plan om eers ’n bietjie te wag.

Hoe lank duur dit gewoonlik voor ’n kind die potjie kan gebruik?

Dit verskil van kind tot kind ... maar moenie verwag dat dit binne ’n week of twee gaan gebeur nie. Wees rustig en moenie ’n spertyd stel nie. Begin stelselmatig, sê maar soggens wanneer julle albei rustig tuis is, en rek geleidelik die tye waarin hy sonder ’n doek loop.

Sit aan die begin steeds ’n doek aan wanneer julle uitstappies onderneem omdat hy dalk so meegevoer kan raak deur al die bedrywighede dat hy skoon vergeet om te pieps.

Vaar kinders regtig in die somer beter met potjielesse as in die winter?

Ja. In die winter dra ons dikwels ’n paar lae klere en somerklere is outomaties ligter en makliker om uit te trek. En wie is nou lus om jou boudjies aan die koue bloot te stel as jy dit nie hoef te doen nie?

My kind was so te sê heeltemal van die doeke af, net om skielik te weier om in die potjie te piepie. Wat nou?

Dit gebeur taamlik dikwels. Aanvaar dat terugslae algemeen is, veral as daar ’n verandering in jul huishouding plaasvind of selfs net as hy dalk oormoeg is. Staak die potjielesse vir ’n week en probeer dan stelselmatig weer.

Hoe gemaak as ons iewers heen reis?

Besoek openbare toilette selfs voor julle met potjielesse begin sodat hy gewoond raak aan die idee. As hy bang is vir ’n groot toilet kan jy op jou hurke voor hom sit en sy lyfie stewig vashou sodat hy veilig voel.

Wat van ’n nagdoek?

Baie kinders is al maande (soms ’n jaar of twee) lank bedags droog, maar kry nog glipsies in die nag. Dis heeltemal normaal omdat die meeste kinders se blase nog nie genoeg ontwikkel het om al die vloeistof ’n hele nag lank binne te hou nie.

Jy sal mettertyd begin agterkom dat hy soms soggens met ’n droë doek wakker word en wanneer hy ’n paar oggende ná mekaar droog wakker word, kan jy daaraan begin dink om die nagdoek te los. Seuntjies het gewoonlik meer tyd nodig om snags sonder ’n doek te slaap as dogtertjies.

Beperk vloeistofinname voor hy gaan slaap, maar moenie hom dors of ongemaklik laat gaan slaap nie.

Neem hom vir ’n laaste pieps voor hy gaan slaap en as jy wil kan jy hom selfs weer neem voor jý gaan slaap – hoewel party kenners meen dis beter om ’n kind te leer om ononderbroke te slaap sonder om ’n draai te gaan loop.

Aanvaar dat daar selfs ’n paar jaar lank nog glipsies in die nag gaan wees. Skaf ’n ordentlike waterdigte laken aan om die matras te beskerm en moenie met hom raas as hy ’n glipsie gehad het nie.

Los ’n naglig in die kamer aan sodat hy snags sonder vrees kan opstaan as hy wil gaan piepie.

Wat as boeta weier om te staan en piepie?

Die meeste seuntjies sit lank op die potjie of toilet voor hulle soos Pappa staan en piepie. Dis heeltemal normaal. Onthou, seuntjies begin meestal later as dogtertjies met potjielesse omdat hulle fisiek later eers beheer oor hul ingewande en blaas kry.

Moet ek my kind beloon elke keer as hy sukses behaal?

Party ouers hou daarvan om kinders met ’n speelding of iets lekkers te beloon, maar dit kan ’n verwagting skep dat hy altyd ’n beloning gaan kry vir elke suksesvolle potjie-episode.

Gee eerder ’n beloning as hy ’n hele dag lank droog was en verminder dit stelselmatig.

Moet ek doeke gebruik wat spesiaal ontwerp is vir potjielesse en wat soos ’n broekie aan- en uitgetrek kan word?

Sommige ma’s sweer by hierdie doeke vir vinnige sukses, terwyl ander se raad is dat dit glad nie gebruik moet word nie omdat dit die vloeistof so goed absorbeer dat die leerdertjie glad nie agterkom hy is nat en ongemaklik nie.

Daar is oulike handdoekstof-kleinbroekies en -onderbroeke beskikbaar spesiaal vir potjielesse.

My kind piepie mooi in die potjie, maar ons kry nie die poewe reg nie. Is dit normaal?

Dis soms baie makliker om jou blaasspier te beheer as jou rektum en daarom is dit aanvanklik vir kleintjies moeilik om albei funksies gelyktydig te bemeester. Sommige kleintjies vind die gedagte vreemd dat ’n poef in ’n toilet afval en die water wat spat kan hulle nog banger maak. Hou dus eerder ’n potjie byderhand en laat hom sommer ’n bietjie voor die TV sit en druk as jy vermoed dit is tyd vir opelyf.

Bronne: Kid-wrangling deur Kaz Cooke (Penguin Books, 2003); Ken Jou Kind deur dr. Miriam Stoppard (Struik, 1991

Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees