Deel

Mastitis: Alles wat jy moet weet

akkreditasie
As jou borste warm gloei en kliphard is, en jou baba kry nie vasgeheg om haar honger te stil nie, het jy dalk mastitis. Maak seker jy weet wat dit is en hoe om dit te voorkom en te behandel.

Wat is mastitis?

Mastitis is ’n borsontsteking wat enige vrou kan oorkom, maar wat die algemeenste is in die eerste ses maande van borsvoeding.

Mastitis – of melkkoors, soos die ou mense dit genoem het – ontstaan wanneer die weefsel in een of albei melkkliere in die bors ontsteek.

“Die verskil tussen verstopte melkbuisies en mastitis is die verkouesimptome en koors wat met mastitis gepaardgaan,” sê die Johannesburgse klinieksuster Sue James.

Dit begin dikwels met borsmelk wat in jou borsweefsel agterbly weens ’n verstopte melkbuisie of ’n probleem met borsvoeding en word in dié stadium onbesmette mastitis genoem.

Dink aan jou melkbuisies as ’n rivier en ’n stilstaande poel: Albei is vol kieme, maar in die rivier spoel die kieme deur en uit terwyl dit in die stilstaande poel kans kry om te vermeerder.

As dit nie behandel word nie, kan die borsweefsel met bakterieë besmet word, wat dan tot besmette mastitis kan lei. Besmette mastitis moet so gou moontlik behandel word om komplikasies soos ’n abses in die bors te voorkom.

Hoekom gebeur dit?

Enige ma kan enige tyd mastitis opdoen, maar veral in die eerste twee maande van borsvoeding. Ná twee maande word baba se voedingspatrone meer gereeld en dit kan help om mastitis te voorkom. Mastitis ontwikkel as die bors oorvol en verstop raak of nie behoorlik leeggesuig word nie.

Wees dus veral versigtig wanneer jou melk net inkom. Oorvulling kan veroorsaak dat die melk in die borsweefsel inlek (melkstasis) pleks daarvan dat dit dreineer. Bakterieë kan dan deur gebarste tepels dring en die toestand vererger.

Jy sal meer geneig wees om mastitis op te doen as jy bloedarmoedig is omdat jy vinniger moeg word en dit verlaag jou weerstand teen infeksies soos mastitis.

As jy ’n tepelskild, borsdoekies of ander borsvoed-hulpmiddels gebruik, kan dit jou melkvloei inperk en kieme op die tepel-area laat vermeerder, wat die kans van infeksie verhoog.

Enigiets wat verhinder dat die melk by die bors uitkom, kan melkstasis en verstopte buise veroorsaak. Tot ’n bra wat te styf sit of swak pas, kan die melkbuise laat verstop. Dit kan ook gebeur wanneer die bors te styf vasgehou word tydens voedings, of wanneer daar trauma aan die bors is soos wanneer ’n kleuter daarteen skop of ’n sitplekgordel dit vasdruk.

Melkstasis kan deur die volgende veroorsaak word:

  • ¬’n baba wat nie behoorlik aan die bors heg tydens voeding nie,
  • ’n baba wat sukkel om die melk uit die bors te suig,
  • ’n baba wat nie gereeld genoeg gevoed word nie, of
  • melkbuise wat verstop weens druk.

Wat is die simptome?

Jy sal ’n harde, seer plek binne-in jou bors voel en simptome sluit in:

  • ¬rooiheid en swelling van die bors,
  • ’n brandende gevoel binne-in die bors,
  • koors en verkouesimptome soos liggaamspyn, naarheid, braking en rillings.

Die vel kan styf en blink lyk, met rooi strepe, en die tepel kan etter produseer. As die mastitis verder ontwikkel, kan jy ook pyn in die limfkliere onder jou arms voel.

Behandeling

Mastitis sal nie sonder behandeling verdwyn nie. Jou dokter sal ’n antibiotikum voorskryf om die ontsteking stop te sit en jou aanmoedig om aan te hou borsvoed. Die antibiotikum sal in jou melk beland en dit kan veroorsaak dat jou baba ’n loopmaag kry en rusteloos raak.

Volgens medici kan dit jou baba nie enige skade doen nie en die newe-effekte sal verdwyn die oomblik dat jy die kursus voltooi.

Antibiotika is nie altyd nodig nie. As jy die verstopte melkbuisies so vinnig moontlik kan behandel met die tegnieke wat ons op die oorkantste bladsy beskryf, behoort jy dit binne 24 uur suksesvol af te weer.

Sou jou simptome nie binne 12 tot 24 uur verbeter nie, of as jy skielik baie siek word met ’n hoë koors, is antibiotika onvermydelik. Gebruik ook ’n probiotikum om die risiko van sproei te verlaag.

Herhaalde episodes

Probleme met herhaalde gevalle van mastitis is gewoonlik die gevolg van ongereelde borsvoedingspatrone. Dit kan ook beteken jou immuunstelsel is in die algemeen swak weens moegheid en spanning.

Dis ’n teken dat jy jou leefstyl en borsvoedingspatrone in heroënskou moet neem en veranderinge moet aanbring. As jy jou baba gereeld (tussen agt en 12 keer per dag) voed, sal jy jou melkvoorraad onderhou en sorg dat jou borste gesond bly.

Wat moet jy doen?

Die beste plan is om ’n verstopte melkbuisie reg te ruk voor dit tot mastitis lei. Tree dus voorkomend op.

Moet egter nie daaraan dink om op te hou borsvoed terwyl jy met borsontsteking sukkel nie, sê die klinieksuster Sue James. Dit kan nog meer komplikasies veroorsaak, soos ’n abses in jou bors. Dis heeltemal veilig vir jou en jou baba as jy borsvoed terwyl jy mastitis het.

Die melk uit ’n bors met in¬ammasie is veilig omdat borsmelk teenliggaampies bevat wat jou baba teen siektes en infeksies beskerm.

Jou kleinding kan wel knieserig raak en weier om die melk te drink omdat dit gewoonlik soet proe, maar weens die infeksie dit nou ’n souterige smaak het. As baba heeltemal weier om die bors te neem, moet jy met ’n borspomp uitmelk.

Hier ’s wat kan help:

  • Laat jou baba eerste aan die seer bors drink. As dit te seer is, wag tot net nadat die melk afgekom het en laat hom dan suig. Sue sê daar is geen beter manier om ’n verstopte melkbuisie oop te kry as met gereelde suigkrag nie. Kenners is dit eens dat borsvoeding die beste medisyne vir mastitis is.
  • Maak ook seker dat jou baba reg geposisioneer is en korrek aan die bors heg.
  • Gevriesde koolblare sal baie help om jou seer borste te laaf.
  • Eksperimenteer met voedposisies en stel vas wat vir jou die gemaklikste is.
  • Masseer jou bors sagkens maar ferm van die verstopte buisarea na die tepel toe. Jy kan ook probeer om jou baba te voed terwyl jy vorentoe leun sodat swaartekrag van die verstopping ontslae kan help raak.
  • Plaas warm en koue kompresse afwisselend op jou bors, sê Sue. Gebruik warm druk net voor ’n voeding om melkvloei te stimuleer (’n warm stort, waslap of warmwatersak werk goed) en gebruik koue druk, soos ’n yspak of koue jelpak, tussen voedings om die pyn en ontsteking te verlig.
  • Druk die oorblywende melk ná ’n voeding met jou hand of ’n borspomp uit om seker te maak dat die melk dreineer.
  • Dra los klere.
  • Simptome kan met parasetamol of ibuprofeen verlig word, wat jy oor die toonbank kan koop. Daar sal ’n bietjie in jou melk beland, maar nie genoeg om jou baba skade te doen nie. Moenie aspirien drink nie.
Jongste uitgawe

Februarie tot Mei 2024

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees